Elke man is eintlik nog ’n kind in grootmensskoene. En waarvan hou elke kind wat jy ken? ’n Lekker verrassing. Ons gee jou tien idees vir hoe om manlief uit daardie grootmensskoene te verras!

Promosie
  1. Maak hom koning vir die dag!

Ons weet jy is ’n selfstandige, sterk vrou wat nie skrik daarvoor om ’n muis te vang of ’n boor te hanteer nie, maar verbeel jou vir een dag julle leef in die Middeleeue toe vroue nog damsels in distress was en manne konings, ridders en skurke. Besluit om manlief vir een dag soos ’n koning te behandel! Kook sy gunsteling ontbyt, haal sy klere uit en sit dit op sy bed, dra vir hom kos en drinkgoed aan, masseer sy voete . . . Hoe lyk sy perfekte dag? Gee dit vir hom!

  1. Herstel daardie moeë Lazy Boy.

Ja, daar is ’n aantal items in die huis wat heeltemal verby hul vervaldatum is en wat jy iemand anders sal betáál om te vat, maar om die een of ander rede het manlief ’n vreemde verknogtheid hieraan. Soos daardie lelike ou leunstoel, die trui wat hy op universiteit gedra het, sy stukkende pet met die bier-handelsnaam op . . . In plaas daarvan om weer te kla oor wat die goed nog in die huis soek, neem sy gunsteling voos-items en laat herstel dit. Aanvanklik sal hy waarskynlik jou koors wil neem, maar die oomblik wat hy agterkom dit was ’n liefdesdaad van jou kant af, gaan hy jou voete soen!

  1. Hou waterkaskenades by die huis.

Soms loop die spanning hoog en al wat ’n mens nodig het, is om ’n bietjie af te skakel en pret te hê. Maar pret is duur! Of is dit? Neem ’n emmer en maak dit vol waterballonne en ’n watergeweer. Los vir manlief die emmer by die deur waar hy by die huis instap saam met ’n nota wat sê: “Jy het presies 60 sekondes om ontslae te raak van al jou nie-waterbestande items, ek wag vir jou in die agterplaas . . .”

Promosie
  1. Maak ’n pak kaarte met betekenis.

Koop ’n gewone pakkie kaarte en modge-podge elke kaart met spesiale foto’s en notas. Jy kan ook jou projek ’n tema gee, soos: “Hoekom ek steeds so lief is vir jou” of “Alles van jou wat my steeds vlinders op my maag gee”. Sodra jy elke kaart gemodge-podge het, kan jy ’n gaatjie in elkeen steek en al die kaarte met ’n lint bymekaarmaak voor jy hom daarmee verras!

  1. Al die fliek Yes Man gekyk?

Maak sy verjaardag of enige ander dag spesiaal deur daarvan ’n Yes-dag te maak. Op alles wat manlief voorstel of sê, moet jy positief antwoord! Manlief sal gou die strategie van die speletjie snap en soveel moontlik voordeel hieruit wil trek. Dis groot pret en goeie woema vir jul huwelik!

  1. Verras manlief met seks.

’n Vrou wat seks inisieer, is ’n man se fantasie. En ’n vrou wat dit doen wanneer hy dit die minste verwag . . . boom! Maak hom wakker in die middel van die nag of stel jou wekker en soen hom ’n halfuur vroeër as gewoonlik wakker. Of reël kinderoppassers en beplan ’n heeldag-seks geleentheid (kort dit af na HDSG in sy dagboek).

  1. Verras hom met musiek.

Dra ’n liedjie aan hom op op sy gunsteling radiostasie op ’n dag en tyd wat jy weet hy radio luister. Of laai sy gunsteling nuwe liedjie af op sy selfoon. Maak ’n outydse mixed tape of neem hom na ’n konsert van sy gunsteling kunstenaar.

  1. Word papsop-waternat!

Spring saam met manlief in die stort wanneer hy dink jy is in die kombuis. Betrap hom van agter af terwyl hy hare was en sy oë nat is en fluister in sy ore. Dis miskien wys om vir hom te fluister sodra jy die stortdeur oopmaak om te keer dat jý ’n veeg vir ’n verrassing kry!

  1. Trek mooi aan.

Laat verf jou naels, laat doen jou hare en trek jou heel mooiste rok en hakke aan om hom by die deur te groet. (Dit is nou te sê ás jy vroeër as hy van die werk af kom en nog krag het om dress-up te speel!) ’n Man hou daarvan as sy vrou vir hóm aantrek. (En natuurlik is dit ’n bonus as jy net daarna die rokkie van jou skouers af laat glip en op die vloer laat val . . . en ontdek: Oeps, jy het skoon van onderklere vergeet!)

  1. Gaan saam met hom Loftus toe.

Ja, dit is dalk nie jou koppie tee nie, maar as sport vir hom belangrik is, koop kaartjies na sy gunsteling game en sê dat jy dit graag een keer saam met hom wil beleef. Dra sy span se trui en skreeu entoesiasties saam (al verstaan jy nie die spel nie). Die adrenalien sal julle goed doen en die feit dat jy (lyk of jy) dit geniet, sal vir hom super-spesiaal wees!

 

Deur Annelize Steyn