Kom ons wees nou maar eerlik: Vroue werk anders as mans – hulle lyk anders as mans, word anders hanteer as mans en dink anders as mans wanneer dit by seks kom! Daarom moet vroue ook anders leer dink sodat hulle behoorlik kan maats maak met hulle geslagsorgane en seks regtig kan geniet.

‘n Mens kry mos daardie bolplante wat vir ’n kort rukkie blom en ’n asemrowende rooi, volmaakte blom laat voortspruit. Jy kan jou verkyk aan hierdie pragtige blom, ’n ware hemelse wonderwerk, en hoe perfek God daardie blom geskape het. Weet jy dat jy ook ’n blom het, maar dat min vroue geweet het hoe om húl blomme te sien vir die wonder­skone skepping wat dit is?

Jou blom sit tussen jou bene…

Elke klein dingetjie wat ons dink en weet van seks, was ’n kwashaal in ’n prentjie in ons koppe (nie noodwendig ’n mooi een nie!) met dié boodskap: ’n Vrou se genitalieë is weggesteek – dit lyk van ’n entjie af asof daar eintlik niks is nie, daar is dan nie eens ’n suggestiewe knop in haar broek nie!

Ons kopprentjies sê goeie meisies hou hul beentjies toe en vat nie daar onder nie. In teenstelling met mans, wat alreeds in hul ma se baarmoeder ereksies kry (sowaar!), wie se genitalieë sommer daar buite uithang sodat hulle kan sien wat daar aangaan wanneer hulle ’n ereksie kry en vir wie daar uitdruklik geleer word dat hulle ’n paar keer per dag hulle penisse moet vashou sodat hulle kan piepie. Vir hulle word daar gesê: “Mik!” en vir dogtertjies: “Dis ’n vrou se skaamdele” of “ ’n Dogtertjie sit nie só nie!” (wanneer sy vir ’n oomblik vergeet sy is een van daardie wat moet ontken sy het geslagsdele).

Mans se genitalieë bevestig hierdie kopprentjies sommer vir hulle – wanneer hulle daardie lekker sensasie van ’n ereksie kry, kan hulle net afkyk en sien wat het gebeur en die opgeswelde orgaan lýk sommer of hy iets belangrik daarmee kan doen. Hy kan natuurlik ook enige tyd hierdie sensasies vir homself herhaal deur net ’n kort rukkie daarmee te speel (dié woord klink ook na gesonde pret, nè?) en dan ’n wonderlike orgasme as beloning te kry. Seuns gesels dikwels hieroor en spog daaroor – dis mos “’n man se trots”!

Dogtertjies hoor weer dikwels boodskappe wat impliseer dat meisies wat in seks belangstel, los, sleg of vroeg “vrot” is (klink net nie oulik nie, nè?), of haarself sommer “weggee” en beskikbaar is vir los seks.

Op skool, met seksopvoeding en biologie, word meisies geleer dat seks oor penetrasie en orgasme vir die man gaan, want hy moet sy saad stort sodat die babatjie kan ontwikkel. Die belangrikste deel van hierdie lesse wat sy moet onthou is om aan te dring daarop dat die penetreerder ’n kondoom moet dra sodat sy nie siektes kan kry of swanger raak nie!

Selfs in die films van vroeër jare is daar byna heeltemal ontken dat die vrou op ’n unieke manier seksueel gestimuleer moet word. Seks was uitgebeeld as iets wat die man eintlik doen en geniet – die vrou is maar net daar om hom seksueel op te wek en om hom soos ’n ware bul te laat voel.

Girls: Dis tyd om maats te maak met jou ongelooflike genitalieë! Jou genitalieë is dié kanaal tot nuwe menslike lewe – beslis ’n asemrowende, unieke blom.

’n Vinnige biologieles… Heel aan die begin: Wanneer ba­batjies in hul ma’s se baarmoeders aan die ontwikkel en groei is, lyk ons almal na dogtertjies (jammer vir julle, ouens!).

Op omtrent die ouderdom van so ses tot agt weke swanger­skap begin dinge verander omdat die seuntjie se testosteroon­vlakke styg. Dis dan wanneer die penissie en skrotum begin groei – by die seuntjie bly sy piepiepypie in die penis en sy testikels sak na buite sy liggaam en gaan lê in die skrotum. Binne-in die penis is die wonderwerk-weefsel wat vol bloed kan loop, die penis dan groot en styf maak en dus vir hom ’n ereksie kan gee – een strook van die weefsel aan elke kant, maar vas teenaan mekaar binne die vel van die penis.

Terwyl hierdie dinge met die seuntjie gebeur, ontwikkel die dogtertjie geslagsorgane wat nie oral daar buite hang nie. Sy ontwikkel weer net ’n klein knoppie wat buite uitsteek (die wonderlike klitoris), en haar piepiepypie sak effens af. Daar waar hy ’n skrotum het, is haar groot lippies van haar vulva, haar eierstokkies (amper die ekwivalent van die testikels) bly diep binne-in haar buikholte en sy ontwikkel ook ’n wonderlike baarmoeder. Haar ekwivalent van sy wonderwerk-ereksieweefsel is ook daar (die crurae van die klitoris), maar is weggesteek binne-in haar bekkenholte en bly verdeel in ’n linker- en regterdeel – amper asof hulle die vulva omring.

’n Leer-ken-jouself les vir jou!

’n Vrou kan nie al hierdie wonderlike dinge van haar genita­lieë maklik bykom en sien nie – jy sal baie moet ontdek. Jy sal moet voel, loer en ervaar.

Voel wanneer jy in die bad sit. Voel aan elke deeltjie van jou genitalieë – die groter buitelippe en die kleiner binnelip­pies. Steek een van jou vingers in jou vagina in – voel ook hoe dit voel wanneer jy met die spiere rondom jou vagina jou vinger knyp en ontspan. Jy kan ook afdruk, asof jy hoes terwyl jou vinger in jou vagina is, sodat jy kan voel hoe anders hierdie sensasie is. Voel aan die hele area rondom jou klitoris – raak bewus van die unieke sensasies van hierdie spesiale area.

Gelukkig het die mensdom ook spieëls ontdek en jy sal met ’n goeie spieël moet gaan loer hoe mooi hierdie blom is. (’n Tablet se foto of video na-jou-toe-afneem-funksie werk ook goed – maak net seker jy delete dit ná die tyd!). Gun jouself ’n bietjie me-time en privaatheid en gaan kyk ’n slag ordentlik hoe lyk hierdie pragtige deel van jou lyf. Nog beter – laat die spieël staan sodat jy albei jou hande los het. Hou die groot lippe uitmekaar uit met jou een hand sodat jy ’n bietjie dieper kan ondersoek instel en voel en vryf met jou ander hand se vingers. Moenie haastig wees nie – vat jou tyd met elke deeltjie. Jy gaan alles eers bekyk sodat jy mooi kan sien wat oral aangaan, maar dan gaan jy ook jouself stimuleer sodat jy kan ervaar hoe lekker jou lyf gestimuleer kan word!

Smeer heelwat smeermiddel (water- of silikoon-gebaseer, geen geurmiddels nie) oral oor jou vulva en veral rondom die klitorisgedeelte. Voel die sensasies, kyk mooi na die verandering wat plaasvind. Wees bewus van wat jy voel, sien, hoor en ruik en van die unieke seksuele sensasies wat in jou hele onderlyf opgewek word.

Hou in gedagte dat, omdat daar net ’n klein deeltjie van die vrou se genitalieë buitekant haar bekken beskikbaar is om by te kom vir stimulasie, dit ’n rukkie kan vat vir jou om dit genoeg te kan stimuleer. ’n Man kan sy penis op en af wikkel en skuur en kan só maklik gestimuleer word, maar ’n vrou kan net die puntjie van haar klitoris bykom en omdat dit nie buitekant los hang nie, is dit moeiliker om te stimuleer en vat dit ’n bietjie langer. (Vroue se klitorisse kan nie “getrek” word nie – net gevryf word!)

As jy lank genoeg die area rondom jou klitoris en die klitoris self stimuleer, sal die hele area van die vulva begin verander – dit word klam, swel op en word donkerder van kleur. Die blom verander van gedaante en word nog meer sensueel. Geniet die sensasies!

Voeg ’n bietjie kopprentjies by – dink aan kere wat jy lekker seks gehad het met jou man of kry weer ’n duidelike prentjie in jou kop van die dele van sy lyf wat jou so gek maak. Hou jou genitalieë dop en geniet dit wat jy voel en sien.

Jou ereksie gebeur elders. Soos wat jy jouself stimuleer deur te vryf en aan alles te voel, dink hieraan: Die buitenste, sigbare deel van jou klitoris swel, maar daar is ook binneste gedeeltes daarvan wat diep in jou pelviese area in strek (onthou die weefsel wat ekwivalent is aan die erektiele weefsel van die penis se skag). Die crurae van die klitoris strek in ’n linker- en regterhelfte om jou vaginale holte, raak vol bloed en swel ook op wanneer jy seksueel gestimuleer word. Dit beteken dat die hele area heerlik kan opswel – dit gebeur net binne-in jou lyf en steek nie buite jou lyf uit (soos manlief s’n) nie. Die hele blom het dus baie lagies en pragtige “blare” wat opswel, klam en vol kleur word.

Wat van jou G-kol?

Daar is wel nog ’n lekker plekkie wat jy kan gaan soek met jou vingers. Steek twee vingers in jou vagina in en druk teen die boonste (voorkant) wand van jou vagina. Jy moet nogal hard druk en kan dan die G-kol sowat 2,5cm dieper opspoor. Die oppervlakte van die vagina voel vir die meeste vrouens in die omgewing van die G-kol growwer as die res. Jy sal weet jy het dit ontdek as dit amper vir jou voel of jy moet gaan piepie.

Ontdek die ervaring van jou G-kol stimuleer. Dis nie ’n aan-en-af skakelaar waarop jy moet druk nie, maar dit verskaf wel ander sensasies omdat dit uit effens anderste weefsel ontwik­kel en anders reageer as die res van jou genitalieë.

Terwyl jy besig is met al hierdie selfondersoek – as jy jouself betrap dat jy dalk dink daar is iets fout met jou, dat jy darem nou wraggies besig is om losbandig te wees en as jou ouers jou nou kan sien sal hulle respek vir jou verloor… Veg teen hierdie gedagtes, stoot hulle uit die pad en laat hulle goed verstaan jy is nou besig met iets anders en jy sal later oor hulle dink! Verwag dat daar moontlik gedagtes vanuit jou destydse “programmering” kan opduik. Herinner jouself dan dadelik daaraan dat jou genitalieë en jou seksualiteit ’n wonderlike gawe is – ’n pragtige deel van jou lyf en ’n juweel wat jy gekry het om ten volle te kan geniet!

Hier is die bottom line: Jy het waarskynlik as vrou ’n effense agterstand as dit kom by gemaklik wees met jou genitalieë.

Dis dalk vir jou maklik om aan jou nuut geverfde naels te dink as pragtige skulpies of aan jou hare te dink as ’n pragtige sygordyn. As jy regtig aan jou genitalieë wil dink as ’n pragtige, unieke, sensuele blom – begin met klein treetjies op ’n won­derlike reis en ontdek en geniet elke ervaring van maats maak met jou genitalieë!

 

Deur Wilmé Steenekamp