Simon Rademan, skrywer van The Style Bible, is ’n meester met aand- en troudrag, en deel eksklusief 2018 se mode- en stylneigings met INTIEM.

Promosie

Ek word gereeld gevra of Suid Afrika “voor” of “agter” is met modes, en ek skud gereeld my kop in ’n diagonale lyn. Soms “ja” en soms “nee”, en hier is die rede vir dié maand se kitsgids tot styl: Hoe jy voel wanneer jy aangetrek is, moet belangriker wees as wat ander mense van modeneigings dink.

Met selfrespek kom waardevolle kennis van onvoorwaardelike styl. Jy word onmiddellik 1cm langer, kyk die wêreld vierkantig in die oë en maak outomaties seker jy verskyn nie in die openbaar met jou nagklere aan nie. Niks hang uit, bult oor, skyn deur en laat ander bloos nie.

Daar is sewe kontinente in die wêreld om van te kies as dit by modeneigings kom. Almal is voor EN almal is agter, maar die wêreld is aan jou voete. Bewegings soos die #metoo– en #timesup-groepe bring eenheid op die voorgrond, en vroue en mans staan saam soos nog nooit tevore nie. Dit beïnvloed modes op ’n baie goeie en respekvolle manier, en indien jy hierdie seisoen stylvol wil wees, sal jy nie alle style tegelyk uitprobeer nie.

Promosie

Straatmodes is ’n mengsel van enigiets wat van oral in die wêreld kom, maar ek wil voorstel dat jy seker maak of jy een van die massas wil wees wat plakkies, drafskoene en afgesnyde denims met T-hemp boodskappe dra . . . en of jy wil uitstaan vir die regte rede.

Kies ’n neklyn wat jou vrouwees vlei. Kyk vir jouself in die spieël en kyk waarnatoe jou oog gelei word. Jou sleutelbene, jou skouerlyn, die kleur van jou vel, die vorm van jou ken, die buitelyne van jou gesig. “Cleavages” is baie belangrik, dalk vir jou én vir hom, maar dis nie nodig om die onderkant van jou buuste te “verkoop” nie. Los dit eerder vir ander op die rooi tapyt.

Laat hom die broek dra, maar dra jy die baadjie. Moenie vergeet waarom jy ’n baadjie kies nie – wat jy onder dit dra bly steeds belangrik, nou meer as ooit tevore. Gee jou vroulike vorm woema deur ’n stywer, helderder of interessanter bostuk onder die baadjie te dra, en laat die verbeelding seëvier deur almal te laat wonder wat jou bates is pleks van om jou vroulikheid te koop aan te bied.

Bepaal self of jy gemaklik is met die styl deur ’n “belfie” (“back” + selfie) te neem (die nuwe woord wat onnodige argumente voorkom). Sonder om hom te vra wat hy dink, kan jy met groot selfvertroue vandag na ’n foto kyk van hoe jy van agter af lyk. Indien hy jou wil komplimenteer, sal hy.

Dit is belangrik, want selfvertroue behoort nie van ander mense se menings af te hang nie. Indien jy twyfel, is jy dalk reeds op die verkeerde spoor. As jy voel wat jy dra is respekvol teenoor jouself, is dit makliker om ander se respek af te dwing.

Hier is jou kitsgids vir 2018 (sewe kontinente) indien jy eerder voor as agter wil wees:
• Die tagtigs is nie weg nie, maar dit beteken gelukkig nie jy moet skouerkussings dra nie.
• Blok-kleurwerk is steeds hier, met prominente kleure soos ultraviolet-pers en fuchsia.
• Juwele is kleiner, en mense spog minder met hul welstand.
• Bykomstighede soos handsakke is kleiner sodat fone makliker gevind kan word en haarstyle is netjieser. Dis gekam en meer georganiseerd, maar jy kan kies of jou hare lank of kort, gekrul of reguit, gekleur of natuurlik moet wees.
• Niemand kruip agter sonbrille weg nie, en oogkontak maak jou ’n wenner met goed beplande sagte grimering.
• Dit is ’n fantastiese tyd om vrouwees te vier – dit was nog altyd, en terwyl jy meer as ooit tevore die prentjie gaan wees, gaan hy steeds die raamwerk wees.

Volg my gerus op sosiale media op Facebook, Twitter en LinkedIn by @simonrademan.
012 460 5106
www.simonrademan.co.za