Ons weet baie goed hoe julle mans dink en operate. Jy werk na ’n doel, daar is ’n eindpunt, ’n eindbestemming, ’n prooi wat moet val of ’n kleiduif wat moet spat… hoe dit ook al sy, iets moet gebeur. Jy werk nie vir niks nie!

Onthou jy daardie liedjie: “Pappie, trap die petrol dat ons vinniger kan ry.” Dié liedjie pas nie meer so mooi in vandag se konteks nie. Gewoonlik gee pappa gas en dis net cruise control wat keer dat mamma teen die dashboard briek en karstoeltjies wat die kinders uit hul oorspronklike sitplekke laat opstaan.

“Ag, kyk nou daardie oulike plekkie… ek het nooit konfyt ingepak nie,” is ’n skimp wat op dowe ore val. Jy weet immers sy eet nie konfyt nie. Die grotte is vir ’n ander dag en dis miskien net ’n Wimpy-ontbyt wat hom halfpad so ver sal kry om van die hoofpad af te draai. Dit ís mos so. (Aan dié van julle wat stop-en-ry ewe liefhet as hul Evas, vra ons groot om verskoning vir die veralgemening).

En ons verstaan dit, want julle is immers doelgedrewe. Vir ’n man is daar insette en uitkomste. Wat jy insit, gaan jy uitkry en as dinge nie só gebeur nie, is dit ’n misoes. En dan moet daar ernstig ondersoek ingestel word na die oorsaak! (Die fake orgasme is waarskynlik uitgedink deur die vrou van ’n boer om haar man ’n uitmergelende ondersoek te spaar.) Wat ons dus bring by die slaapkamer. En waarom vroutjie selde ’n cuddle inkry wat eindig in ’n lekker nagrus kort daarna. Want, druk sy haar sexy boudjies so teen jou skoot, moet daar mos ’n plan in daardie kop van haar wees, dink jy. En as sy ’n plan het, gaan jy hom beslis uitvoer! Tot die bittere einde. En tot jy bewyse het dat dit die einde is!

Maar kom ons vertel jou gou ’n geheim. ’n Orgasme is lekker. Deksels lekker, maar… in Kristin Davis se woorde: “Seks kan steeds wonderlik wees, selfs sonder ’n orgasme.” Ons geniet elke padkafee met sy juicy koeksisters en tuisgemaakte windpompies net soveel soos die kinders se gille wanneer hulle die see sien. Soms selfs meer… so, moenie ons van daardie heerlike koeksisters ontneem nie! En moet ook nie teen 160km per uur daarby verbyskiet nie! (Jy verstaan wat ons sê, né? Hier word nie regtig na koeksisters verwys nie…)

As jy ’n uitsonderlike voorspelkoning is, kan die orgasme bysaak wees. ’n Bonus, maar beslis nie ’n voorvereiste nie. Die laaste ding wat jy boonop wil hê, is ’n penis wat swig onder die druk van ’n veeleisende vagina! So, wanneer jy seks het met jou lieflike vroutjie, moenie die doel ejakulasie of orgasme maak nie, maar maak jou doel genot. En skerp jou voorspeltegnieke op, want as jy daardie soen, daardie aanraking en daardie massering onder die knie het, hoef jy nie veel meer ooit te bemeester nie.

Onthou, jy mag haar beslis nie keer op keer van daardie eindbestemming ontneem nie, want soos ons gesê het, ’n orgasme is stroopsoet-lipleklekker! Maar onthou tog om te stop vir die koeksisters ook….

Addisionele bronne: boulderweekly.com