Jy het gehoor ‘opposites attract’ en glo dit eenhonderd persent, want hoe langer jy en manlief getroud is, hoe meer kom jy agter net hóéveel julle verskil. Soms voel dit vir jou asof jy met ‘n vreemdeling getrou het! En dít is waarom persoonlikheidstoetse dalk ‘n goeie idee is…
Ek en manlief was onlangs in ‘n taai situasie. Ek het ‘n heerlike Europa-reis haarfyn in my kop beplan. Die roete was uitgelê, die AirBnB’s reeds op ‘n ‘finaliste-lys’en my Pinterest-borde het gewemel van die mooiste foto’s en mees opwindende ekskursies. My man was nog nie heeltemal bewus van die vakansie wat ek vir ons beplan het nie en toe hy daarvan uitvind, het hy my heerlike helium-ballonnetjie wreed geprik. Hy het talle redes gelys waarom die Europa-vakansie nie nou vir ons op die kaarte was nie en ek was gekrenk en sommer neerslagtig omdat hy nie dadelik aan boord was nie! Skielik het twee van ons sterkste eienskappe weereens baie duidelik geword. Ek is ‘n dromer en idealis en my man ‘n praktiese en deurdagte realis. Ek leef graag in die toekoms en my man hou daarvan om nostalgies te raak oor die verlede. Ons is anders aanmekaar gesit en dit is hoekom sy reaksie my teleurgestel het. Wat my net weereens laat besef het hóé belangrik dit is om mekaar se persoonlikhede te ken, te interpreteer en te verstaan.
Daar is verskeie persoonlikheidstoetse beskikbaar – van die DISC tot Gallup Strenghtsfinder. Maar die Myers-Briggs Type Indicator (MBTI) toets is seker die persoonlikheidstoets wat die meeste gebruik word. Dit bepaal of jy ‘n ekstroverte (E) fokus of ‘n introverte fokus (I) het. In ‘n huwelik is jy dalk ‘n ekstrovert en manlief ‘n introvert, wat vanselfsprekende uitdagings inhou. Die toetse bepaal ook of jy inligting sintuiglik (S) of intuïtief (N) verwerk. Miskien kyk jy na die groter prentjie, terwyl die skewe prentrame jou man enduit frustreer! Hierdie persoonlikheidstoets stel vas of jy jou besluite met jou denke (T) neem of met jou gevoel (F). As jy besluite neem met jou gevoel, kan dit jou rasend frustreer as manlief vir elke probleem ‘n oplossing verskaf, terwyl al wat jy nodig het, empatie is. En dan is daar die laaste faktor wat bepaal of jy oordeelkundig (J) of waarneembaar (P) is. As jy oordeelkundig is hou jy van struktuur en kan dit jou mal maak as jou waarneembare maat dubbel so lank as jy neem voor hy/sy ‘n besluit neem.
Die MBTI toetse is maar net een van die tientalle toetse wat jy en jou maat kan doen om mekaar beter te verstaan. “Ons hou daarvan om te glo die wêreld is kategoriseerbaar,” skryf Emma Roller in Slate Magazine. Aan die donker kant van die menslike aard, is die begeerte om die wêreld te vereenvoudig … op ‘n ligter trant, maak dit lyste super pret! Die lewe is soveel makliker as jy mense in verskillende bokse kan pak.” Dis miskien ‘n effe siniese beskouing van persoonlikheidstoetse, maar dink aan hoe jy inligting verwerk. Toe jy studeer het, het jy ‘n vrag hoogdrawende inligting vir jouself in makliker taal en eenvoudiger feite verpak sodat jy dit beter kon verteer en onthou. Dieselfde geld vir persoonlikheidstoetse. Die mens is ‘n komplekse wese en om jou maat beter te verstaan, het jy ook ‘n behoefte om hom/haar in sekere kategorieë te plaas.
Hoekom? Want begrip kweek geduld en dit verbeter kommunikasie. Jy doen tog ‘n persoonlikheidstoets om jouself of jou optrede beter te verstaan. Dink net hoe ‘n handige instrument jou maat se persoonlikheidstoets vir jou kan wees. Jy plaas jouself in sy/haar skoene en kry meer begrip vir hoekom hy/sy dinge anders beskou as jy – én dat hul perspektief net so geldig is soos joune. Mense kyk nie net verskillend na die lewe nie, maar ook na liefde. Jou persoonlikheidstipe kan onder meer bepaal hoe jy na jou maat se behoeftes kyk, hoe jy jou liefde vir jou maat aan hom en aan ander betoon, hoe jy jou maat beskerm en tot watter mate jy jou maat oordeel of nie.
Onthou egter dat persoonlikheidstipe profiele handig kan wees, hoewel dit nie ‘n presiese wetenskap is nie en ook nie in sement gegiet is nie, meen outeur en blogger, Mark Merril. Mense kan verander, groei en meer volwasse raak. Onthou ook dat jy nooit jou persoonlikheidstipe as ‘n verskoning behoort te gebruik nie. “Ek is so gemaak en so gelaat staan. Jy moet my aanvaar soos ek is,” gaan julle nie ver met probleemoplossing in jul huwelik bring nie. Daar is ‘n verskil tussen persoonlikheid en gedrag, meen hy. Die eerste is wie ons is, en die tweede is hoe ons optree. Dit is heeltemal binne jou vermoëns as ‘n Godgeskape wese om na jou maat toe te buig as dít is wat jul huwelik verg.
Probeer gerus dié drie gratis toetse:
www.testcolor.com is ‘n toets waar jy ‘n aantal gekleurde blokkies kry en in volgorde van jou voorkeur op hulle moet kliek. Daarna kry jy weer die blokkies maar dié keer moet jy hulle orden op die teenoorgestelde trant. Daarna gee die rekenaar vir jou jou uitslag. Dit is ‘n blitsvinnige toets. Ek weet nie hoe dit werk nie, maar dit is verstommend akkuraat!
www.16personalities.com evalueer jou volgens die Myers-Briggs Type Indicator toets deur jou 60 aanlyn vrae te vra. ‘n Oulike evaluasie wat omvattend is met onder meer ook ‘n afdeling wat jou romantiese verhoudings bespreek, maak dié ‘n wonderlike persoonlikheidstoets vir selfontdekking en om jou maat beter te verstaan.
www.41q.com is ‘n soortgelyke toets aan bogenoemde, maar dié toets gebruik slegs 41 vrae met ‘n meer van ‘n swart-en-wit benadering. Waar jy met bogenoemde toets verskeie opsies het wat wissel van ‘strongly agree’ tot ‘strongly disagree’ kan jy hier net die een of die ander kies. Tog was die resultate, net soos met bogenoemde twee toetse, verbasend akkuraat en die uitslag tussen die meer omslagtige toets en dié een heeltemal ooreenstemmend.
En bestee jou geld op dié een…
Marriage Capsule se 7 weke uitdaging is ‘n huwelikskursus, gebou op 11 jaar se ervaring in huweliksgeluk (en ontwikkel deur INTIEM). Wanneer jy dié kursus koop, kry jy en jou maat toegang tot ‘n magdom inligting, interaktiewe toetse en raad om jul huwelik te bou. Die kursus bevat ook ‘n baie unieke persoonlikheidstoets (wat jy nêrens anders sal kry nie) en beide maats volgens vier watervorme evalueer asook hóé julle saam as ‘n kombinasie slaag. Vir meer inligting oor die kursus, besoek intiem.co.za/7-weke-uitdaging
Kan jy en manlief baatvind daarby om mekaar beter te leer ken? Ons glo enige paartjie kan! Maak dus ‘n date night hiervan. Skuif agter jul selfone in, elk met ‘n glas wyn, en doen ‘n persoonlikheidstoets of drie. Ruil nou jul selfone uit sodat elkeen die ander se persoonlikheid profiele kan sien. Dit is belangrik om dit nie hier te laat nie. Bespreek die resultate. Die kanse is goed dat die toetse iets oor jou maat sal openbaar waarvan jy nie bewus was nie.