“Even after all this time, the sun never says to the earth: ‘You owe me’. Look at what happens with a love like that – it lights the whole sky.” – Hafiz.

Ek weet ek kan soms heeltemal irrasioneel wees. Die een oomblik kan dit voel asof my wêreld omkantel by ’n skrikwekkende besef wat my skuins voor volmaan tref – en die volgende oomblik kan ek met ’n koppie oggend-tee sit en wonder hoekom ek laas nag gedink het my voete trap ankerloos rond. Ek kry my man jammer en soms moet hy op sy tong byt . . . maar hy bly lief vir my.

Hy is ’n linkerbreiner vir wie daar ’n regte en ’n verkeerde manier is (Lees gerus ons artikel oor linkerbreiners op bladsy 44 in die Jun/Jul 2016 uitgawe van INTIEM) . Hy hou van perfeksie en noukeurigheid. Ek het geen erg aan ’n liniaal, ’n kompas, ’n maatbeker of ’n waterpas nie . . . maar hy bly lief vir my.

Ek kan ’n storm los bak sodat die hele kombuis se oppervlak en vloer lyk soos die nadraai van ’n ontploffing in Charlie’s Chocolate Factory met hundreds and thousands, eetbare blinkers – die werke, maar my koeke sal in die middel soos ’n klipkoppie uitstoot en soos bakpoeier of koeksoda of iets dergeliks proe. Ek sal die gemors net so los omdat my moraal daarna te laag is om die Handy Andy te gaan haal en dit sal hom eindeloos frustreer dat ek net die oppervlakkige krummels met ’n lap tot in die asblik stoot … maar hy bly lief vir my.

Promosie

By die aankondiging van die mees geringe tegnologiese error-boodskap op my rekenaarskerm sal ek die deksel toemaak en my drukker gaan skud soos ’n gefrustreerde ma doen met ’n kind wat nie wil luister nie. Hy sal sy humeur verloor en my vertel dat my aggressiewe houding jeens ’n toestel wat nie rede verstaan nie, bitter onvolwasse is . . . maar hy bly lief vir my.

Ek sal sy spierwit geverfde cornice per ongeluk raak stamp met my kwas wat in die kleur Rich Scandinavia gedoop is. Hy sal instap, dit raaksien, diep asemhaal en sy boor vir my wegsteek . . . maar hy bly lief vir my.

En daarom is ek skatryk en skotvry! Want ek is geseën met ’n man wat die betekenis van onvoorwaardelike liefde tot in sy verste uithoeke verstaan.

Onvoorwaardelike liefde beteken dat jy lief is vir jou maat – nie ten spyte van sy/haar foute nie -maar as gevolg daarvan in die wonderlike besef dat dit juis is wat hom/haar uniek maak (al irriteer dit jou grensloos). Ons kry immers die perfekte voorbeeld van God wat ons liefhet, selfs in ons donkerste uur . . .

Niemand het gesê die liefde gaan eenvoudig wees nie. Onvoorwaardelike liefde verg geduld, vergifnis, vertroue. Maar opofferings en verdraagsaamheid is ’n klein prys om te betaal vir ’n gelukkige huwelik.

Mag jy en jou maat mekaar se foute vergewe, voorveronderstellings begrawe en mekaar dié winter onvoorwaardelik en skuldloos liefhê.

Tot volgende keer.