Om ’n behoorlike ereksie te kry en te hou, het ’n man ’n prikkel (visueel, fantasie, aanraking) nodig. Verder is bloedvloei na die sponsweefsel van sy penis en ook die vasvang van daardie bloed nodig, saam met senuweeboodskappe wat na die penis gestuur moet word. Die sponsweefsel moet ook gesond wees, kan rek en met bloed gevul kan word.
Die vier grootste risikofaktore vir ’n man om erektiele disfunksie (ED) te ontwikkel, is sigaretrook, hoë bloeddruk, hoë cholesterol en diabetes. Hierdie slegte gewoontes en siektetoestande beskadig die voering van slagare, wat endoteel-selle genoem word. Dit lei tot neerleggings (plaakformasie), wat aterosklerose genoem word, en gevolglik is daar ook verharding en vernouing van die bloedvate. Die slagare wat bloed aan die penis voorsien en gedeeltelik verantwoordelik is vir ’n ereksie, is maar 1-2mm in deursnee.
Mans met tipe 2 diabetes (laat aanvang of nie insulien afhanklik) kan dus vroeg in hulle lewens met ereksies begin sukkel. Hierdie ED word nie net veroorsaak deur bloedvatskade nie, maar ook deur senuweeskade wat die diabetes veroorsaak en verhinder dat senuweeboodskappe na die penis gestuur word. ’n Groot groep diabete het ook ’n verlaagde manlike hormoonvlak (testosteroon),
wat weer verder tot ED kan bydra. Soveel as 50% van tipe 2 diabete kan met ED sukkel.
Soms sal mans eers sukkel met ereksieprobleme en dan by hulle dokter daarvoor gaan hulp vra, net om uit te vind dat hulle diabetes en/of hoë bloeddruk en/of hoë cholesterol het. Aan die ander kant kan mans wat reeds die diagnose van diabetes het, agterkom dat hulle begin sukkel om ereksies te kry en te hou.
Ereksieprobleme kan vandag baie goed behandel word deur eers die onderliggende oorsake aan te spreek. Hoë bloeddruk en cholesterol moet verlaag word deur die regte medikasie daarvoor te gebruik. As die man rook, moet hy dadelik daarmee ophou en as hy sukkel om op te hou, is daar selfs medikasie beskikbaar wat daarmee kan help.
As hy ’n tipe 2 diabeet is, moet hy sy bloedsuiker ook onder goeie beheer kry om verdere skade aan sy bloedvate, senuwees, niere en oë te probeer verminder. Dit sluit in oefening en die volg van ’n gesonde dieet, maar ook gewigsverlies as hy oorgewig is, wat ongelukkig die geval is by baie tipe 2 diabete.
Goeie bloedsuiker-kontrole word oor die kort termyn gemonitor deur bloedsuiker-toetse en oor die lang termyn deur na die HbA1C-waarde in die bloed te kyk. Tipe 1 diabete benodig insulien-inspuitings vir bloedsuiker-beheer, terwyl tipe 2 diabete gewoonlik begin op tablette wat help om bloedsuiker te verlaag. Soms het hulle ook nog insulien daarvoor nodig. Daar is nou nuwer middels beskikbaar vir oorgewig pasiënte met Tipe 2 diabetes, wat die addisionele voordeel van gewigsverlies het.
Dit maak nie saak wat die oorsaak van ’n ereksieprobleem is en watter medikasie die man daarvoor gebruik nie, daar is ook nog tablette beskikbaar om sy ereksieprobleem te behandel. Hierdie ereksiepille werk soms net minder doeltreffend by mans wat langdurige ongekontrolleerde diabetes het.
Deur Dr Etienne Kok