Ons het geweet dié opskrif gaan jou verder laat lees. En ja! Ons wil jou aanmoedig om ‘n affair te hê – met jou eie maat. Só doen jy dit.

Promosie

Die opwinding het Anine se bloed laat bruis. Sy het Jonathan in ‘n koffiewinkel ontmoet. Soggens het sy vroeg vanaf Pretoria Johannesburg toe gery om tyd te spaar en omdat hul kantore nog nie daardie tyd van die oggend oop was nie, het sy haar tyd hier verwyl, agter haar skootrekenaar met ‘n Matcha Latte.

Jonathan het haar elke oggend hier gesien. Een oggend was daar beurtkrag en sy en Jonathan het aan die gesels geraak. Hy het belanggestel in wie sy was en wat sy doen. Toe sy opstaan, het hy aangedring om die rekening te betaal en sy’t met ‘n vreemde gevoel in haar binneste daar weggestap. Sy het heeldag aan hom gedink en die aand gewonder of hy die volgende dag ook daar sou wees.

Hy wás en so het hulle affair ontstaan. Die gesprekke het meer intens geraak, die aanrakings meer gereeld … En een dag was die energie seksueel só gelaai dat hulle van daar af direk na ‘n hotelkamer toe is. Nodeloos om te sê – die affair het skaars ‘n jaar gehou, beide se huwelike is verbrokkel en hul kinders sit vandag met die letsels van hul ouers se dade.

Promosie

Maar het jy al gewonder oor die gedagte van ‘n affair? Daar is tog ‘n goeie rede waarom soveel mense hul tot buite-egtelike verhoudings wend en daarmee voortgaan téén hul beterwete.

Miskien is dit tyd vir jou om ‘n affair te beproef. Wat sal jy maak as ons vir jou sê jy kan dieselfde opwinding en vlinders-in-die-maag beleef én waarde tot jou huwelik voeg, sonder dat jy enigsins iets hoef in te boet?

Dis natuurlik dat ‘n huwelik ná ‘n paar jaar ‘n bietjie flouerig kan voel. Roetine en oorlewing maak ‘n mate van verveling byna onafwendbaar. Dis ‘n gevaarlike plek om in te verkeer, want dit is dikwels dán wanneer jy vatbaar is vir ‘n affair. Jou oë dwaal en ‘n gesprek wat net té persoonlik raak, laat jou speel met die gedagte om iemand nader aan jou toe te laat. Soms is so ‘n affair seksueel, maar dit hoef nie eens seksueel te wees nie. Emosionele affairs kan ook ‘n huwelik vernietig.

Die webtuiste smrnation.com sê dat ‘n affair gewoonlik nie gaan oor die ander persoon of die seks nie, maar meer oor die risiko en die avontuur.

So, oorweeg ‘n affair met jou eie maat:

  1. Iemand moet die ysbreker wees. Fluister: “Ek wil ‘n affair hê … met jóú,”en hoor hoe jou maat daaroor voel. Verduidelik hoekom jy voel julle kan dóén met ‘n bietjie woema en wys vir hom hierdie artikel.
  2. Begin jou affair aanlyn. Stuur vir jou maat ‘n epos van ‘n privaat-rekening af (maak seker dat hy weet dis van jou af) en moedig hom aan om ook sy eie rekening oop te maak (deur Hotmail of Yahoo). Skryf iets soos: “Ek raai jou aan om ‘n ander epos rekening oop te maak sodat jou vrou nie hiervan uitvind nie …”
  3. Gebruik skuilname. Iets wat effe stout is, maar nie só dat dit onrealisties is nie. Onthou dat julle hierdie affair so lewensgetrou as moontlik moet maak en jy sal twee keer dink om te reageer op ‘n epos van iemand met ‘n vulgêre gebruikersnaam, hoewel ‘n uitnodigende en ietwat suggestiewe naam dalk jou aandag kan trek.
  4. Gesels aanlyn, asof julle mekaar nog nooit ontmoet het nie. Vra jou maat uit oor wie hy is, waar hy woon, wat hy doen. Reageer gunstig op sy antwoorde en wy ook bietjie meer oor jouself uit sonder om té veel te verklap (geheimsinnigheid is altyd ‘n goeie opsie).
  5. Verleiding is ‘n broodnodige bestanddeel gedurende dié proses. In ‘n eksperiment deur Elaine Hatfield en haar twee kollegas, is gevind een van mans en vroue se top twee begeertes is dat hul maats meer verleidelik moet wees. Miskien voel jy nie gemaklik daarmee nie, maar jou alter-ego wel …
  6. Wanneer julle sowat twee weke lank hierdie aanlyn affair voortgesit het, stel eendag voor dat julle mekaar iewers ontmoet. Dis belangrik dat dit net ‘n ‘ontmoetings-afspraak’ is (soos ‘n koffie-afspraak) en die ooreenkoms moet wees dat julle dan terugkeer na jul normale dag.
  7. Wanneer julle mekaar ontmoet, sal dit ‘n mate van goeie rolspel verg. Maak asof julle mekaar nog nooit ontmoet het nie, gee mekaar ‘n ongemaklike piksoen en komplimenteer mekaar. Moet geen opmerkings maak oor jul ‘ware lewe’ nie.
  8. Handhaaf ‘n lae profiel gedurende hierdie afspraak (hou byvoorbeeld jou sonbril op) en ‘skuil’ agter jou hand. Besluit ook op ‘n plek waar niemand julle sal herken nie – jul doel moet wees om nie ‘uitgevang’ te word nie.
  9. Gaan voort met die epos gesprekke en skelm afsprake. Elke keer kan die eposse ‘n bietjie meer ‘stout’ raak – so ook jul ontmoetings. Wanneer julle voel die tyd is ‘ryp’, kan julle ‘n hotel bespreek vir die ‘volgende stap’.
  10. Wanneer julle as ‘minnaars’ uitgaan, soek maniere en plekke om ‘n vinnige quickie in te werk voor julle moet terugkeer na jul normale lewens toe. Maak jul sekslewe super opwindend. As julle altyd terugval op die sendelingposisie, maak seker dat hierdie posisie nié seëvier in die affair nie, maar beproef alles waaroor jul nog altyd gedroom het.

Kliek hier om meer te lees oor ‘Die Kyk’ in jou huwelik!

3 Goue reëls:
  • Moet jou maat nooit vir affair-seks by die huis ontmoet nie. Onthou, deel van die avontuur is om nuwe, opwindende plekke te soek om mekaar te ontmoet.
  • Daar mag geen verwysing na ‘die affair’ wees as julle by die huis is nie. Julle ware selwe moet as’t ware heeltemal ónbewus wees van wat jul alter-ego’s aanvang.
  • Moenie jul affair met enigiemand bespreek nie. Dit moet jul grootste geheim wees!
Affair + huwelik = ‘n wenkombinasie!

In ‘n stadium sal julle hierdie deel van jul verhouding terug in jul huwelik moet voeg (‘n affair is uitputtend!). Maar ry die golf solank julle kan en kom ooreen oor wanneer julle voel die tyd is ryp om dit te beëindig. Doen dit deur ‘n gesprek met jou ‘minnaar’ te hê oor sy/haar ervaring gedurende die avontuur.

Besluit op ‘n afspraak wat die ‘einde’ van jul affair en die begin van ‘n ‘nuwe huwelik’ sal merk. Gedurende dié gesprek kan gevoelens en gedagtes bespreek word wat julle later in die huwelik kan inkorporeer. As julle suksesvol was, sou die proses nuwe passsie en avontuur in jou en jou maat ontlok. Jy het miskien meer gewaag as wat jy ooit in jou huwelik sou, en jou waagmoed is iets wat vir jou man onweerstaanbaar was.

Dink aan maniere waarop jy dit in jou huwelik kan laat groei. Beskou die affair as ‘n leerskool en ‘n ervaring waarmee julle jul ware huwelik ‘n nuwe begin kan gee.

Addisionele bronne: www.blogs.psychcentral.

Artikel deur Annelize Steyn

Indien opsoek is na meer sulke artikels en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!