“Waarheen sal ons gaan?” het Margo gesê nadat haar man aangekondig het dis tyd vir ‘n romantiese wegbreek. “Ek weet nie, kyk ‘n bietjie op een van die apps.”
Margo het begin soek, en na ‘n halfuur oorweldig gevoel. Daar is so baie opsies. “Ek weet nie, miskien moet ons sommer iets by die huis doen.”
Dit is iets wat meer gereeld gebeur as wat jy dalk besef. Daar is altyd ‘n klein risiko om ‘n plek te kies – dit is baie geld en jou hoop dat dit perfek gaan wees kan jou soms ontmoedig om die ‘bespreek’ knoppie te druk.
Met hierdie tameletjie in gedagte, het INTIEM die hulp van Lekkeslaap ingeroep en bring ons vir jou vir die volgende paar maande voorstelle van romantiese wegbreekplekke!
Kyk gerus, lees die terugvoer van ander wat al daar was, en druk die bespreek knoppie!
Serenity Mountain and Forest Lodge — Mpumalanga
As julle op soek is na ’n wegbreek in ’n woud is Serenity Mountain and Forest Lodge buite Malelane die perfekte keuse. Die verblyf is minder as ’n uur se ry vanaf die Malelane-hek en daar is ’n verskeidenheid sprokiesagtige suites. Julle kan heerlik in die natuur ontspan en die twee gemerkte roetes langs die stroom verken. Boonop is daar piekniekareas, ’n swembad en ’n spa – wat wil jy nou meer hê!
Bushveld Bivouac Lillie — Limpopo
Bushveld Bivouac Lillie is op ’n 300 hektaar-plaas met ’n groot verskeidenheid kleinwild geleë. Die afgeleë ligging laat gaste voel asof hulle na hul eie kleindorpie wegbreek met net die Bosveld wat hul omring. Boonop is hierdie plaas ook onafhanklik van die tradisionele kragnetwerk. Daar is slaapplek in die privaat tent en gaste kan in die plonspoel afkoel of ’n lekker tjoppie oor die kole gooi terwyl die natuur hulle bekoor.
The Stargazing Cube — Oos-Kaap
By hierdie glanskamp-eenheid skei net ’n deursigtige plafon jou van die hemelruim. Die unieke The Stargazing Cube is een van drie spoggerige eenhede wat deel van die Misty Mountain-reservaat in Tsitsikamma vorm en perfek vir ’n paartjie wat die stad se gedruis vir natuurklanke wil verruil sonder om luuksheid en gerief prys te gee. Daar is ’n toegeruste kombuisie en gordyne vir privaatheid en die beste deel is die bed wat na buite kan skuif sodat julle behóórlik een met natuur kan word, ongeag die weer. Buite is daar ’n houtdek met stoele, ’n hangmat en nabygeleë staproetes wat verken kan word.
Eagle View 1 — Mpumalanga
Dié eenheid doen sy naam gestand — die uitsig vanaf Eagle View 1 laat jou voel asof jy soos ’n arend oor die landskap sweef. Dié luukse oopplan-huisie skuil op ’n koppie in die Steenkampbergreeks en word deur ’n asemrowende berguitsig en welige groen heuwels omring. Bewonder dié landskap vanuit die houtvuurwarmbad of groet die dag met ’n skemerkelkie op die dek soos die son die Highlands Meander in die verte met ’n kleurvolle palet inkleur. As julle liefs ’n koeler dag binnenshuis wil deurbring, kan julle steeds die “vier mure” laat verdwyn deur die enorme glasdeure oop te skuif en die vars bergbriesie verwelkom.
The Stoke House — Vrystaat
Ontdek die bekoring van Clarens se middedorp met selfsorgverblyf by The Stoke House. Hierdie huis is ideaal vir diegene wat lief is vir die natuur en saam met hulle troeteldiere reis. Dit bied knus blyplek wat net ’n hanetreetjie vanaf die dorpsplein en die roetes in die Clarens-bewarea geleë is. Daar is ’n groot stoep met ’n braai waar julle luilekker kan kuier en die avontuurlustiges kan aktiwiteite soos bergfiets-, velddraf- en voetslaanroetes en die natuurskoon van die Malutiberge verken.
Cottage Pie — Vrystaat
Clarens se skilderagtige natuurskoon en roetes is genoeg rede om jou volgende romantiese wegbreek hiér te bespreek, maar Cottage Pie, waar die getjirp van die voëltjies en die briesie deur die bome sing, sal jou beslis oortuig. Dié knus troetelvriendelike huisie nooi verliefde paartjies uit om te ontspan — of dit nou met ’n glasie wyn op die stoep is, in die houtvuurwarmbad onder die sterrehemel, of op ’n voetslaanroete in die natuur, elke oomblik voel betowerend.
Fynbosrust — Wes-Kaap
Fynbosrust pronk aan die voet van die Bainskloofberge en vir ’n spoggerige sonsopkoms en -ondergang is hierdie huis met ’n uitsig oor die Slanghoekvallei nét die regte plek. Daar is lugversorging vir die somer en ’n knetterende kaggel in die leefarea sodat jy tydens winter van die koue kan vergeet terwyl jy die sneeu op die berge bewonder. Buite is daar braaigeriewe op die dek waar herinneringe en stories gedeel kan word. Verder is die huis naby verskeie aktiwiteite in die omgewing en daarom ook ideaal vir diegene wat nie sommer stilsit nie.
Rivergate Woodrose Cottage — Wes-Kaap
Dié knus, ronde kothuis bied B&B-verblyf aan ’n paartjie op ’n plaas langs die skilderagtige Kleinrivier naby Stanford. Rivergate Woodrose Cottage het ’n privaat dek met ’n ingeboude braai en ’n KolKol-houtvuurwarmbad wat perfek vir ’n romantiese aand onder die sterre is. Hiér het julle toegang tot ’n restaurant op die perseel en aktiwiteite soos visvang, kanovaart en wynproe, én julle kan braaimandjies en kaasborde bestel om by die kothuis aan te smul nadat julle die bekoorlike dorpie se juwele verken het.
The Rosendal Country Retreat — Vrystaat
Die bekoorlike plaasdorpie Rosendal is ideaal vir ’n naweekwegbreek buite Johannesburg en The Rosendal Country Retreat maak dit duidelik waarom reisigers keer op keer terugkom: ’n gesellige kaggel, houtvuurwarmbad en ’n ongelooflike tuinuitsig met ’n nostalgiese stilte wat eie aan ’n plaasdorpie is. Maar as jou voete vir ’n bietjie avontuur jeuk,
maak ’n draai in die dorp wat met kunsgalerye en koffiewinkels besaai is, of kies koers na die berge om die natuur te voet of per fiets te bewonder.
The Meadow Cottage — Limpopo
The Meadow Cottage skuil in die Sequoia Garden Retreat in ’n vallei in Haenertsburg wat deur die heuwels van Magoebaskloof omring word. Dié luukse selfsorg-klipkothuis slaan die spyker op die kop as jy na ’n rustige, stil wegbreek op soek is. Dit is in lang weiveldgras langs ’n prentjiemooi dam versteek waar die natuurklanke daagliks sing. Gaste kan forel of baars in die damme vang, ’n vleisie oor die kole gooi of piekniek hou in die ongerepte of formele tuine van ses hektaar en die vreedsaamheid van die berge in die lowerryke Laeveld behoorlik ervaar.