Die troue waaraan julle so lank beplan het, is agter die rug. Net ’n paar foto’s en goeie herinneringe van die wittebrood is oor. Nou staan julle meteens op die wal van ’n rivier in vloed met stroomversnellings wat duidelik sigbaar is. Ontdek God se plan vir jul huwelik! Hier is ’n paar trapklippe om julle veilig tot aan die ander kant te help . . .

Promosie

Trapklip 1 – Gedeelde drome

Skielik is julle een! Hoe nou? Ds Maartje van der Westhuizen verduidelik: “Wanneer twee mense trou, kom twee unieke persoonlikhede bymekaar. Vir die eerste gedeelte van jou lewe het jy dalk geweet wat jou as individu se drome en roeping is, maar nou word twee mense se drome en roepings saamgegooi. Dit is belangrik dat elke individu steeds die ruimte gegee word om sy/haar eie menswees uit te leef. Tog, soos wat ’n mens langer getroud is en mekaar beter leer ken, kom jy agter dat daar dalk dinge is waarmee albei goed is en wat vir albei belangrik is. Hierdie dinge moet gesê en onderhandel word. Ek en my man hou byvoorbeeld baie daarvan om saam met mense te kuier en mense te onthaal. Ons het ’n paar jaar terug dus gesels en besef dat gasvryheid een van ons huwelik se waardes is, en ons sal altyd daarna streef om mense gasvry te ontvang en welkom te laat voel.”

Trapklip 2 – Elke dag se besluit

Promosie

Huwelikskenner en skrywer Arnold Mol is al 47 jaar getroud. Vir hom en sy vrou, Joy, is die kernbeginsel van hul huwelik dat liefde élke dag ’n besluit is om in jou maat se behoeftes te voorsien. Liefde moet ’n werkwoord in die huwelik wees. Andy Stanley praat in sy huweliksreekse van die “You first”-beginsel. Kies mekaar in jul optrede en besluite. Arnold help byvoorbeeld nie gewoonlik met huistake nie, aangesien hulle ’n voltydse huiswerker het. Maar wanneer die huiswerker met verlof is, is dit sy taak om in te spring en te help!

Trapklip 3 – Let op lyftaal en stemtoon

Arnold se raad is dat ’n mens met kindness teenoor jou maat moet optree. Dit gaan dikwels nie oor wat jy sê en doen nie, maar die manier hoe jy dit doen. Jou stemtoon en lyftaal is baie belangrik wanneer jy met jou maat praat. Arnold en Joy was eenkeer baie kwaad vir mekaar. Toe hy eerste tuis kom, skiet die gedagte hom binne om vir Joy blomme te gaan koop. Hy het onmiddellik teen die idee geskop! Hy is te kwaad vir haar, hy weier om blomme te gaan koop. En weer het die gedagte hom getref. Hy glo dit is die Here wat met hom gepraat het. Toe Joy uiteindelik tuis kom en die blomme sien, was sy ook nie meer kwaad nie.

Trapklip 4 – Konflik is nodig

Arnold sê dit is glad nie waar dat ’n gelukkige huwelik sonder konflik is nie. Dit gaan eerder daaroor om die konflik op ’n positiewe manier op te los. Wanneer ’n mens ’n houding inneem van “Ek is reg en jy is verkeerd”, is dit onmoontlik om die situasie op te los, want albei partye glo hulle is reg! Dit is belangrik dat huweliksmaats sáám aan dieselfde kant moet veg om saam die probleem op te los. In baie gevalle is albei huweliksmaats dalk reg, maar dit los geen probleem op nie. Kom ooreen op ’n oplossing wat vir albei partye werk. Arnold stel ook voor dat julle as huweliksmaats saam bid en saam ’n dagstukkie of geestelike boek lees. Hoe baklei jy met iemand vir wie jy moet bid? Gaan kompromieë aan oor iets soos byvoorbeeld familiekuiers.

Trapklip 5 – Noodhulptas

Julle is nie alleen nie, al voel dit soms so! Daar is soveel hulp beskikbaar, sommer op jul voorstoep. “Net soos wat ’n mens maintenance aan jou huis en kar doen, só moet jy dit ook met jou huwelik doen. ’n Huwelik is iets waaraan deurlopend gewerk moet word. Daar is baie boeke, kursusse ens. beskikbaar vir mense om aan hulle huwelike te werk. Dit is belangrik om ’n veilige ruimte in jou huwelik te skep waar jy eerlik kan gesels. Dit is ook ’n goeie idee om nou en dan met ’n berader te gesels, veral wanneer julle gesin deur ’n verandering gaan, byvoorbeeld verhuising of nuwe werk. Dit is ook goed om vriende te maak met ’n huwelikspaar wat ouer is as julle. Sulke vriende kan raad gee en as mentors optree,” is Maartje se raad. “Dit is baie belangrik vir huwelikspare om tyd te maak vir mekaar, veral wanneer daar klein kindertjies in die huis is. Daar moet tyd gemaak word om saam lekker dinge te doen, maar ook om oor elkeen se behoeftes te gesels. Dit is ook belangrik om mekaar se liefdestaal te ken. Gaan lees gerus Gary Chapman se boek oor die liefdestale om jou te help verstaan hoe jy graag liefde ontvang en gee en wat jou maat nodig het,” sê Maartje.

Pleisters vir die nerwe:

  • Boeke soos Die vyf tale van die liefde (Gary Chapman), 21 maniere hoe om jou huwelik te verwoes (Ewald en Beatrix van Rensburg), 21 dae tot ’n fantastiese huwelik (Floris Knouwds) en Let’s both win (Arnold Mol).
  • DVD’s soos dié van Mark Gungor (Laugh your way to a better marriage) en Andy Stanley (Stay in love).
  • Kenmekaar-idees vir huweliksmaats is gesprekskaartjies met allerlei vrae wat julle stuk-stuk saam kan deurwerk.
  • Woon ’n huweliksverrykingskamp of seminaar by.

God se plan vir elke paartjie is uniek, maar die beginsels bly dieselfde. Maak seker dat julle van die begin van jul huwelik af baie moeite met mekaar doen. Gee vir mekaar jul tyd en onverdeelde aandag, al is dit soms net vyf kosbare minute op ’n slag. Help mekaar en dra die laste saam!

 

Deur Lize Groenewald