Die droom

Ek verstaan dat ons groot geword het met sprokiesverhale van ’n ridder op ’n wit perd en Sneeuwitjie wat deur haar prins wakker gesoen word. Ek het uitgesien na my huwelik en ’n gelukkige gesin, maar ná ek en my eerste man (kom ons noem hom Chris) geskei is, was my lewe en dié van ons dogtertjie baie jare lank omvergegooi.

My verwagting van die tweede huwelik

Die dag toe ek met my nuwe man (ek noem hom Sarel) trou, het ek gedink dit gaan makliker wees. Ek het lank gewag en gebid vir Sarel en ná tien jaar as enkelouers het ons groot drome vir ons huwelik en ons kinders as deel van ons hersaamgestelde gesin gehad. Dit sou ’n liefdevolle huis wees waar almal mekaar onmiddellik liefhet, waar die kinders ons as ouers aanvaar en waar ons saam nuwe roetines en planne kon maak.

Toe kom die ontnugtering skaars twee maande na die groot dag

O vrek, min het ons geweet wat op ons wag.

Om deel van ’n stiefgesin te wees, is geen grap nie, veral nie as jy lank ’n enkelouer was en jou eie ding gedoen het nie. Skaars twee maande ná ons troudag, wou ek weer skei ─ die atmosfeer was styf en elke keer as die kinders kom kuier, het ek soos ’n buitestander gevoel. Hoe meer ek probeer het om almal geliefd te laat voel en om dinge saam te doen, hoe meer het die konflik en spanning toegeneem. Die wittebroodfase was nou ’n aaklige nagmerrie wat dalk weer op ’n egskeiding sou uitloop.

Kinders se ervarings van verlies

Natuurlik het die kinders hierdie veranderinge in hul lewens ook nie met ope arms verwelkom nie. Inteendeel, die kinders het ’n groot verlies ervaar. Hulle het nie meer hul ouers se onverdeelde aandag gehad nie. Hulle Kersfees-herinneringe en jaarlikse vakansies was nou anders. Ons almal moes leer om mekaar in ag te neem ─ almal se emosies, persoonlikhede en gemoedstoestande, afhangend van hoe hulle ’n bepaalde dag sou voel.

Die foute en seer wat gevolg het

Ek het probeer om my stiefkinders te dissiplineer, wat tot meer konflik tussen my en Sarel gelei het. Hoe meer intens die konflik geraak het, hoe meer het ons as ouers ons eie kinders ondersteun en bygestaan, wat verdere afstand tussen my en Sarel veroorsaak het.

Asof dit nie genoeg was nie, het ons gewese eggenote ook deel van die dinamika in ons huis geword. Sarel het gesukkel om met my dogter te kommunikeer omdat sy eiesinnig was. Sy het selfs verwytend teenoor my opgetree omdat sy nie meer al my aandag gehad het nie.

Om deel van ’n stiefgesin te word, was vir ons almal ’n baie groot skok en ontnugtering. As ons beter voorbereid was op die dinamika en uitdagings wat stiefgesinne ervaar, kon ons mekaar en die kinders baie seer en trane gespaar het.

Wees gerus op die uitkyk vir volgende week se rubriek waar ek inligting gaan deel oor hoe om hersaamgestelde gesinne se dinamika en uitdagings aan te spreek.

Stief groete

Re-Mind Coaching

Re-Mind Coaching | Leave no-one Unturned!

Vir meer info:
ELSJE DU PLESSIS-BASSON (Registered life coach, NLP practitioner)
072 763 2485
info@remindcoaching.co.za
www.remindcoaching.co.za