Dis jou toevlugsoord – die plek waar jy net jouself kan word en van die dag se spanning ontslae kan raak. Met die regte meubels en toebehore kan jy jou slaapkamer in ’n kalm hawe omskep.
Daar kom ’n stadium in elke paartjie se lewens wat hul slaapkamer chaoties lyk. Daar is ’n tydperk wat dié vertrek ’n ruimte-in-wording is, met kinderspeelgoed, ekstra matrasse en alles wat die res van die huis deurmekaar maak. Maar dan, wanneer die kinders bietjie groter word, besef so ’n paartjie opnuut dat dit ’n baie belangrike ruimte in die huis is. Dáár waar jy en jou maat saam fluister, droom en vuurwerke maak. Neem die volgende stappe en maak jou slaapkamer sensueel:
1. Elimineer klotter en luister na die ghoeroes wat sê ‘Less is more’. Jy sal beleef hoe jy skielik kan asem skep. Raak eers ontslae van alles wat jou slaapkamer beknop maak en besluit dan wat jy wil doen.
2. Beskou jou slaapkamer en badkamer as een aaneenlopende ruimte en probeer om ’n goue draad van jou slaapkamer na jou badkamer te laat loop deur middel van ’n kleurskema.
3. Oorweeg ligte, kalm kleure. Dit hoef nie alles wit te wees nie, maar sagte eierdop-en-vere kleure kan ’n kalm atmosfeer in jou slaapkamer skep. Dit sal jou lekker laat slaap, terwyl ’n kleurvolle slaapkamer nie dieselfde kalmerende uitwerking sal hê nie.
4. Onthou, jou bed is die fokuspunt in jou slaapkamer. Oorweeg dus die slaapkamermeubels wat jy tans het, of wat julle beplan om aan te skaf en maak die muur agter jul bedkopstuk spesiaal met foto’s, mooi muurpapier of treffende woorde.
5. Dink aan teksture wanneer julle jul bed tooi. Wat van ’n dik wolkombers, fluweelkussings, ’n grof gehekelde bedsprei? Bring teksture van buite na binne, en herhaal dit met strooikussings op ’n stoel in die badkamer, dik, snoesige handdoeke en sagte matte.
6. Oorweeg ’n luukse badkamerreeks soos dié van Beauty Factory se Earthbound wat jy in jou slaapkamer badkamer kan gebruik. Hul Cloud Nine reeks weerspieël vars, koel dae met die belofte van verandering en geure soos kamille en kasjmier.
Dink aan hoe jy al jou sintuie kan inspan wanneer jy jou en-suite slaapkamer binnetree. ’n Stil vertrek wat lekker ruik en kalm lyk en voel, skep ’n vars begin en skoon bladsy vir jou en jou maat om jul aande en jul môres op te skryf…