Hy is deesdae ’n befoeterde buffel. Onbeskof, geïrriteerd, depressief. En altyd moeg. Hy jak jou pogings tot toenadering af en sukkel om te konsentreer. Jou gemoedelike, vriendelike man het stelselmatig in ’n monster verander. ’n INTIEM-leser vertel hoe haar lewensmaat se testosteroon-tekort byna hul huwelik gekos het.

Promosie

“Ek was oortuig daarvan dat daar iemand anders was. Dat hy glad nie meer lief is vir my nie. Later ek het begin dink dat hy dalk ’n breingewas het omdat sy persoonlikheid so drasties verander het. Daarby was daar die verskriklike hoofpyne. Hy het deur hoofpyn-medikasie gevlieg, al hoe sterker en sterker, maar geen pynmedikasie wou help nie.”

Suretha de Klerk (48) en haar man, Frikkie (48), is deur ’n vuurdoop. Ná meer as 20 jaar se getroude lewe het Frikkie se persoonlikheid geleidelik begin verander. In 2015 het hulle veral ’n laagtepunt bereik, vertel Suretha. “My man was nog altyd sag, geduldig en vredeliewend. ’n Regte teddiebeer,” sê sy met ’n glimlag. “Baie hulpvaardig en op sy stil manier – hy is ’n introvert – nogal speels en vrolik.”

Dokter Jekyll and Meneer Hyde

Promosie

Sonder ’n ooglopende rede het Frikkie se gemoedstoestand geleidelik begin verander. “Hy het ontsettend befoeterd begin raak. Baie grumpy, nors en ongeduldig. Niemand kon iets reg doen nie.”

Suretha het haar bes gedoen om die atmosfeer rustig te hou by die huis, ten spyte van Frikkie se gereelde woede-uitbarstings. “Dit was geweldig moeilik om met hom te kommunikeer . . . hy het baie vinnig kwaad geword en het soms sommer na enigiets gegryp om te breek.”

Hulle seun was op daardie stadium in graad 12 en hul dogter in graad 8. “Die kinders het glad nie hul pa se wisselvallige emosies verstaan nie. Hulle het heeltemal onttrek en kamer-bewoners geword.”

Suretha het die fout by haarself begin soek en het uiteindelik antidepressante nodig gehad. “Jy weet nie wat met jou maat aan die gang is nie. Ewe skielik is niks meer reg nie. Dit tref jou soos ’n vuishou in die maag . . . jy vou dubbeld en val hard teen die grond. Die idee dat ek nie meer my man se liefling, sy droomvrou, sy maat is nie . . . dit voel asof alles om jou ineen gaan stort.”

Sy het gereeld haar Bybel nader getrek vir hulp. “Vroegoggend het ek opgestaan en my oë onmiddellik op my Skepper gerig vir antwoorde op al my onbeantwoorde vrae. Ek het egter bly glo – die Here sal my en my gesin nie los nie! Hy het ons nog altyd deur diep waters gehelp en ek het geweet hy sal ons ook deur hierdie onsekere tyd help.”

Werksdruk is nie die rede nie

Soos baie mans met hierdie tipe simptome het Frikkie die probleem aan sy werklading toegeskryf. “Ek was moeg – gewéldig moeg – maar het voortgesloer en gedink dis maar as gevolg van hoë werksdruk as kontrakbestuurder.” Op die intieme front het hy soos ’n mislukking gevoel. “Ek het geen belangstelling gehad in liefkosing of seksuele aandag nie.”

Suretha het vir Frikkie probeer oortuig om ’n dokter te sien, maar hy wou nie instem nie. “Ek het baie gebid dat hy tot insig sou kom en besef hy moet ’n dokter spreek.” Die konstante hoofpyne het hom uiteindelik van plan laat verander. “Die dokter het bloedtoetse gedoen en dit het ’n té lae testosteroonvlak bevestig.”

Mans genoeg om medikasie te neem

Frikkie het hormoonvervangingsmedikasie geneem en onmiddellik ’n verskil begin ervaar. “Ek voel deesdae weer soos my ou self. Nee, selfs beter as my ou self!” vertel hy. Die medikasie word elke drie maande via ’n inspuiting toegedien. “My vrou kan nou wraak neem . . . sy is die een wat my in die boud inspuit!” lag Frikkie.

Hy waardeer nou weer sy vrou en sy huwelik opnuut. “Ek is só dankbaar vir die omgee, geduld en liefde van Suretha. Deur Christus het ons die krag ontvang om mekaar by te staan in die moeilike omstandighede, wat sekerlik die oorsaak kon wees van ernstige huweliksprobleme . . . en dalk selfs uiteindelik ’n egskeiding.”

Onder doktershande

Testosteroon is ’n hormoon wat as ’n tipe chemiese boodskapper in die liggaam optree en verskillende funksies in die verskillende fases van ’n man se ontwikkeling vervul, verduidelik dr Suzanne Mulder, ’n algemene praktisyn by M-Care Mediese Sentrum in Potchefstroom. “Testosteroon is ’n baie belangrike deel van ’n man se wese – dis wat ’n man ’n man maak!”

Mans se testosteroonvlakke piek gewoonlik tussen die ouderdom van 20 en 30 jaar, verduidelik Suzanne. “Dit is normaal vir mans se testosteroonvlakke om daarna met omtrent 1% per jaar, tussen die ouderdomme van 30 en 80, te begin afneem. Die probleem ontstaan wanneer ’n man se testosteroonvlakke óf abnormaal vinnig óf te laag daal vir sy ouderdomsgroep, en hy gevolglik negatiewe simptome begin ervaar.”

Hierdie simptome sluit in ’n verminderde libido en erektiele disfunksie, lae energievlakke, chroniese moegheid, irritasie, gemoedskommelinge, ’n depressiewe gemoed, verminderde spierkrag, verhoogde liggaamsvet en swak konsentrasie.

Suzanne noem dat ’n testosteroontekort dikwels verwar word met depressie en verwante emosionele gemoedsversteurings, sowel as uitbranding en werkstres. Die korrekte diagnose is deurslaggewend en hormoonvervangingsterapie is meestal die antwoord.

“Wanneer ’n man begin sukkel met al die aspekte wat deur ’n lae vlak van testosteroon geraak word, het dit ’n groot impak op sy selfwaarde, selfvertroue en selfkonsep,” verduidelik Suzanne. “Behalwe vir die direkte probleme wat ’n testosteroongebrek op ’n verhouding kan hê – soos verminderde libido, onvermoë om ’n ereksie te behou, onvrugbaarheid en so meer, kan die indirekte gevolge, soos depressie, irritasie, lae wilskrag en chroniese moegheid, selfs nog meer traumaties wees.”

Suzanne benadruk dat almal wat vermoed dat hulle, of hul lewensmaats, aan ’n lae testosteroonvlak ly, ’n bloedtoets vir ’n testosteroongebrek behoort te versoek. “Die korrekte diagnose van en behandeling vir die probleem kan lewensveranderend wees.”

Artikel deur Anja van den Berg