Wát die nommer 69 vir jou beteken, sal waarskynlik daarvan afhang of jy ‘n baie wêreldwyse jong juffer, of ‘n onoortreflike kloosterkoek is. Miskien ís die nommer 69 bloot vir jou die ouderdom waarop jy eendag wil valskermspring … maar kom ons vertel jou ‘n ding of twee oor die wêreld van syfers in die slaapkamer!

In die eerste uitgawe van INTIEM het die drukkersduiwel ons ‘n stoute poets gebak. Dit was eers nádat ‘n leser ons daarop gewys het dat die span besef het dat ons (baie gewaagde) orale seksartikel (met grafika en al) toevallig op bladsy 69 gepryk het! Nou ja, vir diégene wat nié weet nie, hierdie syfer is ook die naam van ‘n baie bekende seksuele posisie – een wat perfek vir wedersydse orale seks geskik is.

Kyk ‘n bietjie na die voorkoms van die syfer en stel jou voor dat die ‘6’ en die ‘9’ jy en jou man is! Hmmm… is jy al warm of nog redelik blond?

Wanneer die klassieke 69 posisie (die Franse naam hiervoor, ‘soixante-neuf‘ word ook dikwels gebruik) uitgevoer word, stimuleer jy en jou maat mekaar gelyktydig oraal. Omdat dié posisie aan albei maats die geleentheid gee om tegelykertyd genot te gee en te ontvang, is nommer 69 ‘n erotiese sensasie, maar die sekskenner en outeur, Tracey Cox, beweer dat sommige mense dit baie frustrerend kan ervaar, omdat dit maklik is om nie jou kant te bring nie en ewe lui aan die ander kant te ontspan.

“As jou maat sy toorwerk doen en jy is op die punt om ‘n orgasme te bereik, is dit maklik om van sy genot te vergeet en met ‘n paar trae lekke te probeer wegkom!” vertel sy. “Dit is hoekom soveel mense die 69-posisie in hul jeug probeer en dan, as hulle ouer is, besluit dat dit gans te veel werk is.

Groot fout, dames. Dit is ‘n goeie manier om stoutigheid en variëteit tot ‘n saai sekslewe te voeg, en met ‘n paar eenvoudige aanpassings, is dit maklik om dit te bemeester!” Dit is boonop nie noodwendig die hoofgereg nie, maar ook ‘n heerlike vorm van gesonde voorspel!

Hoe raak jy ‘wiskundig’?
1. Stort saam en trek iets spesiaals aan, soos ‘n mooi nagrokkie of onderklere, sodat jy jou maat visueel kan opwek en daar reeds gelaaide seksuele spanning is vóórdat julle tot aksie oorgaan.
2. As julle nié saam stort nie, begin om mekaar stadig uit te trek (onthou dat jy jou man in die regte luim kry deur dit wat hy sien).
3. Bestee genoeg tyd aan sensuele massering, om mekaar te soen en mekaar ligweg met jul hande te stimuleer en te streel.
4. Laat jou maat dan plat op sy rug lê (gewoonlik werk dié posisie die beste as jy bo is), tensy jy ‘n bietjie swaarder as hy aan liggaamsgewig dra!
5. Posisioneer jouself dan bo-op jou maat, sodat jou genitalieë bokant sy gesig is en jou gesig bokant jou maat s’n is.
6. Pas die posisie só aan dat julle mekaar se genitalieë met gemak oraal kan stimuleer. Moenie stremming op jou nek plaas nie en sorg ook dat jou maat nie ongemaklik hoef te lê om jóú hot spots by te kom nie.
7. Terg jou maat stadig met jou tong en vermeerder dan die stimulasie. Gebruik jou hande om jul vlak van genot verder te neem!
8. Julle kan hiermee voortgaan totdat albei ‘n orgasme bereik het, of julle kan tot volslae seks oorgaan en die 69-posisie net as heerlik dekadente voorspel gebruik!

‘n Paar syferwenke:
• Stort eers saam. Op dié manier voel julle albei gemaklik met mekaar se vlak van higiëne en dit dien ook as ongelooflike voorspel waar julle mekaar kan terg en aandraai…
• Wend gegeurde masseerolie aan mekaar se genitalieë sodat dit vir julle … eh… ‘n smaakliker ervaring kan wees! (Maak seker dit is nie-giftig asook eetbaar en dat dit nie die vel irriteer nie.)
• Jy kan ook ‘n lekker liggaamsbotter (soos The Body Shop se Papaya of Moringa geure) tussen jou dye aanwend om hom met ‘n heerlike geur te verras!
• Wees versigtig om nie jou tande tydens orale seks te gebruik nie. Jy dink dalk dat jy hom ligweg kielie, terwyl Manlief se gesig in werklikheid van pyn vertrek (jy sal dit natuurlik nie raaksien nie, want sy gesig is elders besig…)
• Gebruik jou hande. Deur net jou mond te gebruik, kan jy baie moeg raak, so wend jou tien vingers ook aan en moenie bang wees daarvoor om jou mond vir ‘n rukkie heeltemal uit die prentjie te verwyder nie. Dieselfde geld vir hom.
• As julle dit te intens en veeleisend vind, bly in hierdie posisie, maar ontspan terwyl hy jou ‘n orgasme gee, en doen dit dan vir hom as jy klaar is.
• Plaas ‘n kussing onder sy kop om hom te stut en te voorkom dat hy die volgende dag met ‘n stywe nek sit, of doen dit deur langs mekaar te lê, elk met ‘n dy opgetrek om as kussing vir die ander een se kop te dien.

Alternatiewe somme:
As julle na ‘n bietjie variasie op die gebruiklike 69 soek, probeer hierdie twee posisies:
• Lê langs mekaar op die bed of op ‘n ander gemaklike oppervlak en draai na mekaar toe met jou kop aan die bokant van die bed en syne aan die voetenent. Maak jou bene stadig oop om jou maat toegang tot jou klitoris en vagina te gee. Hy maak weer sy bene oop om jou toegang tot sy penis en testikels te gee. Hou mekaar aan die heupe, bekken en boude vas met jul gesigte by mekaar se genitalieë. Nou is julle gereed vir oraal genitale passie!
• Dié variasie is slegs vir die waagmoediges onder ons. Probeer dit slegs as Manlief ‘n liggaamsbouer en jy ‘n tinktinkie is! Jy moet hom boonop met alles in jou vertrou, want as jy bang is dat jou kop enige oomblik die leiklipvloer kan tref, gaan jy dié posisie nie geniet nie. Hy moet regop staan en jou onderstebo vashou sodat jou klitoris en vagina by sy mond is. Dit sal outomaties beteken dat jou mond na aan sy genitalieë is, en jy kan jouself effens stut (en gemoedsrus gee) deur hom om die bene of agterstewe vas te hou of jou bene om sy nek te draai. Hoe dit ook al sy, dié posisie klink vir ons redelik ongemaklik – so, sterkte daarmee!

Vyf dinge wat jy oor 69 moet weet!
• Om jou genitalieë so blatant in jou maat se gesig te druk is … redelik, wel … blatant, wat die rede is hoekom dit vir baie vroue so bevrydend is om dit te doen! Omdat vroue so skaam is om daardie plekkie ten toon te stel, is dit dikwels ‘n groot turn on om te weet dat Manlief ‘n onbelemmerde uitsig het!
• Omdat hierdie posisie die hele bekkenarea blootstel, gee jy hom hiermee toegang tot jou vulva, perineum (die gedeelte tussen die anus en vaginale opening) en die anus, en is dit vir hom moontlik om veel meer as slegs jou klitoris te stimuleer! Wees voorbereid!
• Onthou dat sommige mans 69 só eroties vind dat hulle voortydig ejakuleer! Soms verg dit twee lekke en dit is neusie verby. Dit is daarom raadsaam dat hy eers aan jou begin werk voordat jy aandag aan hom gee.
• Dit is wonderlik om tegelykertyd genot te gee en te ontvang, maar dit het ook nadele – jy moet aandag gee en jouself nie in die oomblik verloor nie. Vir hom is énige aandag in die Suide baie welkom, so jy hoef nie regtig vaardig te wees nie. Vir jou is dit waarskynlik eerder spesifieke, konstante, “moenie-enigiets-verander-nie-hou-net-aan-waarmee-jy-besig-is”-tipe stimulasie wat jou oor die kruin stuur. As hy op die punt is om ‘n orgasme te bereik, gaan dit vir hom moeilik wees om sy aandag by jou voorkeure te bepaal.
• En ‘n waarskuwing van Tracey af: “As hy dit wel regkry om aan te gaan en jy is die een wat na ‘n orgasmiese hemel gevoer word, is dit redelik maklik om ‘n bietjie meegevoer te raak en te vergeet dat jou mond rondom ‘n stukkie baie weerlose vlees gedraai is. Sommige vroue byt onwillekeurig op hul kake gedurende ‘n orgasme (Nog nooit ‘n volwasse man gesien huil nie? Hier is jou kans).”

As jy nou die wêreldwyse juffer is waarna ons vroeër verwys het, knik jy waarskynlik jou kop in ‘n amen-gebaar. As jy die kloosterkoek is, wel, dan weet jy waarskynlik nou blosend wat jy nie vroeër geweet het nie. Ons hoop jy gebruik hierdie kosbare inligting so wys soos jou reeds-slim susters. So, klim uit jou boksie en raak slim met syfers! Veral met nommer 69…

Bronne: www.onpedia.com/encyclopedia/69-sex-position; www.ehow.com; www.love.ivillage.com; www.en.wikipedia.org; www.askmen.com