Voorspelling van die toekoms: jy sal aftree!

Danksy moderne geneeskunde en verbeterende lewenstyle sal baie van ons met vele jare ná aftrede geseën wees. Die belangrikste is om te verseker dat ons aftreegeld letterlik lewenslank hou en dat ons na ons individuele omstandighede en aspirasies kyk wanneer ons ons finansies beplan. Advies wat individuele omstandighede in ag neem, is noodsaaklik.

Martin Herbst, Senior Finansiële Adviseur by Herbst & Associates BlouSter Finansiële Adviesdienste (gemagtig deur Sanlam) sê hy help kliënte reeds 20 jaar lank om hul toekoms te beplan. “Alhoewel die fundamentele faktore dieselfde is, is die norme van die samelewing – en dus die manier waarop ons kliënte aan die toekoms moet dink en daarvoor moet beplan – besig om te verander. Die oorspronklike droom, wanneer mense op ouderdom 55 aftree met hul huise en motors ten volle betaal en hul kinders opgegroei en uit die huis uit, het vervaag omdat mense geneig is om later in hul lewe te trou en ook op ‘n later ouderdom kinders te hê, indien enige.”

Daar word beweer dat 94% van mense in Suid-Afrika nie op die ouderdom wat hulle verkies en met die inkomste wat hulle verlang, kan aftree nie, omdat hulle te laat vir aftrede begin spaar het.

Promosie

“Baie mense neem deesdae ná skool of universiteit ‘n jaar af, begin hul loopbane wanneer hulle ‘n bietjie ouer is, en begin gevolglik baie later in hul lewe groot skuld, soos ‘n huislening, aangaan. Moderne geneeskunde het stellig ook die potensiaal om mense baie langer aan die lewe te hou as in die verlede,” sê hy. “Veronderstel jy begin jou loopbaan op ouderdom 25 en begin op ouderdom 30 vir aftrede te spaar met die doel om op ouderdom 55 af te tree. Jy sal dan 25 jaar lank vir jou aftrede spaar. As jy ‘n vrou is, sal jy waarskynlik sterf as jy ongeveer 91 jaar oud is, en as jy ‘n man is sal jy moontlik op ouderdom 83 te sterwe kom. Dit beteken dat as ‘n vrou jy 36 jaar lank, en as ‘n man 28 jaar lank, van jou aftreegeld sal moet leef. Jy sal 25 jaar lank tot jou aftreevoorsiening bygedra het om minstens 50% van jou bruto inkomste te voorsien. Die tydperk waarvoor ons inkomste vir aftrede nodig het, is langer as die tyd wat ons het om vir aftrede te spaar. Om al hierdie redes werk kliënte tot in hul sestigerjare. Lewensduur wissel vanselfsprekend beduidend, maar daar is baie gevalle waar mense baie langer lewe as waarvoor hulle voorsiening gemaak het.”

Martin deel vervolgens sy advies oor waarom jy vir aftrede behoort te begin – en aan te hou – spaar:

  1. Waarom moet jy ‘n finansiële beplanner hê?

Deur omvattende finansiële beplanning kan adviseurs jou leer omtrent die aspekte wat by aftreebeplanning betrokke is en die berekeninge wat nodig is. As kliënte weet wat hulle by aftrede benodig en hoe die beplanning gedoen is, is dit makliker om hul beplanning te verstaan en eienaarskap daarvan te aanvaar. Adviseurs is ook goeie aanspreeklikheidsvennote, het omvattende kennis van wat die bedryf aanbied, en hoe om die beste vir jou kort-, medium- en langtermyndoelwitte te spaar.

  1. Wat is van die grootste dwalings oor spaar met ‘n uittree-plan?

Die grootste dwaling is dat moderne uittree-planne steeds werk soos dié wat ons ouers gehad het. Toe was die produkte dalk duurder en was die keuse van beleggingsfondse nie noodwendig wat ons vandag het nie. Dit was waarskynlik toe geskik, maar moes gewis met die tyd verander. Vandag is daar moontlik ook ander belangrike lewenstyluitgawes wat kliënte moet dek. Die werklikheid is dat kliënte dalk nie altyd by aftrede hierdie lewenstyluitgawes kan volhou nie, veral nie as hulle nie nou vir aftrede spaar nie. Uitgestelde bevrediging is ‘n kragtige konsep.

  1. Watter advies het jy vir diegene wat in hul laat dertiger- en veertigerjare is en nog nie vir aftrede begin spaar het nie? Party mense voel so oorweldig deur die feit dat hulle nog nie begin spaar het nie dat hulle dit selfs langer uitstel.

Stel ‘n behoorlike begroting op en begin spaar wanneer jy kan. As daar nie ruimte vir spaar in jou begroting is nie, behoort jy waarskynlik meer te verdien/’n bykomende inkomste te verkry of jou begroting aan te pas om minder te bestee ten einde kapitaal vry te stel om te begin spaar. Ons sal nie vir altyd kan werk nie en sal vir onsself moet sorg wanneer daardie tyd aanbreek.

  1. Moet mense vir aftrede begin spaar of eers hul skuld betaal? Wat is die belangrikste, of moet dit gelyktydig gedoen word?

Probeer ‘n goeie balans handhaaf tussen die afbetaling van skuld en spaar vir aftrede. Tyd in die mark is baie belangrik. Hoe langer jy spaar, hoe meer saamgestelde rente kan jy verdien. Dit is menslik om eers jou skuld af te betaal en dan te begin spaar. Ongelukkig is mense geneig om meer skuld aan te gaan sodra hul aanvanklike skuld betaal is. Aangesien rentekoerse op skuld tans so laag is en die potensiaal bestaan om hoër groei op jou beleggings te verdien, maak dit sin om ‘n goeie balans te verkry. Dit sal jou goed te staan kom as jy verseker dat jou belangrikste skuld, soos skuld op jou motor en jou huis, afbetaal is voordat jy aftree.

  1. Moet diegene wat gespaar het en wie se beleggings as gevolg van die huidige omstandighede dramaties gedaal het, hul aftrede uitstel?

Dis belangrik om aan te hou spaar al het die markte gedaal. In sulke tye sal jy teen lae pryse in die mark kan inkoop en in die toekoms voordeel daaruit trek. Party kliënte wat na aan aftrede is, sal dit dalk moet oorweeg om hul aftrede uit te stel. Werk so lank jy kan. Dit is goed vir die gees en die banksaldo.

Hoe lyk ‘n behoorlike beleggingstruktuur vir aftrede?

Martin verwys na hierdie model as die 3 silo-benadering:

  • Eerstens raai ons kliënte aan om in ‘n uittree-plan te begin belê, omdat hierdie soort produkte help met gedissiplineerde spaar en ook goeie belastingvoordele bied.
  • Tweedens raai ons kliënte aan om die belastingbesparing uit hul aftreebydraes aan te wend vir ‘n goed gestruktureerde effektetrustbeleggingsportefeulje.
  • Derdens, wanneer ‘n kliënt die nodige beleggingskapitaal opgebou het, raai ons hom/haar aan om met ‘n buitelandse beleggingsportefeulje te begin.

Hierdie beleggingstruktuur gee kliënte ‘n goed gediversifiseerde portefeulje wat goeie belastingvoordele en blootstelling aan plaaslike en internasionale markte bied.

Die ideale benadering hang vanselfsprekend van jou persoonlike omstandighede, en nommerpas advies van ‘n finansiële beplanner af. As jy dus nog nie een het nie, kry vandag nog ‘n goeie een!

Sanlam is ‘n Gelisensieerde Verskaffer van Finansiële Dienste.

Kontak 012 470 0050 of maruschka.uys@herbstbluestar.co.za