Spreuke 15:1 sê: “’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam.” Dit is nie altyd wát jy se nie, maar soms ook hóé jy dit sê. Ja, dit is dalk ‘n cliché, maar dit dra water…
“Kan jy tog net vir eens in jou lewe die GPS gebruik!” het sy geroep toe hulle vir die derde keer by dieselfde T-aansluiting uitkom. Estie en Dewan was op pad na hul verblyf in ‘n klein dorpie in die Noorde van Italië. “Jy hét nie rigting nie, maak vrede daarmee!” het sy voortgestu en haar hande in die lug gegooi. Dewan het tjoepstil gebly. Dit was hoe sy met haar kinders ook praat en deur die jare het hy gewoond geraak aan haar woorde wat al hoe krasser word en haar stemtoon wat al meer van irritasie getuig het.
Hy het ook geleer dat sy stilte nie die situasie aanhelp nie. “Ons gaan wátter tyd vanaand by die B&B aankom, ek weet nie eers of hulle vir ons gaan oopsluit nie en dit sal jóú skuld wees!” Sy het reaksie gesoek, maar Dewan het op sy tong gebyt. Vir nog drie minute het Estie die beskuldigings voorgeslinger.
“Laat ék tog net more bestuur!” Kliek. Dewan het skielik gepraat: “More vlieg ek terug Suid-Afrika toe,” het hy kalm teruggeantwoord. “More-aand slaap ek vir die heel laaste keer in Verweystraat 16. Jy kan Italië platreis op jou manier vir solank jy wil. Maar ek wil nie meer met jou getroud wees nie.”
Hoe praat jy met jou maat?
Shautni Feldhan, sosiale navorser en outeur het gevind dat een van die belangrikste faktore in die huwelik is hoe lewensmaats elke dag met mekaar praat. Die probleem is egter: Hoe langer ons getroud is, hoe minder dink ons hieroor. Ons voel dat ons nie meer ‘n wag voor die mond hoef te hou nie. En dan neem ons dit dikwels te ver…
“Ek is ‘n reguit tipe mens.” Dit is woorde wat baie mense as verweer gebruik wanneer hulle harde woorde teenoor iemand anders uiter. “Brutale eerlikheid is noodsaaklik in ‘n huwelik,” glo ander. En hoewel ons saamstem daarmee dat jy nie geheime vir jou maat mag hê nie, moet ons met Shaunti saamstem wanneer sy noem dat sagte woorde nie onderskat mag word nie.
‘n Man het vir haar gese: “Ja, jy moet eerlik wees. Jy moet die real deal deel. Maar daar is tye wanneer jy ook moet versigtig wees. Jy moet seker maak dat jy op só ‘n manier praat dat dit nie die gevoelens seermaak van die een vir wie jy die liefste is nie.” En dikwels gaan dit nie eers oor wát jy sê nie, maar oor hóé jy dit së.
Hoe sê jy wat jy sê?
In sy boek The Relationship Cure, skryf John Gottman die volgende: Wanneer dit kom by die betekenis van kommunikasie in verhoudings, kom slegs 7% daarvan vanaf die gesproke woord, terwyl 38% kom van stemtoon en spraakpatrone. Sommige woorde kom neutraal voor, maar verander van betekenis wanneer dit op ‘n sarkastiese, vernederende manier gesê word, sodat die luisteraar seergemaak en gedisrespekteer voel. Jou stemtoon is dus ‘n bepalende faktor van jou verhouding se sukses.
In ‘n studie aan The University of Southern California is honderde gesprekke in huweliksberading-sessies opgeneem. Daar is gekyk na hoe huweliksmaats met mekaar praat, veral gedurende spanningsvolle scenarios. Selfs veranderinge in stemtoon wat oomblikke van intense emosie aandui, is ondersoek. Daarna het die navorsers gekyk hoe die ander party hierop reageer en is die gesprekke met mekaar vergelyk. Die studie het bevestig wat ons reeds weet: Dit gaan nie soseer oor wát jy sê nie, maar oor hoe jy dit sê. Jou stem, eerder as jou gedrag, kan die uitkoms van jou huwelik bepaal.
Vra jouself die volgende vrae:
- Hoe klink jou stem wanneer jy praat? Luister na die toonhoogte van jou stem en hoe dit fluktueer. Praat dieper en laer om jou maat rustig te maak – ‘n hoë stemtoon kan onvolwasse of verdedigend klink. Gaan jou stem op wanneer jy ‘n sin afsluit? Dit kan verwarrend wees vir jou maat want dit kan klink soos ‘n vraag.
- Is jy gespanne wanneer jy jou punt wil oordra? Wanneer jy kwaad, gefrustreerd of gespanne is, sal dit in jou stem reflekteer. Jou liggaam span soos ‘n snaar en jou maat sal jou spanning aanhoor in wat ook al jy kwyt raak.
- Hoe vinnig praat jy? Praat stadiger om seker te maak jou maat verstaan en absorbeer wat jy sê. Maar wees versigtig dat jy nie klink asof jy dink jou maat is dom nie. As woede of frustrasie maak dat jy die pas van jou stem versnel, let daarna op en praat stadiger en duideliker om jou standpunt oor te dra
- Hoe klink die timbre van jou stem? Dit is die emosionele lading van jou stem. Dit is hiermee wat jou maat sal bepaal wat hy/sy waarlik hoor en verstaan uit wat jy sê. Dink aan die emosionele kwaliteit waarmee jy jou boodskap oordra, wees waarlik bewus hiervan.
- Klink jy veroordelend? Dink mooi aan jou stemtoon en gesigsuitdrukkings wanneer jy hoor van optrede wat nie jou goedkeuring wegdra nie. Is dit hoe jy reageer wanneer jou maat vir jou iets vertel? Dan kan jy seker wees dat hy/sy in die vervolg eerder hierdie inligting sal weerhou.
- Is Sarkasme jou middelnaam? Wees baie versigtig hiervoor. As jou maat iets met jou deel of aan jou iets voorstel en jy reageer met ‘n sarkastiese stemtoon, sal jou maat ophou om voorstelle te maak en sy/haar doen en late met jou te deel.
- Hoe korrigeer jy jou maat? Wanneer jou maat ‘n woord verkeerd spel in ‘n e-pos, lag jy, spot jy hom of help jy hom in liefde reg? Korrigeer op ‘n negatiewe manier en jou maat sal op die verdediging wees. Doen dit op ‘n liefdevolle manier en jou maat sal dit in liefde aanvaar.
- Blaf jy bevele? Hoe vra jy jou maat om jou ‘n guns te doen? Vra jy dit op ‘n mooi manier wat klink asof jy hom/haar ‘n opsie gee om te weier? Of blaf jy bevele uit wat jou laat klink soos ‘n diktator? Laasgenoemde kan die warmte in ‘n huwelik steel – wat moeilik is om terug te kry.
- Gebruik jy kras woorde? Is kras taal en selfs vloekwoorde deel van jou woordeskat? Dink twee keer wanneer jy dit teenoor jou maat gebruik, want dit dui op disrespek. Praat mooi met jou maat, praat sag en julle huwelik sal gedy.
Addisionele bronne: www.focusonthefamily.com; www.tonyrobbins.com; www.uncommen.org
Artikel deur Annelize Steyn