Dit is natuurlik om soms nostalgies te raak oor die ‘goeie ou dae’ toe julle pasgetroud was en op liefde en water oorleef het. Moet net nie vasgevang raak in die verlede nie.
Elke paartjie het herinneringe. Kosbare herinneringe wat hulle terugroep na ‘n tyd toe hulle jonk en verlief was. Daar is die snaakse herinneringe soos toe hy met sy son-allergie soos ‘n afkop-hoender deur die vakansie-woonstel gehardloop het of die koshuisvader hom om middernag in jou koshuiskamer betrap het. Daar is herinneringe wat saam met ontnugtering kom, soos die ontdekking dat die koffiewinkel waar julle mekaar se diepste wesens leer ken het, intussen plek gemaak het vir ‘n wolkekrabber. Daar is die mooi nostalgie, soos jul eerste soen agter die verhoog. Of die eerste kyk in jul eersteling se oë met die besef dat sy jou maat se kenkuiltjie gekry het…
Nostalgie is ‘n wonderlike, intieme ding. Dit is wat julle aanmekaar bind. Dit is ‘n gedeelde verlede wat ‘n gedeelte toekoms soveel aantrekliker maak. Nostalgie is wat ons daartoe dryf om soos besetenes te kere te gaan as iemand ‘n koffiebeker op ons trou-albums neersit. Dit is die naarstigtelike soek na iemand om ‘n VHS video op CD oor te skakel. Dit is die onophoudelike soektog na die liedjie wat gespeel het met jul eerste dans wat jy nêrens in die hande kan kry nie… Maar as jy nie versigtig is nie, kan jy só vasgevang raak in die verlede dat jy nie vorentoe beweeg nie, meen Thorin Klosowski op die webtuiste lifehacker.com.
Die term ‘nostalgie’ het ontstaan deurdat Sweedse dokters in die laat 1600’s ‘n woord gesoek het om die behoefte aan die herlewing van die ‘goeie, ou dae’ te beskryf. Dis neergepen as ‘n sentimentele verlange na die verlede en wanneer mense hieroor gevra word is dit dikwels herinneringe soos vakansies, graduerings, verjaardae, troues en soortgelyke ervaringe saam met vriende, familie of romantiese maats wat geopper word.
Dit is ‘n emosie wat ons telkemale beleef en wat gesneller word deur byvoorbeeld ‘n spesifieke reuk (die parfuum wat jou maat gedra het die dag wat jy haar ontmoet het), ‘n herontmoeting met ‘n goeie vriend, ‘n liedjie… en volgens ‘n studie wat in Memory&Cognition gepubliseer is, kom die herinneringe dikwels uit die jare tussen die ouderdom van 12 en 22 (want dit is wanneer ‘n mens jou selfbeeld ontwikkel). So, dit is goed om soms nostalgies te raak. Dit kan jou selfbeeld ‘n hupstoot gee, jou lewe meer betekenis gee en die eensaamheid hokslaan. Kenners meen dat nostalgiese herinneringe dikwels ingespan word deur ‘n mens om jouself waardevol te laat voel. So, om daardie dae van ontmoeting te herleef, die wonderlike eerste herinneringe wat julle gemaak het toe julle pas getroud was, is goed, maar… om slegs die verlede deur ‘n rooskleurige bril te beskou, kan skadelik wees. Veral wanneer julle op die verkeerde dinge fokus of mis kyk hoe die verlede die mense wie julle vandag is, gevorm het.
As jy slegs fokus op hoe ontspanne en geesdriftig jou maat dertig jaar gelede was, kan nostalgie jou laat voel asof hy deesdae nét gespanne is en lewenslus verloor het. Om te fokus op die eerste drie jaar in jul lewe toe jul passie nie geblus kon word nie, kan die feit dat julle deesdae amper nooit meer seks het nie, net verlig…
So, as jy fokus op die goeie in die verlede, is dit gesond. Maar as jy heeltyd die verlede en die hede met mekaar vergelyk met die houding dat die toekoms nooit hierteen kan opweeg nie, het julle moeilikheid. Dit gebeur ongelukkig baie maklik. Dink terug aan toe jou kinders baie klein was. Vandag kyk jy na hul foto’s en onthou net die goeie. Die lekker-lag oomblikke, die oulike woordjies, die waggelbeentjies… jy vergeet heeltemal die doodmoeg-pajamadril-nagte, die vrees wat gepaardgegaan het met jou kinders se koors-nagte, en die laerskool huiswerk.
Psychology Today meen dat jy jou verlede met jou hede moet herkonnekteer, in plaas daarvan om hulle met mekaar te vergelyk. Dink aan hoe jou verlede jou gevorm het tot wie jy vandag is, in plaas daarvan om te verlang na die wêreld wat was. Dink ook aan dinge soos flieks, musiek en fiktiewe karakters waaroor jy nostalgies is. Koester jou gunstelinge, maar moenie nuwe geleenthede opsyskuif nie. Die kanse is goed dat jy nooit weer so lief gaan word vir nuwe musiek soos die musiek wat jou gunstelinge was in jou jeug nie. Die rede hiervoor is dat hierdie musiek die klankbaan was vir van jou beste herinneringe. Maar as jy jou slegs hierteen vas staar, kan jy uitmis op opwindende nuwe musiek.
Dit geld vir jou en jou maat ook – in jul huwelik. As julle mooiste herinneringe gebou is rondom studente date nights met pizza en Hunters, en julle naarstigtelik hierdie herinneringe wil behou deur dit in die hede te herhaal, verhoed dit julle om nou te eksperimenteer met ander moontlikhede vir date night. BBC skrywer Damian Bar som dit só op: “Jy moenie die verlede herbesoek as ‘n manier om die hede te vermy of nie oor die toekoms te dink nie. As jy te veel tyd bestee daaraan om oor die verlede te dink, gaan jy eenvoudig nie sosiaal of emosioneel voorbereid wees vir die toekoms nie.” Julle wil tog nuwe herinneringe skep, maar dit gaan nie gebeur as julle sê: “Kom ons kyk Friends oor en oor, want daar is niks nuwe reekse wat hiermee vergelyk” nie. Of “Kom ons bestel maar ‘n Prawn Cocktail, want die afgelope vier dekades kon geen sjef iets skep wat hier naby kom nie”. Wanneer nostalgie julle verhoed om nuwe herinneringe te skep omdat julle té besig is met die verlede, het julle moeilikheid.
As julle nou drie dekades getroud is, dink julle met nostalgie terug aan dertig jaar gelede. Nou is die tyd om mooi herinneringe te skep vir die volgende dertig jaar. Julle wil nie dán ses dekades terug naslaan nie. Deel van ons doel in die huwelik is om mekaar te slyp en saam te groei. As julle net in die verlede leef, stagneer julle. Elke dag moet ‘n herinnering wees om nuwe herinneringe te maak! Soms is dit die moeite werd om uit jul gemaksone te beweeg (en nie summier die Hip Hop eenkant toe te skuif nie…_)