“Daar bestaan vir almal ‘n sin, ‘n string van woorde, wat die mag het om jou te vernietig. Daar bestaan ook ‘n ander sin, ‘n string woorde wat jou gesond kan maak.” – Philip K. Dick –
Ek sit geduldig en wag vir Vriendin terwyl ek my boek lees. Dis ons maandelikse koffie-afspraak. Die volgende oomblik verskyn sy soos ‘n spook uit die niet. “Wat lees jy?”
“Nothing said in words ever came out quite even. Things in words got twisted and ran together instead of staying straight and fitting together.”
Sy sê dis ‘n mondvol en sy moet eers koffie bestel, dan moet ek dit herhaal. Ek lees die stukkie weer voor, terwyl sy na haar “designer” koffie staar.
Dit laat haar dink aan die geval met die lemoensap, sê sy. “Effektiewe kommunikasie is ‘n kuns.” en sy sug met soveel oorgawe dat ek vermoed geen gras ooit weer daar sal groei nie. Ek sit die derglike selfoon se klank af, gooi my elmboё dramaties op die tafel, kyk haar stip in die oё : “Vertel!” “Dis nou seker al 30 jaar gelede. Ou koeie… ons was op ‘n beroerde, beperkte begroting in Londen. Liefde en water was toe nog genoeg, totdat ek een oggend opstaan, ‘n figuur sien wat uit die spieёl na my staar en vaagweg bekend lyk – soos Mej. Skeurbuik 1652 – gebarste mondhoeke en ‘n asvaal-met-groen-ondertone kleur. Ek diagnoseer myself: onttrekking vir groente en vrugte na dae se brood-en-kaas spyskaart. Later op straat koop ek toe ‘n plastiekglasie lemoensap teen een Pond – ‘n Pond was daai jare so net onder vier Rand! Klink nou half belaglik. Behalwe vir die feit dat die glasie net half vol was en ek ingedoen, verontwaardig en beroof gevoel het, het wederhelf gedurf om sy oё ten hemele te slaan oor die wispultierige uitgawe wat ons uiteraard nie kon bekostig nie. Natuurlik was ek nou nie meer lus vir my sap nie! Mens sou sweer ek gooi ‘n peuter-vloermoer vir ‘n diamantring! Skuldgevoelens oorval my toe ook nog en ek is oortuig ons sal nie die aand geld hê vir ‘n lê-plek, nie. (Het vir my sekerlik uit die heupe vererg…) Maar, uit diepe waardering suig ek tjoepstil vir byna 6 ure daaraan – maak net kort-kort so bietjie lippe nat, want Vitamiene C gaan ek nie weer sien voor ek voet aan die-land-van-melk-en-heuning se walle sit nie. Stilstuipe. Sal ook nie vir die res van die Europese toer vir IETS vra nie.
En tot vandag toe, ek jok nie vir jou nie, sal hy sê dat hy steeds nie kan glo dat ek hom blameer vir sy reaksie op die lemoensap-dag, nie. Ek het dit oor dertig jaar al uit agt windrigtings verduidelik – selfs in meer as een taal, maar nog is dit het einde niet. Ons lag nou lekker daaroor, maar dis soms bitter gevaarlik en baie onnodig om tussen die lyne te lees. Intussen genadiglik geleer om meer effektief te kommunikeer, stiller waters te vaar en te lag.”
Effektiewe kommunikasie is uiteraard ‘n kuns. As jy aannames maak, beweeg jy op dun ys. Om dinge letterlik op te neem, kan fataal wees. Goeie tydsberekening en oogkontak is ‘n beter idee en selfone is van die duiwel!
Ek beny paartjies wat weet hoe om te stry en hulle te vererg. Hulle sê wat hulle bedoel en bedoel wat hulle sê. Al hulle kaarte is oop op die tafel. Daar’s nie lyne of iets om tussen-in te lees nie. Dis opreg en eerlik. Die een hoef nooit te wonder wat die ander dink of hoe hy voel nie. Hulle sê: ”Ek voel seergemaak” en “Jy inspireer my” en “Ek het jou lief.” Dit is wat dit is.
Kommunikasie wat eensydig, afwesig, afbrekend is of net verwring en misinterpreteer word, glo ek, is die wortel van alle kwaad.
Die tong is “’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. ‘n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek.” Jakobus 3:5
Voortaan, Vriendin, moet jy hard-op en reguit praat. Sonder draaie en inuendo’s, in plaas daarvan om jou in die stilligheid te wip en dit nog dertig jaar later te ontgeld. Sê wat jy bedoel en bedoel wat jy sê.
“Nothing haunts us like the things we don’t say.” – Mitch Albom –