Mosambiek is ’n diverse land met ’n natuurskoon soos min en met verskeie kulturele gebruike. In 1498 het die Portugese ontdekker, Vasco da Gama, by Mosambiek aangeland en vir 500 jaar het die Portugese geheers – iets wat ’n groot impak op die kultuur van Mosambiek gehad het. Leef vir een Saterdag soos Mosambiek-boorlinge en kyk watter pret jul huwelik daaruit put.
8:00 Groet Manlief met ’n vrolike ‘Hola!’ of ‘Bom dia!’ en trek vir jou ‘n helderkleurige romp aan. Onthou dat ’n Mosambiekse vrou gewoonlik haar dye bedek, omdat hierdie deel van haar liggaam as ’n privaatdeel beskou word. As jy daaraan gewoond is om kortbroeke in en om die huis te dra, sal Manlief wonder wat aangaan, en dit sal hom nuuskierig maak om vanaand te ontdek wat jy onder jou lang romp wegsteek …
8:30 Mieliepap vir ontbyt!
9:00 Sê vir die man in jou lewe jy kry hom oor ’n uur in die kar, maar moet jouself nie te ernstig opneem nie. In Mosambiek geld die term ‘Afrika-tyd’, en stiptelikheid is nie juis iets wat hoog aangeskryf word nie. As julle nou nie Mosambiek kan besoek om die ongelooflike duik en snorkel eerstehands te ervaar nie, bring Mosambiek huis toe:
Gee vir Manlief instruksies om na die naaste troeteldierwinkel te ry. Daar aangekom, bewonder al die visse in die tenks – wonderlike getuigskrifte van God se kreatiewe en genadige gees. As julle wil, skaf vir julle twee goudvissies aan. Julle kan elkeen ’n naam gee, en dit word ’n troeteldier wat júlle s’n is en wat julle saam kan versorg en elke dag kan bewonder. Dit gaan julle boonop aan hierdie spesiale dag herinner.
10:00 Julle moet nog by een plek stop (julle kan dit ook doen vóór julle die vissies gaan koop). In Mosambiek is daar ’n baie lae skeisyfer onder tradisionele huwelike, omdat die potensiële bruid en bruidegom omslagtige opvoeding kry voordat hulle trou. Dit is nooit te laat vir voorhuwelikse berading nie, en as julle voel of julle huwelik met ’n bietjie hulp kan doen, skaf vir julle ’n selfhelpboek deur ’n skrywer soos Gary Chapman aan om jul huwelik weer ’n hupstoot te gee.
11:00 Terug by die huis, moet julle tuin toe. In Mosambiek leef mense uit dit wat hul tot hul beskikking het. Soek twee stukkies hout uit. Vanoggend moet julle elk vir mekaar ’n spesiale iets uit hout kerf. In Mosambiek word hardehout (hoofsaaklik mahonie, ebbehoud en ysterhout) gebruik om maskers en beelde, bekend as ‘familiebome’ te maak. Dit bestaan uit figure wat stories van voorgeslagte vertel. Vertel nou vir Manlief iets wat jy wil hê hy oor die liefde moet weet. Kerf iets spesiaals, en as jou kreatiwiteit jou in die steek laat, maak bloot ’n hart, of kerf vir hom ’n mooi boodskap. Hy moet natuurlik dieselfde vir jou doen.
13:00 Cassava (’n styselwortelplant) en kasjoeneute is eie aan Mosambiek. Om die waarheid te sê, was Mosambiek een van die grootste kwekers van dié neute. Die gebruik van speserye, soos uie, lourierblare, knoffel, vars koljander, paprika, rissies en wyn is deur die Portugese aan die land voorgestel. So ook mielies, en die immergewilde peri-peri sous! Jy gaan dus vandag vir Manlief ’n heerlike hoender-peri-peri vir middagete maak. Kry die kole gereed, steek die vuur aan en nooi hom buitetoe!
Hier is jou peri-peri resep:
Bestanddele:
2 teelepels rooipeper
¼ teelepel sout
Die sap van twee suurlemoene
2 knoffelhuisies, fyngemaak
6 bossies pietersielie, fyngekap
1 koppie botter of olie
Metode:
Kombineer al die bestanddele saam in ’n pan en verhit vir vyf minute oor lae hitte voor opdiening.
(In Mosambiek is dit gebruiklik om gedurende ’n geleentheid saam uit ’n pot bier te drink. Giet dus twee of drie biere in ’n houtbak (as jy een het) en deel die bier hieruit om daardie brand in die mond te blus!
17:00 Wat van ’n heerlike skemerkelkie om die dag mee af te sluit en die sonsondergang te ervaar? Mojito’s sal jy oral in Mosambiek te drinke kry. Spog met jou vernuf en maak vir Manlief ’n heerlike mojito soos volg:
Meng ment en suiker met ’n klein bietjie sodawater in ’n glas totdat die suiker oplos en jy die ment ruik. Druk een lemmetjie se sap in die glas, voeg rum by en meng dit met ys. Giet dit bo-oor ys in ’n glas en vul met sodawater. Garneer met ment en bedien.
18:00 In Mosambiek word die huwelik as ’n normale ritme van die lewe beskou. “Seks is die geskenk van ’n verhouding wat die diepte en rykheid van individue wat deur die huwelik saamgebind is, versinnebeeld. Dit verdiep en versterk die huweliksverhouding,” sê George O. Ndege in sy boek, Culture and customs of Mozambique. Slaan ag op die Mosambiekers se wysheid en gaan kruip dus vanaand vroeg in …