Is dit moontlik om só in tune te wees met jouself en jou emosies of gedrag dat jy verleiding kan weerstaan?
Die dag wanneer jy trou, lê jy ’n gewigtige belofte af. Dis glad nie moeilik nie, want jy weet dit is jou trouman en jy sal nooit weer regtig vir ’n ander man kyk nie! Jy dink nie eers vir ’n oomblik dat dit vir jou moeilik sal wees om aan hom getrou te bly nie.
Maar só gaan die tyd verby, die opgewondenheid oor julle huwelik bedaar, jy kom agter hy het sowaar irriterende gewoontes. Saam met al hierdie dinge moet jy en jou kollega noodgedwonge baie ure saam spandeer, hy lag vir jou grappies, moedig jou aan met jou harde werk en sjoe – dis so lekker om met hom te gesels, want hy verstaan só goed…
Jy dink dalk jy sal nooit die ander vrou wees nie – dink weer! Enige grootmens kan in die slaggat van verleiding val en voor jy weet, het jy reeds oor ’n lyn getrap. Jy mag dit dalk eers agterkom wanneer jy reeds anderkant die lyn is!
MONITOR JOUSELF SÓ:
Jy moet jouself afvra of jy nie te naby aan ’n ander man voel en daarom die risiko neem dat julle in ’n verhouding betrokke kan raak nie wanneer:
- Jy agterkom jy doen spesiale moeite met jou kleredrag as jy weet jy gaan hom sien. Jy trek bietjie meer sexy aan of iets waarvoor jy weet hy jou voorheen gekomplimenteer het.
- Jy baie aan hom dink.
- Jy nogal opgewonde voel wanneer julle met mekaar kontak maak – boodskappe stuur of bel, eposse stuur of mekaar fisies sien.
- Jy hom gereeld vir raad vra oor besluite wat jy moet neem.
- Jy vroeër werk toe gaan of verby sy kantoor stap op pad na die kombuis toe.
- Wanneer jy laat na werk bly of spesifiek betrokke raak by projekte waaraan hy werk.
- Jy weet julle twee maak baie oogkontak en jy ervaar dat julle baie betekenisvolle kyke deel of vir mekaar knipoog.
Jy moet jouself afvra hoekom jy so optree of wat jy daarmee wil regkry wanneer jy:
- Doelbewus flirt met ’n ander ou en speel of hom stout terg.
- Nie wil hê jou man moet weet van enige boodskappe wat jy vir hom stuur nie.
- Doelbewus nie vir jou man vertel as jy en die ou dinge saam gedoen het nie.
- Moontlikhede of geleenthede oophou vir ietsie meer om te ontwikkel.
JY MOET JOU GEDRAG OF JOU GEVOEL BEHEER WANNEER JY:
- Voel dat jou lyf reageer en jy seksueel opgewek voel wanneer jy aan die ander ou dink of hom sien.
- Meer intieme kwessies met hom begin bespreek (verbaal of met enige vorm van elektroniese kommunikasie) – jou sekslewe, bekommernisse na aan jou hart, argumente met jou man, jou man se swak punte of jou frustrasies met hom, jou dieper emosies.
- Baie lank met hom kan gesels – veral oor persoonlike sake.
Al bogenoemde is tekens dat jy oor ’n geel lig ry wat baie gou rooi kan word. Jy is reeds in die gevaarsone. Moontlik is jou huwelik heeltemal gelukkig, en waardeer jy die verliefde gevoel of skoenlappers wat bogenoemde jou in jou maag gee. Maar dalk is jy juis ontvanklik vir bogenoemde omdat dit nié so goed gaan met jou huwelik nie.
JY MOET MOEITE DOEN OM UIT TE VIND HOEKOM JOU HUWELIKSVERHOUDING JOU NIE MEER OPGEWONDE MAAK NIE WANNEER EEN OF ALBEI VAN JULLE:
- Voel julle luister nie meer regtig na mekaar nie.
- Verveeld is met hoe julle seks het.
- Voel dat julle nie emosioneel naby genoeg aan mekaar is nie.
- Nie die meeste van die ander een se gewoontes kan verdra nie.
- Nie bevredig voel in julle verhouding nie.
- Agterkom dat julle nie meer soveel respek het vir mekaar nie.
- Agterkom dat jy nie meer fisies aangetrokke voel tot die ander een nie.
Wees eerlik met jouself oor jou gevoelens en belewenisse. Moenie dink dat jy nooit sal swig voor hierdie lokval nie. Enige mens hou daarvan om gevlei te word, enige mens hou daarvan om geken te word en na geluister te word – dis jou aard. Hou jou oë oop vir jou eie kwesbaarheid…
As jy jouself erken in die bogenoemde tieklysie, is dit wys om dádelik iets aan die saak te doen. Jy weet dit nou en kan dit betyds keer nog vóór dit heeltemal begin. Stop dit onmiddellik deur kontak met die betrokke persoon te verbreek of/en jou man van die broeiende affair te vertel. As jy nie kontak kan verbreek nie (omdat die persoon byvoorbeeld ’n kollega is) maak dit duidelik dat jy die verhouding streng professioneel wil hou en vermy geleenthede waar julle twee alleen is. Gesels ook met jou maat as die affair ’n aanduiding is op ongelukkigheid in jou verhouding.
Jy wéét ’n affair stuur net op hartseer af en jy is in die posisie om dit onmiddelik stop te sit, so gebruik hierdie een geleentheid wat jy het deur dit te keer, voor dit te laat is.
Deur Wilmé Steenekamp