Jy het voor jul troudag reeds besluit hoe jul huwelik moet lyk. Jy weet dit is harde werk en dat dit nie vanself sal gebeur nie. Veels geluk! Maar pasop vir ‘n strewe na perfeksie, want onrealistiese verwagtinge kan jou huwelik se ondergang beteken…

Promosie

Johannes was nog altyd ‘n presteerder. Dié een met die sewe onderskeidings. Die eerstespan kaptein met die perfekte haarstyl en die string bewonderaars. Na skool het hy medies gaan studeer, waar hy ‘n oulike kollega ontmoet en met haar getrou het. Saam het hulle in ‘n mooi huis in ‘n Pretoria-Oos sekuriteit-kompleks ingetrek. Dit is net hoe Johannes nog altyd was, het sy vriende op hul troue gesels. As hy sy oog op ‘n doelwit het, sou hy hard werk om daardie doelwit te bereik. Hy streef na perfeksie en sal vir niks minder settle nie…

Op die oog af het die huwelik perfek gelyk. Janet het perfek gelyk. Jy kon haar altyd deur ‘n ring trek en haar lyfie was viets. Sy was self ook ‘n ambisieuse vrou met ‘n loopbaan goed op dreef. Hul huis was mooi gemeubileer en elke stukkie dekor op sy plek.

Niemand het minder van Johannes verwag nie. Hulle het geweet dit is hoe hy sy lewe antisipeer het en dat hy ook sy lewensmaat daarvolgens gekies het. Maar niemand sou kon raai dat Johannes en Janet drie jaar later in die skeihof sou staan nie.

Promosie

Verwag ons te veel van ons maats?

Luister jy na die binnekringe, hoor jy dat Johannes en Janet pal in konflik met mekaar was. Dat hulle ontevrede was met mekaar en eise aan mekaar gestel het wat onmoontlik was om te vervul. In ‘n Huffington Post artikel skryf Cloe Tejada oor Eli Finkel, ‘n onderwyser aan Northwestern University in Illinois wat glo dat ons té idealisties is en meer realistiese verwagtinge van ons maats moet koester as ons waarlik vervuld en gelukkig wil wees.

Psigoterapeut, outeur en podcaster Esther Perel sê in ‘n onderhoud met NPR (National Public Radio): “Die huwelik was ‘n ekonomiese instelling waarin jy ‘n vennootskap vir ‘n leeftyd gebied is wat kinders, sosiale status, nalatenskap en kameraadskap aanbetref. Maar nou wil ons hê ons maats moet ons steeds al daardie dinge gee… maar ook wil ek hê jy moet my beste vriend wees en my getroue vertroueling en my passievolle minnaar… So ons kom na een persoon toe en ons vra hulle basies om te gee wat ‘n hele gemeenskap eens voorsien het.”

In sy nuwe boek, The All-or-Nothing Marriage, skryf Eli FInkel dat ons as moderne lewensmaats ook van ons maats verwag om ons te help groei as individue en alles vir ons te wees. Mense verwag toenemend meer van hul lewensmaats, skryf Eli. Omdat dít wat mense van die huwelik verwag verander, is daar al meer huwelike wat nie aan verwagtinge voldoen nie en daarom is teleurstelling onvermydelik.

Die ‘net reg’ huwelik

‘n Studie wat in April 2016 gepubliseer is, het rapporteer hoe huwelike deur verwagtinge beïnvloed kan word. ‘n Sielkunde Professor aan die Florida State University, James McNulty, het 135 pasgetroude paartjies van Oostelike Tennessee vir vier jaar lank ondersoek. Die paartjies het elke ses maande oor hul verwagtinge van die huwelik gepraat en oor óf hul huwelik aan daardie verwagtinge voldoen het. Terselfdertyd het hulle ook deelgeneem aan onderhoude wat opgeneem is waartydens navorsers gekyk het na die paartjies se gedrag en hoe hulle met mekaar kommunikeer.

McNulty het gevind dat verwagtinge verskillende paartjies verskillend affekteer. By paartjies wat daartoe in staat is om wedersyds vir mekaar om te gee, ondersteuning te bied en mekaar onafhanklikheid te gun, het hoë standaarde huwelik-tevredenheid verhoog. By ander huwelike met hoë verwagtinge, het spanning geheers oor die eise binne die huwelik en watter hiervan haalbaar is.  “Sommige paartjies vereis net té veel van hul huwelik, omdat hulle verwag dat hul huwelike persoonlike behoeftes bereik wat hulle nie self kan bereik nie – óf omdat hulle beperkte tyd, energie, moeite of vaardighede het om op die huwelik toe te pas.”

Die teenoorgestelde is egter ook waar. Daar is paartjies wat te min van hul huwelike verwag. “Hul huwelike is ‘n potensiële bron vir persoonlike vervulling wat nie ontgin word nie.” So, waar laat dit ons? McNulty sê dat verwagtinge in ‘n huwelik bepaal moet word volgens die Gouelokkies-metode. Iewers tussen verwagtinge wat té hoog of té laag is, is ‘n plekkie waar verwagtinge ‘net reg’ is.

Wat verwag jy van jou maat?

Verwag jy van jou maat se persoonlikheid om te verander na julle getroud is? Dit gaan nie gebeur nie. Verwag jy van hom om jou legkaartstuk te wees? Die een wat al die gate moet toemaak wat deur jou vorige verhoudings geskep is? Dit gaan nie gebeur nie.

Blogger Valerie Kolick skryf op MindBodyGreen.com: “Ek verwag niks van my man nie. Ek verwag nie van hom om die skottelgoed te was, met die kinders te speel, die rekeninge te betaal of die vullis uit te vat nie…” Dit klink absurd, maar sy verduidelik haarself: “Sien, ek glo nie in konvensionele geslagsrolle nie. Ek dink nie vroue moet onderdanig aan hul mans wees nie. Ek glo die huwelik is ‘n vennootskap. Dit is ‘n balans van mag wat op onvoorwaardelike liefde gebou word. Ek verwag nie van my man om te weet wat ek nodig het, sonder dat ek hom se nie. Hoe kan hy?

Ek verwag nie van hom om op ‘n sekere manier te reageer as dit nie is wie hy is nie. Ek verwag nie eens van hom om vir my lief te wees nie. In plaas daarvan wys ek hom eerder liefde. Ek vra hom vir wat ek nodig het. En ek vertrou hom sonder verwagting.” Sy meen ‘n huwelik sonder verwagtinge is: “Soms prettig, soms morsig, soms maklik, dikwels passievol en by tye moeilik. Maar dit is altyd outentiek, bevrydend en beeldskoon.”

So, moet jy min verwag, net sodat jy nie teleurgesteld sal staan nie? Donald Baucom, ‘n sielkunde professor aan die University of North Carolina het huwelik-verwagtinge vir ‘n dekade lank bestudeer. Hy het gevind dat mense dikwels kry wat hulle verwag. So is mense met lae verwagtinge dikwels in verhoudings waar hulle swak behandel word. En mense met hoë verwagtinge is geneig om in verhoudings te wees waar hulle goed behandel word.

En Finkel ondersteun hierdie teorie deur te sê: “Wat ek ontdek het toe ek bietjie dieper gedelf het, is dat dit nie goed of sleg is om soveel van ‘n huwelik te verwag nie. Die belangrike ding is om jou verwagtinge te kalibreer volgens wat die verhouding realisties kan voorsien.”

Só moet jou verwagtinge lyk

Huwelikskenner en outeur, John Gottman, raai paartjies aan om te strewe na ‘n verhouding wat “goed genoeg” is. In ‘n goed genoeg verhouding het mense hoë verwagtinge van hoe hulle behandel wil word – met goedheid, liefde, toenadering en respek. Hulle verdra nie emosionele of fisieke mishandeling nie. Hulle verwag van hul maats om lojaal te wees. Natuurlik beteken dit nie dat hulle van ‘n huwelik verwag om sonder konflik te wees nie. Selfs baie gelukkig getroude paartjies argumenteer, want konflik is gesond.  Gottman meen dat paartjies nie moet verwag om al die probleme in hul huwelik op te los nie. Sy Love Lab studies het bevind dat bykans twee derdes van verhoudingskonflik ewigdurend is. Dit is ook onrealisties om te verwag van jou verhouding om jou kindertydwonde te genees of om die weg te baan na self-aktualisering.

So, hoe lyk ‘n Gouelokkies-huwelik? Dis paartjies wat goeie vriende is, maar ook ‘n vervullende sekslewe het, vertel Gottman. Hulle vertrou mekaar en is ten volle toegewyd teenoor mekaar. Hulle kan konflik konstruktief bestuur en by ‘n middeweg uitkom wat werk. En hulle kan effektief herstel waar hulle mekaar seergemaak het. In ‘n Gouelokkies huwelik eer ‘n paartjie mekaar se drome, selfs al verskil hierdie drome van mekaar. Hulle het ‘n sisteem geskep met gedeelde waarde, etiek, geloofstelsel, rituele en doelwitte. Hulle stem saam oor fundamentele simbole soos wát ‘n huis is, wat liefde is en hoe om saam kinders groot te maak. “Verwag dit. Jy verdien dit. Dit is nie onredelik nie en dit is bereikbaar,” meen Gottman.

Addisionele bronne: www.lovesavvyclub.com; www.fatherly.com; www.gotman.com; www.huffpost.com

Artikel deur Annelize Steyn