As ’n buite-egtelike verhouding dreig om jul huwelik te vernietig, wéét dat die pad na herstel lank gaan wees. Daar is egter wel tien noodstappe wat julle kan neem om dinge so draagbaar as moontlik te maak.

Promosie

“Gaan ons dit maak?” vra sy my, en ek kan sien haar hartseer weeg ’n ton. ’n Ongenooide gas, “die ander vrou”, het onverwags in hulle huwelik ingestap en alles verwoes. Altesaam 13 jaar se drome, verwagtings en herinneringe lê aan skerwe. “Gaan ons dit maak?” vra sy my weer terwyl hy verdwaas en leweloos na die vloer staar.

Ek antwoord haar versigtig: “Ek weet nie. Sommige pare maak dit, ander nie. Soms is die hartseer net te diep, en ander kere is die mens se vermoë tot vergifnis so groot dat ’n paartjie deur diep waters kan swem. Wat ek wél weet, is dat dít wat julle in die volgende paar weke gaan doen, julle sleutel tot genesing en konneksie sal wees.”

1. Verbreek alle kontak met die “ander party”.
Selfs al vra dit van jou om van werk te verander of by ’n ander marathon-klub aan te sluit. Wees oop en eerlik oor die aard en tydperk van die verhouding, en laat jou maat toe om toegang tot jou selfoon en eposse te hê.

Promosie

2. Behou sover moontlik die huidige struktuur van die gesin.
Indien daar kinders is, is dit goed as Mamma of Pappa nie dadelik uit- of wegtrek nie. Die addisionele druk van kinders se swaarkry dra by tot die trauma en verlies van ouers. Indien ’n paartjie wel besluit om uitmekaar te gaan, kan hulle later met die hulp van kinderterapeute die nuus op ’n gepaste manier met die kinders deel.

3. Moet nooit die kinders betrek nie.
Kinders mag nooit gedwing word om kant te kies of die beraders te word wat Mamma en Pappa se emosies moet dra nie. Vermy dit om sleg te praat van Mamma of Pappa voor hulle, só nie straf jy jou kind swaarder as jou maat. Jou kinders moet julle albei steeds as helde en heldinne sien, ten spyte van jul foute.

4. Wees selektief oor diegene met wie julle deel.
Die versoeking is daar om die nuus met ouers of vriende te deel, maar hulle kan nooit objektiewe raad gee nie. Inteendeel, ouers of vriende gee soms raad wat meer skade kan veroorsaak. Hulle het nie die kennis om die diep ratwerk van die verhouding te verstaan nie en maak soms afleidings wat die proses van herstel kan belemmer. Dit kompliseer ook enige stappe wat in die toekoms geneem word, sóú julle besluit om saam te bly.

5. Kry mediese hulp indien nodig.
Indien die trauma jou gesondheid en normale funksionering belemmer, is dit ’n goeie plan om tydelik mediese hulp te kry om jou met angstigheid en depressie by te staan.

6. Oorweeg intensiewe verhoudingsterapie.
Julle moet álles gee om dadelik, in diepte, te probeer verstaan wat gebeur het en waarom. Jou terapeut behoort julle te begelei om die regte vrae te vra, wat julle kan help om vinnig by ’n plek van verstaan, simpatie en vergifnis te kom. Vrae soos: “Hoe het sy jou laat voel?” of “Wat was daar wat nie hier is nie?” of “Wie het jy geword by haar en in die verhouding met haar wat jy nie by my is nie?” Vra eerder hierdie vrae as vrae soos waar, hoe en hoe gereeld seks plaasgevind het. Die terapeut moet julle wys hoe om ’n ruimte te skep om moeilike emosies op ’n gereelde, sinvolle manier te verwoord sodat dit nie by die etenstafel, in ’n restaurant of by ’n familiegeleentheid hoef te gebeur nie.

7. Betrek ’n geestelike leier.
Stel jul geestelike leier in kennis van die moeilike tyd wat julle beleef. Hy/sy kan julle begelei in voorbidding, maar ook lei op ’n geestelike reis van broosheid, vergifnis, weer glo en hoop.

8. Laat mekaar toe om te voel.
Neem ’n bewustelike besluit om mekaar die ruimte te gee om swaar emosies te voel, dit te verwoord en sonder verwyte daarna te luister.

9. Besluit om doelbewus pret te hê.
Kyk ’n komedie, gaan drink koffie of ’n glasie wyn of hou piekniek saam met die kinders. Iets misterieus gebeur wanneer ’n paartjie saamspeel – selfs al is dit kunsmatig. Dit is asof jou siel kan onthou hoekom julle mekaar liefhet.

10. Gee dit tyd.
Maak jouself gereed vir ’n herstelproses van vier maande vóór julle ’n besluit neem oor jul toekoms. Dit gee julle tyd om weer te konnekteer, die trauma te verwerk en te verstaan. Gee jouself tyd om afskeid te neem van dit wat verby is en wat julle verloor het. Niks kan weer wees soos wat dit was nie, maar dit het die potensiaal om beter en mooier te wees. ’n Affair is soms die katalisator vir ’n dieper lewe saam – dit kan vir julle ook waar wees.

Daar is ’n plek van herstelde konneksie en intimiteit na ’n affair, alhoewel die pad daarheen soms deur woestyne loop. Die uiteinde is ’n nuwe huwelik met twee mense wat dieper sien, verstaan en liefhet. Vergifnis is baie belangrik in hierdie proses. Plaas dit wat gebeur het agter julle en moet dit nie herhaaldelik opgrawe nie, sodat julle kan uitsien na ’n wonderlike reis op jul huwelikspad vorentoe.

Artikel deur Louis J Venter

Louis J Venter is ’n kliniese intensiewe verhoudingsterapeut. Vir meer inligting, besoek www.coupleshelp.co.za.