Suid-Afrika se werkloosheidskoers staan op meer as 24%, ’n skreiende realiteit vir broodwinners. Dié ekonomiese werklikheid beteken dat paartjies dikwels moet aanpas by werksverpligtinge, wat soms reis en langafstand-reëlings insluit. ’n Merkwaardige vrou vertel hoe sy haar langafstand-huwelik laat floreer ten spyte van die uitdagings wat dit meebring.
Esré (46) en Kurt (45) Ackermann was bykans nege jaar getroud toe sy werk hom as kommersiële lugduiker na die Nigeriese olievelde gestuur het. Hy is later bevorder tot ondernemingsverteenwoordiger.
Kurt se verpligtinge hou hom vir vyf weke lank op ’n baggerboot, afgewissel met vyf weke terug, tuis in Suid-Afrika.
Selfs al het hulle gereeld gesels via e-pos en Skype, het die langafstand-verhouding sy tol begin eis. Esré het stadig maar seker begin agterkom hulle praat meestal oor oppervlakkige en praktiese onderwerpe, en dat die intimiteit tussen hulle begin wegkwyn. Hulle moes mekaar van voor af leer ken.
Uit die oog . . . IN die hart!
“Vandat Kurt in Nigerië begin werk het, het ons besef ons sal moeite moet doen om ons verhouding gesond te hou en dit te laat groei, te midde van die situasie waarin ons onsself bevind. Ons het ingesien dat kommunikasie een van die belangrikste sleutels daarvoor is.”
Esré het spontaan begin om meer uit te vra oor Kurt se lewe, idees en sieninge. “Ek wou meer weet van die siel binne-in my man. Wat het hom aangetrek tot my? Wat was sy persepsie van my toe hy my ontmoet het? Watter verwagtinge het hy gekoester van ons verhouding voor ons troue? Ons het veral gesels oor geestelike en emosionele dinge, die sement van ’n verhouding.”
Esré vertel hoe sy en Kurt praat-fiks geraak het soos wat hulle al hoe wyer en dieper begin uitvra het oor mekaar. Hulle verhouding het verbreed en beide het ’n nuwe dimensie in mekaar as maats ervaar. “Ons het later besef dat daar nou iets ‘anders’ in ons verhouding is wat nie altyd daar was nie.”
“God gee vir my ’n idee”
Maande nadat hulle die positiewe groei in hul verhouding begin ervaar het, het Esré een nag uit die bloute wakker geword met ’n a-ha-oomblik. “Ek het ’n idee gekry, in baie detail, oor hoe om ons geselstegniek om te skakel in ’n speletjie wat ander egpare ook kan help.”
Sy glo met haar hele hart dat God hierdie idee in haar hart kom plaas het. “Ek was nie op die uitkyk vir iets om te doen nie, ek wou net ’n wonderlike vrou wees vir my man!” Sy het die volgende oggend opgestaan en vir Kurt vertel dat sy al die vrae wat hulle ingespan het om mekaar beter te leer ken, op kaartjies wil laat druk om ’n speletjie te ontwikkel wat paartjies sal aanmoedig om betekenisvol te kommunikeer.
En só het Dare2Share in September 2009 die lig gesien. Die speletjie bestaan uit 238 kaartjies met verskeie vrae wat fokus op ’n groot verskeidenheid temas. “Die vrae bevat onderwerpe van enige denkbare faset wat die huwelik raak. Van drome, ideale, kinders grootmaak, jou grootword-agtergrond, seksuele voorkeure, kinderloosheid, versorging van ouers, menopouse, lae libido, onverwerkte trauma, aftrede en so meer,” vertel Esré. Al die vrae is op beide mans en vrouens van toepassing.
Van inspirasie tot aksie
Om die speletjie suksesvol saam te stel, het Esré begin deur die e-posse wat sy en Kurt oor en weer gestuur het, deur te gaan. Van daar af het sy inspirasie geput uit verskeie bronne. “Ek het my stiltetyd-joernale weer deurgewerk. Ek was op die uitkyk vir opskrifte op tydskrifvoorblaaie. Ek het gaan sit en ’n lys gemaak van watter onderwerpe nodig is om oor te kan gesels binne die huwelik, wat paartjies nie noodwendig doen nie.”
Sy het ook haar vriendekring by die projek betrek. “Ek het ’n paar vriendinne destyds ingetrek, wat my gehelp het met die deurlees van die rou produk, en hulle het voortdurend met oulike voorstelle gekom.”
Esré vertel dat die vrae slegs riglyne is om gesprekke aan die gang te sit, en dat die kaartjies ideaal sal lei tot spontane opvolgvrae en eerlike gesprekke met mekaar. “Die idee is om te leer om jou hart met jou maat op ’n dieper vlak te deel, om te leer luister, om van mekaar te leer en ook te bid en te groei na emosionele volwassenheid.”
Esré se raad: Hoe om ’n langafstand-huwelik te laat werk:
• Respekteer mekaar en leef deursigtig.
• Maak tyd vir mekaar ’n prioriteit.
• Verstaan die noodsaaklikheid van eenheid binne die huwelik.
• Kommunikasie is deurslaggewend! Julle moet saam kan lag en oor lighartige dinge gesels, maar ook kan praat oor dinge wat tot op die been sny.
• Sien mekaar as ’n span, elkeen met sy/haar eie rol.
• Besef julle het mekaar nodig en ondersteun mekaar.
• Bou aan ’n ondersteuningstruktuur vir die maat wat tuis bly, die huishouding moet aanhou bestuur en die kinders dag tot dag deursien.
• Moenie wegskram van konflik af nie. Hanteer dit eerder nugter, kalm en liefdevol.
• Deel julle behoeftes, frustrasies, irritasies, vreugdes en hartseer met mekaar.
• Gesels gereeld oor julle verhouding en probeer om jaarliks ’n kursus of seminaar by te woon om julle huwelik te versterk.
Kry inspirasie en vra vir jou maat dié vrae:
• Geniet jy jou werk? Is dit vir jou vervullend of sal jy graag iets anders wil doen?
• As jy môre die Lotto wen, wat sal jy doen met daardie geld?
• Watter stokperdjies of sportsoort sou jy graag wou probeer? Hoe kan ek jou ondersteun om dit vir jou te laat realiseer?
• Wie was jou kindertyd-held of -heldin?
• Hoe is konflik hanteer in jou gesin toe jy ’n kind was?
• Hoe belangrik is Christenskap in jou lewe? Wat dink jy is die kern van Christenskap?
• Wat dink jy is die rol van ’n man/vrou in vandag se huwelik en samelewing?
• Hoe voel jy oor ons finansiële posisie?
• Wat is die belangrikste waardes wat jy vir ons (toekomstige) kinders wil leer?
• Is jy ooit seksueel misbruik as kind? Sou jy daaroor wil gesels?
• Hoe kan ek jou seksueel veilig en gemaklik laat voel?
• Verkies jy om leiding te neem as ons seks het?
• Is jy gemaklik om te eksperimenteer met seksuele hulpmiddels?
Artikel deur ANJA VAN DEN BERG