Ek lê nou die aand in die bed na ‘n baie lang dag…een van daai dae! Een van daai dae waar ek hande soos ‘n seekat moes hê, ore so groot soos ‘n olifant om na alles te kan luister, en ‘n hart propvol liefde. So lê en lees ek die Intiem Tydskrif (yes…guilty as charged…ek love ook hierdie tydskrif nes N).
Ek lees die artikels en die trane loop…van dit is trane van hartseer en van dit is omdat ek kliphard lag. Toe ek klaar is dop ek die boekie om na die Intiem vir Mans gedeelte en scan gou-gou deur dit…ek wil mos sien watse interessante artikels daar vir hulle is. Ek lees die artikel “Slaan PMS vir ‘n ses!” en ek giggel kort-kort. My man loer onderlangs na my. Ek sien dit as ‘n gulde geleentheid om hierdie artikel vir hom te lees. Hy knik met tye, maar sê nie veel nie. Ek raak sommer geiriteerd omdat ek nie die reaksie van hom kry waarvoor ek gehoop het nie. Ek druk die boek teen sy bors en staan op om my tande te borsel.
Great!…die tandepasta buisie is dolleeg! “Kon jy nie net die nuwe een uit die laai uit gehaal het nie?” vra ek hoogs geiriteerd (en voel sommer lus om hom met die leë buisie te gooi). Ek wil gaan sit om ‘n draai te loop en sien die toilet is verstop. “Jissie man, het jy nie gesien die toilet is verstop toe jy 10 minute terug die toilet gebruik het nie?” Toe ek in die bed klim draai hy na my met ‘n groot frons op sy gesig en vra: “Was dit nou regtig nodig om so aan te gaan?” Ek vererg my en draai op my sy – my rug na hom toe. My gedagtes gaan op hol…
Okay, dalk het ek bietjie oorreageer (maar net ‘n bietjie).
Ek dink aan die artikels wat ek gelees het en besef dat mans is nie dieselfde as ons nie. Hy is ook net ‘n mens en hy kan ook foute maak. En hoe gereeld wys ons daai foute van hom uit? Hy het al heel waarskynlik hoeveel keer die tandepasta buisie weggeooi wat ek vergeet het om te doen; of ‘n nuwe toilet rolletjie ingesit; of die toilet wat verstop was skoongemaak. Die verskil is – hy druk dit nie die heeltyd onder my neus nie.
Soms verwag ons bietjie te veel van ons mans. Ons maak te maklik aannames. Ons moet onthou dat ons is wel een voor God, maar steeds twee mense wat elkeen hul eie persoonlikheid het.
Kom ons probeer om nie altyd meer in die storie te lees as wat daar eintlik is nie.
Om te dink is maklik; om te doen is moeilik; Om te doen soos ‘n mens dink, is die moeilikste van alles. (Van Goethe)
#VROUWEES
#VSE
Groete
~M~