Die “goedheid en guns-meisie!” Só ken meeste mense my. Hulle onthou dalk nie my naam wat saans tydens die sewe-uur nuus vinnig oor die skerm flits nie, maar my groet aan die einde van die bulletin bly talle kykers by. Die groet is beide my getuienis en ’n bemoediging. Ek het die Here gevra om vir my ‘n manier te wys om Hom in my mediawerk “in te glip.“ Nie lank hierna nie, agter die stuurwiel van my voertuig, het die woorde “Goedheid en Guns, goeienaand!“ by my opgekom. Dit was die antwoord op my gebed. God is onlosmaakbaar deel van my storie, beide in my persoonlike en professionele hoedanigheid.
Dat “goedheid en guns“, woorde uit die bekende Psalm 23, saam met my TV toe sou trek, was nooit eers ‘n kwessie nie. Dit was my versoek toe ek werk by ‘n nuuskanaal aangebied is.
Visse leef in water. Dis hulle natuurlike tuiste. My natuurlike tuiste, as ‘n kind van God, is die geestelike. Ek wou nog altyd terugkeer radio toe. Radiokansel 657AM en Radio Kaapse Kansel 729AM is die beste plek waar God dit kon laat gebeur.
Ek is opgewonde en opreg bevoorreg om deel van die Radiokansel familie te wees, waar ek die program Elevated, Sondagaande tussen 7uur en 8uur op Radiokansel 657AM aanbied en Saterdagoggende 8uur tot 9uur op Radio Kaapse Kansel 729AM. Ek fokus op geestelike opheffing en bemoediging. In die program deel bekende en minder bekende persone uit elke sfeer van ons samelewing hulle getuienisse met ons – stories van liefde en hoop, van wonderbaarlike genesing, Goddelike voorsiening en die o, so nodige aanraking deur die hand en uit die hart van God.
Artikel deur Jenna-Leigh Bilong, nuusleser en radio aanbieder
Laai nou die Radiokansel en Radio Kaapse Kansel slimfoon toepassings af: Kliek hier