Elke mens het ‘n ander seksuele styl. Vind uit wat is joune…
Mia dink sy is sexy wanneer sy saans uitgaan en haar swart laehalstoppie en Wonderbra dra. Karin glo deur met haar man te gesels oor dít wat regtig vir haar saak maak en niks terug te hou nie, is wat haar sexy maak. Daarteenoor glo Estelle haar IK van 142 maak van háár ‘n sexy vrou. Die Afrikaanse vertaling vir ‘flirty’ is wulpsheid en vanselfsprekend ‘flirt’ jy na gelang van jou seksuele styl. Jy kan eksperimenteer met die verskeie style of jy kan jou maat se behoeftes bepaal en jou seksualiteit daarby aanpas (mits jy jouself nie in die proses verloor nie). In haar boek, The Idiot’s Guide to Amazing Sex identifiseer Sari Locker vier tipes seksualiteit. Jy het waarskynlik nie net een seksuele styl nie, maar een of twee hiervan behoort oorheersend te wees. Doen dié eenvoudige toets om uit te vind hoe jý jou seksualiteit dra.
1) Wanneer ek intiem met die man in my lewe gesels, doen ek gewoonlik die volgende:
a) Ek sal iets sê wat ‘n dubbelsinnige betekenis het en eintlik weet ek en hy ewe goed dit is ‘n seksueel suggestiewe opmerking
b) Ek fluister allerhande liefdesboodskappe in my maat se ore, sonder dat dit noodwendig ernstig of lewensbelangrik is
c) Ek vertel vir hom presies hoe ek voel. Ek is totaal en al eerlik en is nooit huiwerig om te sê: ‘Ek is lief vir jou’ nie.
d) Ek gesels met my maat oor die betekenis van die lewe en wat regtig saak maak.
2) Wanneer ek vir my man wil wys hoe lief ek vir hom is deur ‘n gebaar, sal ek:
a) Skrapse onderklere koop, dit aantrek en hom by die voordeur inwag
b) Ure lank gaan soek vir ‘n geskenk wat ek weet hy sal waardeer
c) Vir hom ‘n boodskap los om my by die muurbalbaan te kry, waar ons saam ‘n wedstryd sal speel.
d) Vir hom ‘n yslike bos lelies met ‘n mooi kaartjie na sy kantoor stuur
3) Wanneer ek die atmosfeer perfek wil kry vir ‘n romantiese aand saam met my man, sal ek:
a) Lank en stadig voor hom uittrek, op die ritme van sy gunstelingliedjie
b) Vir hom allerhande stoute e-posse stuur. Ek sal miskien selfs met hom foonseks hê met die belofte dat sy regte beloning vanaand by die huis wag
c) Kaal in die bed gaan klim
d) Die hele aand wakker bly en rooiwyn saam met my man drink. Later sal ek kerse in die slaapkamer aansteek en aromaterapie-olies gebruik om hom mee te masseer
4) Wanneer ons met vakansie gaan en ek die aand seks met my maat wil inisieer sal ek:
a) Klere dra wat al my mees erotiese liggaamsdele mooi afwys
b) In die restaurant uitlokkend vir hom glimlag terwyl hy aan die oorkant van die vertrek staan
c) Hand aan hand in ‘n afgesonderde woud gaan stap of kaal onder die maanlig gaan swem
d) Vir lang ente langs die strand onder die sterre gaan stap
5) As jy jou sin in die slaapkamer kon kry, sal jy jou sekslewe soos volg wil beskryf:
a) Warm passievolle seks vir ure, wat verskeie posisies, seksspeelgoed en kos insluit
b) Voorspel wat ure kan duur en ‘n liefdesessie wat gepaard gaan met sensuele soene
c) Baie sweterige, warm seks sonder ‘n tekort aan orgasmes
d) ‘n Seksspel belaai met woorde soos ‘ek is lief vir jou’ en dan ure lank langs mekaar lê na albei geklimaks het
6) As ek een moet kies waarmee ek die beste identifiseer, sou ek sê ek is:
a) Iemand met spontaniteit en ‘n hoë seksdrang
b) Iemand wat ‘n ‘witty’ gesprek met my maat kan voer
c) Iemand wat saam met my man kan lag
d) Iemand wat liefdesgedigte vir my man skryf
Omkring by elke vraag dié een wat die meeste op jou van toepassing is.
Meesal A’s: Erotiese seksualiteit
Jy is warm, wild en doodeenvoudig sexy. Jy is blatant seksueel en draai nie doekies om nie. Jy is nie bang om nuwe neigings in die slaapkamer te probeer nie. Vir sommige mense is dit wonderlik om na aan iemand te kom wat haar seksualiteit op so ‘n erotiese manier uitleef. Vir ander kan dit intimiderend wees. As jy eroties sexy is, soek iemand wat jou seksuele kreatiwiteit kan waardeer en vermy dié wat te lig in die broek is vir jou hitte! Die kans is egter goed dat jy reeds getroud is met ‘n man wat hierdie ongeinhibeerdheid van jou kan geniet.
Meesal B’s: Wulpse seksualiteit
Jy praat ‘n dubbelsinnige taal en hou daarvan om mense uitlokkend te terg. Jy gebruik jou misterie om iemand aan te trek en jy is lief daarvoor om grappe te maak. Jy is ‘n tipiese flirt en baie mans is mal daaroor! Dit kan prettig wees en vir ‘n jong verhouding is dit ideaal. Dit is ook ‘n goeie styl om aan te skaaf wanneer jou verhouding aandag nodig het. Maar onthou om duidelike seine deur te gee omdat jou dubbelsinnigheid die verkeerde boodskap kan uitdra. Jou man moet jou styl kan verstaan, anders gaan dit nie werk nie.
Meesal C’s: Natuurlike seksualiteit
As jy die tipe is wat die boonste jean en T-hemp in jou kas gryp, uitgaan sonder ‘n tikkie grimering en ‘n borsel deur jou hare – en steeds sexy voel, is jou seksualiteit natuurlik. Jy is ‘n gemaklike mens en ander sien jou soms as ‘n rowwe diamant. Jy is plat-op-die-aarde en glo dat mense jou moet aanvaar vir wie jy is. Dié tipe seksualiteit is nie ‘n styl wat jy kan aanleer nie – jy het dit of jy het dit nie. As jy dit het, is jy gelukkig want dit is waaroor seksualiteit gaan: Die uitdrukking daarvan sonder om twee keer te dink…
Meesal D’s: Romantiese seksualiteit
Die aanvanklike fase van ‘n verhouding bestaan gewoonlik uit romanse. As jou seksuele styl egter hoofsaaklik romanties is, beteken dit dat jy hierdie tipe seksualiteit dwarsdeur jou verhouding sal uitleef. Vir jou gaan die lewe oor verrassings, liefde en holderstebolder soene. As jou styl romanties is, is die kans goed dat jy ook van iemand sal hou wat dié styl teenoor jou uitleef. As jy reeds getroud is, en hy weet teen die tyd nog nie romanse is deel van jou behoeftes nie, maak seker dat hy uitvind!
Bron: Saamgestel en aangepas uit: The Complete Idiot’s Guide
to Amazing Sex deur Sari Locker