Jy merk al ’n patroon. Wanneer die lentebloeisels begin bot en die juffies kort rokkies begin dra, begin hy kop uitsteek. Soms sien jy net die horing op sy neus en partykeer ’n stuk stert . . . en dan, eendag, wanneer jy dit die minste verwag, kom sak hy neer oor jul beskeie huisie en die gort is gaar.

Die groenoogmonster is ’n lelike ding. As hy in die omtrek is, kry jy verbrande kos, sout in jou koffie (jy hóóp dis sout) en die trekpas spaarkamer toe. Hy maak van jou Dierbare Dina ’n Gemene Gezina en jy moet koes vir die klitser! En soms plant hy net idees (baie subtiel) in haar kop. Sy bel jou tien keer per dag om te hoor waar jy is, sy lees jou SMS’e en dit voel of jy permanent onder kruisverhoor is! Só hoe gemaak met dié onwelkome (gereelde) besoeker?

Kry vir jou ’n vergrootglas

Kom ons wees nou heeltemal eerlik. Wat veroorsaak die roering in die lug? Dalk is jy die tipe ou wat ander as “sjarmant” beskryf. Miskien beskou jy jou flankeerdery as “heeltemal onskuldig” en een van jou “vele talente”. Miskien is jy selfs nie eers bewus van die manier waarop ander vroue na jou kyk wanneer jy vir hulle glimlag nie. (En dalk ís jy juis – en geniet jy die aandag terdeë.) Het jy ’n dwalende oog?

Kenners raai ons aan om te vergewe en te vergeet. Dis maklik om te vergewe, maar dis ewe maklik om te vergéét om te vergeet. Jy het dalk, baie jare gelede, in ’n onbesonne oomblik jou vrou in ’n oomblik van waansin verkul. En jy het jouself vergewe, want jy was eensaam, dit het niks beteken nie, dit was ’n eenmalige gebeurtenis, blah, blah, blah . . . Julle het dinge deurgewerk en dit lê doer agter jou. Of só dink jy.

Om ’n vertrouensband te herstel, kan baie jare en baie moeite verg. Vroulief is dalk nog in die proses hiervan. Oorweeg julle situasie. Het julle terapie ontvang om al die wonde uit die verlede te help genees? Dalk het julle wel daardie roete gestap en het daar bloot nie genoeg tyd verloop vir die rowe om af te val nie (almal se wonde genees verskillend).

Jy voel dalk gefrustreerd omdat jy jouself as ’n modelburger beskou! ’n Gesinsman. Jy het nog nooit vir jou vrou rede gegee om in jou te twyfel nie en al jou eendjies loop soet in ’n ry! Maar jy kan nie dieselfde van háár sê nie. A-ha! Jou vrou was dalk die ontroue een en jý het nog nie vergewe nie. Of jy het, maar sy sukkel nog om haarself te vergewe – en nou projekteer sy haar eie wonde op jou en sien haar swakheid in jou raak (selfs al is dit irrasioneel).

Dit kan ook wees dat jou vrou wonde uit haar kindertyd met haar saamdra. Dalk ken sy die prys van ontrouheid baie goed omdat sy as kind daarmee moes deal toe dit in haar ouers se huwelik gebeur het. Sy is hiper-sensitief vir elke situasie wat lyk asof dit die stabiliteit in jul huwelik kan bedreig.

Dit kan ook wees dat jou vrou onseker is van haarself. Onsekerheid of ’n lae selfbeeld kan baie oorsake hê wat niks met jou te doen het nie. En selfs al weet jy wat die oorsaak is, maak dit dinge vir jou, aan die ontvangkant, nie makliker nie.

Jou natuurlike reaksie is om te wil vlug vir Gemene Gezina tot Dierbare Dina terugkeer (en dit sluit in om al haar selfoonoproepe te ignoreer, diep in jou grot te kruip en haar te straf met jou stilstuipe). Rêrig? Jy weet dat dit dinge net gaan vererger, nie waar nie? Want sy gaan al hoe meer jaloers raak en jy gaan al hoe meer onttrek. Dit raak ’n bose kringloop tot julle huwelik diep in die sop is!

Só wat maak jy?

• Jy kners op jou tande en benader die saak nugter en kalm. Vra haar hoekom jy in die spaarkamer moet slaap en hoe jy dit kan regkry om weer jou plek in die bed terug te wen, want dit is waar jy hoort. Soek saam met haar die oorsaak van haar jaloesie en maak dit duidelik dat jy na haar sal luister.
• Die kans is goed dat haar beskuldigings jou verslae sal laat! Maar bly respekvol teenoor haar en moet haar gedrag nie afmaak as oorsensitief nie, selfs al dink jy sy is besig om hééltemal die kluts kwyt te raak.
• Moet haar nie rede gee om jaloers te wees nie. Antwoord haar telefoonoproepe, antwoord haar vrae geduldig en bewys dat daar geen grondige rede is vir haar jaloesie nie. Dit ís moeilik – veral as Gezina veeleisend is, maar druk deur.
• Lê ’n paar (wedersydse) reëls neer vir jul huwelik, soos vrye toegang tot mekaar se telefone en eposse. Daar mag geen geheime tussen julle wees rakende ander persone of verhoudings nie – en dit sluit haar biegsessies teenoor haar GBF (gay best friend!) in.
• As wonde uit die verlede die oorsaak is van jou maat se jaloesie, is dit dalk ’n monster waarvoor jy die big guns nodig het. Kry terapie. As julle wel hierdie roete gestap het as gevolg van ’n vertrouensbreuk, het jou maat dalk nog tyd nodig vir haar wonde om te heel.
• Evalueer die situasie na ’n paar maande. As Dina nog nêrens in sig is nie (ten spyte van al jou edele pogings om haar te wys jy is wel die yster met wie sy getrou het), moet jy dalk die “hartdokter” skakel. ’n Terapeut kan julle help om vas te stel waar die jaloesie vandaan kom en hoe om die groenoogmonster permanent uit jou huis uit te verban.

Addisionele bronne: truthaboutdeception.com, marriagemissions.com, crosswalk.com.

Artikel deur Annelize Steyn