Wanneer jy ná jare se getroude lewe van jou man skei, verloor jy nie net ’n maat nie. Dikwels verloor jy ook ’n klompie vriendinne. Hoekom is dit so? En wat kan jy doen om boonop dié verlies te hanteer?

Promosie

Elzanne* is ná ’n huwelik van ses jaar van Dirk* geskei. Dit was nie ’n maklike besluit nie, maar Elzanne sê sy het nie kans gesien om met die huwelik voort te gaan nadat Dirk se buite-egtelike verhouding op die lappe gekom het nie.

Aanvanklik was Elzanne se vriendinne baie simpatiek en het hulle haar ten volle ondersteun. Hulle het geluister, kos aangedra en met die kinders gehelp. Maar met verloop van tyd het Elzanne subtiele veranderings in die vriendinne se gedrag begin raaksien. Uitnodigings na funksies en koffie-afsprake het al hoe minder geword.

Elzanne het nie besef dat die verlies van haar huwelik ook die einde van vele van haar vriendskappe sou beteken nie.

Promosie

Irene Haasbroek, ’n multidissiplinêre praktisyn in Kimberley, sê vroue kan ná ’n egskeiding tot veertig present van hul vriendinne verloor.

Waarom vermy almal my?

Elzanne se verhaal is aan baie vroue bekend. Wanneer jy skei, is dit amper asof jy eensklaps melaats geword het. Skielik is jy enkellopend – en baie getroude vroue weet nie hoe om hul enkellopende vriendinne te ondersteun nie.

Daar is ’n hele klomp moontlike redes waarom jy en jou getroude vriendinne se onderlinge verhouding gekompliseerd geraak het:

Jy is nou ’n bedreiging

Dit was nie jou skuld dat jou huwelik misluk het nie, maar wat jou getroude vriendinne betref, is jy nou weer “beskikbaar”. As jou man jou kon verneuk, kan háár man se oë dalk net na jou kant begin dwaal …

Stadig maar seker begin die uitnodigings minder word, veral gedurende naweke wanneer die mans gewoonlik saam met die vroue kuier.

Jou praatjies maak hulle ongemaklik

Jou vriende weet nie altyd hoe om die nuwe situasie te hanteer nie, veral nie indien julle destyds gereeld as paartjies saam gekuier het nie. Moet tog nie jou en jou vervreemde man se probleme met gesamentlike vriende bespreek nie. Hulle wil nie noodwendig van al jul probleme weet en hoor hoe jy hom slegsê nie. Hou die vuil wasgoed vir jouself.

Vriende kies kant

Vriende is geneig om een van julle te ondersteun. Dit gebeur selde dat eens gesamentlike vriende hul vriendskap met jou én jou gewese man behou. Iemand gaan in die proses seerkry; moet dit nie persoonlik opneem as dit jy is nie. Enige egskeiding plaas gesamentlike vriende in ’n moeilike posisie.

Vrees

Baie paartjies is bang dat indien hulle hul vriendskap met ’n vervreemde paartjie behou, hul eie verhouding dieselfde paad-jie sal loop. Hoewel sulke vrese dikwels ongegrond is, kan jy nie jou vriendinne se reaksie op jul vervreemding of egskeiding beheer nie.

Sosiale stigma

Dis nou maar eenmaal so: Irene sê daar kleef steeds ’n stigma aan egskeidings. Getroude pare word makliker in die gemeenskap aanvaar as wat dit met enkellopendes die geval is. Daar bestaan ook die opvatting dat ’n geskeide persoon “losser waardes” het omdat hy of sy nou weer enkellopend is.

Irene sê: “Jou vriende kan dalk bang wees dat jy hulle ná werk vir ’n drankie nooi. Dit kan hulle ongemaklik laat voel, en dan vermy hulle eerder die situasie.”

Wenke om vriendskappe te behou

Moenie veeleisend wees nie.

Enige egskeiding gaan jou verhouding met jou familie en vriende beïnvloed. Begin deur grense te stel. ’n Mens verval so gou in die gewoonte om sommer “af te pak” sodra jy jou vriendinne teëkom. Wees versigtig om tog nie nét oor jou egskeiding te praat nie. Dit mag wel jou hele lewe in beslag neem, maar jou vriendinne het hul eie lewe en probleme en wil nie noodwendig die hele tyd na jou doen en late luister nie. Dit kan vir jou vriendinne begin voel dat jy te veeleisend is, en dat jul vriendskap te veel van hulle vra. Dis normaal om nou ’n groter behoefte aan jou vriendinne se geselskap te hê, maar moet hulle nie onder jou probleme toegooi nie. Dis waarvoor sielkundiges en beraders daar is.

Aanvaar dat jy sommige vriendskap­pe gaan verloor.

Jou gewese man se vriende gaan jou dalk dadelik vermy, en sommige van jou vriendinne gaan as gevolg van jou nuutgevonde enkellopende status bedreig voel. Moenie dit persoonlik opneem nie.

Praat met jou vriendinne.

Soms is dit makliker om in die week te kuier, wanneer jou vriendin se man in elk geval nie saamkuier nie. Wees eerlik oor jou vrese.

Wees waaksaam.

Probeer om tydens sosiale geleenthede nie alleen saam met lede van die teenoorgestelde geslag te kuier nie. Moenie jou vriendin ’n rede gee om jaloers te wees nie.

Wees dankbaar.

Daar gaan wel vriendinne wees wat jou deur jou egskeiding en die fase wat daarna aanbreek, sal bystaan. Koester hierdie mense. Dis húlle, hierdie kosbare vriendinne, wat die moeite werd is om in jou lewe te hê.

Wees beskikbaar vir ander vriendinne.

Jy is nie die eerste mens wie se huwelik op die rotse beland het nie. As jy reeds daardie pad gestap het, weet jy hoe dit voel om sosiaal uitgesluit te word. Jy is die enigste persoon wat werklik ’n ander vrou kan ondersteun wat in dieselfde situasie beland. Reik uit na ander, wees bereid om te help.

Brei jou vriendekring uit.

Aanvaar dat jou vriendekring gaan verander. Gryp die geleentheid aan en maak weer kontak met ou skoolvriendinne en ander met wie jy oor die jare heen kontak verloor het.

Skakel ook in by aktiwiteite in jou omgewing.

Jou kind se skool bied ’n goeie beginpunt. Raak betrokke by funksies en bied aan om met projekte te help.
Word gemaklik met jou nuwe status as enkellopende.

Baie gemeentes het groepe wat spesifiek op enkellopendes gerig is.

Dit is aanvanklik moeilik om alleen na funksies toe te gaan, maar hoe meer jy dit doen, hoe makliker word dit.

Pak ’n stokperdjie aan.

’n Gesin se verpligtinge neem baie tyd in beslag, en soms is daar net nie genoeg tyd om by jouself uit te kom nie. Maak ’n lys van wat jy nog altyd wou doen. Dalk ontmoet jy boonop iemand wat jou belangstellings deel.

Artikel deur LiG-tydskrif

Nog artikels deur LiG (kliek op die artikel wat jy graag wil lees):

My huwelik: Die geheime van gister …

Ek verdien ‘n groter salaris as my man