Die Groot Karoo: Dit begin iewers op die rugstring van ‘n berg op oom Hendrik se plaas in die sentrale Oos-Kaap en eindig op die westelike platorand. Die Swartberge vorm die suidelike grens en die Namibwoestyn die noorde.

Dié stuk aarde beslaan ongeveer 40% van Suid Afrika se totale oppervlakte, staan wydsbeen oor vier provinsies en is die grootste plato van sy sort buite Asië. Hierdie is ‘n land van wye vlaktes, eindelose hemel en boeiende gesteentelae. Dis ‘n 600 miljoen jaar oue stukkie paradys wat toeriste, navorsers en wetenskaplikes aanhou en aanhou betower.

Minder as ‘n miljoen mense, 7 miljoen skape en nog ‘n miljoen bokke bewoon hierdie lappie grond wat groter is as Duitsland. Die helfte van dié mense boer. Die ander helfte is spietkops. Hulle sê die boere en die spietkops is kop in een mus om reisigers, deurryers en wandelaars te laat stop en diep asemteue vat op pad waarheen ookal. Slimmer as ‘n boom vol uile.

Dis die land van skape, windpompe, spietkops en bossies. Bossies is die versamelnaam vir die ongelooflike diverse vetplante, struike en grasse wat hier groei. Hier groei meer verskillende vetplante in die Groot Karoo as die totale flora-verskeidenhied van Groot Brittanje!

Dieselfde bossies voed ook die einste skape van die wêreldberoemde Karoolam-faam. “Spiced on the hoof” is wat internasionale karnivoriese gourmands dié kort-niks-behalwe-bietjie-peper-en-‘n-knippie-sout lamsvleis roep. En die einste bossies word al vir meer as 100,000 jaar gebruik as medisyne deur die Eerste Inwoners – Khoi en San-mense. Hierdie eeue-oue inheemse kennis was so ampertjies verlore.

Lank voor handgemaakte jenewer (craft gin) mode geword het, het inboorling Louise van der Walt, ‘n apteker van beroep, die medisinale eienskappe van Karoobossies begin navors. Uitgevat in stapskoene, slimkop farmaseutiese kennis, ‘n diep liefde vir die plaas van haar kinderdae, hardegat toewyding en die hulp van ‘n paar afstammelinge van die Eerste Inwoners het Louise bossies na bossie gepluk, gekou, gekook, gedistilleer, gemeng, tee gemaak, pasta gemaak, homeopatiese druppels gemaak, getoets en geanaliseer.

Tot daardie noodlottige dag.

Op die dag het sy ‘n ekstrak van aromatiese bossies vermeng met suiwer, graangebasseerde vodka en juniperbessies. Louise noem dit “Die dag toe al my vriende opgehou luister het na my grootse medisinale planne om my in die rede te val met ‘n versoek vir nog ‘n slukkie van die jenewer.”

Die res is geskiedenis. Hierdie is hoe ‘n soeke na medisyne ontaard het in die skep van medisyne vir die siel; ‘n soort detoks vir die hart. Stop. Haal diep asem. Dis mos waarvoor vriende, al is hulle spietkops, daar is, of hoe?

Vandag maak Great Karoo Spirit twee variëteite van BossieveldTM Craft Gin: Vlakhaas (Mystique) en Rooijakkals (Inspiration). Beide bied ‘n unieke kaleidoskoop van boekette en geure, so eie aan die Karoo dit laat jou verlang na iemand wat jy nie ken nie. Selfs jenewer kenners sukkel om die aromas te omskryf, maar almal is dit eens: Hierdie jenewer voer enigiemand mee na hulle gunsteling herinnering van die Karoo. Proe dit. Lééf dit.

Besoek www.bossieveld.com vir meer inligting en ongelooflike resepte en stories.