Jou vrou se kurwes terg jou al heeldag. Jy weet as jy jou kaarte reg speel, gaan vanaand ‘n goeie aand wees. Maar hoe word jy ‘n koning van harte?
As jou idee van voorspel ’n piksoen, klap op die boud en ’n verskietende bra-gespe behels, sit jy waarskynlik nog in die pondok sover dit passie aangaan, want voor jy nie die fynere kunsies baasgeraak het nie, sal ’n paleis jou nooit beskore wees nie. Vir jou is voorspel waarskynlik die ellelange pad na jou vrou se komplekse hormone toe, die vervelige gedeelte voor jy by die eindelike verowering uitkom.
Probeer egter vir ’n keer anders daarna kyk. Vir jou vrou is jou tydsame bewondering van elke sentimeter van haar lyf, ’n manier waarop jy vir haar wys sy is regtig spesiaal en dat jy net die beste seks verdien. Het jy al ooit gedink hoe vervelig seks sou wees as dit elke aand uit dieselfde meganiese daad bestaan het, en jy geen emosionele verbintenis tot die vrou wat elke aand ’n bed met jou deel, gehad het nie? Jy hoef nie die waarde van ’n goeie quickie op sy tyd te onderskat nie, maar dit behoort eerder ’n variant op julle sekslewe te wees, as die reël.
Sari Locker, die skrywer van The Complete Idiot’s Guide to Amazing Sex, stel voor dat as jy sukkel om jouself as ’n voorspelkoning voor te stel, jy moet begin deur jou te verbeel jy is ’n draaiboekskrywer. Maak asof jy ’n draaiboek vir ’n fliek skryf met baie seksuele spanning tussen die hoofkarakters. Jy het nodig om al die seksuele energie in jou aan te wend, en jou doel is om ’n toneel te skryf wat smeul van seksualiteit. Dink daaraan dat jy die beligting, musiek, aksies en woorde so goed as moontlik wil laat pas by hierdie vlammende toneel.
Onthou dan dat daar 10 reëls is wat jy behoort te ken (en toe te pas!) om van jou ’n voorspelkoning van formaat te maak:
BUITE DIE POORTE VAN DIE SLAAPKAMER
1 Voorspel duur heeldag
Moenie die boek neersit nie! Jy hoef nie te skrik nie – dit klink erger as wat dit is. Maar onthou: Koffie in die bed beteken dalk vanaand ander dinge in daardie selfde bed. En ’n innige totsiens-soen voor sy werk toe ry, beteken waarskynlik dat jy vanaand dieselfde intense soen kan verwag, op ’n ander plek …
2 ’n Koning dink aan alles
Dink vroeg in die dag reeds aan die seksuele ervaring wat jy en vroulief vanaand gaan ervaar en deel jou gedagtes met haar. Bel haar byvoorbeeld en sê in jou beste George Clooney stem dat jy vir haar ’n verrassing het as sy vanaand by die huis kom. Los ’n nota in haar handsak en stuur deur die dag ’n paar romantiese e-posse vir haar. Verras haar die oggend met ’n stel sexy onderklere wat sy kan aantrek en jy heeldag oor kan droom.
3 Raak van ongewenste elemente ontslae
• As jy voor die tyd by die huis is om die regte atmosfeer vir uitmuntende seks te skep, onthou dat daar sekere dinge is wat haar sal weerhou daarvan om te ontspan. Nie dat ons na jou engeltjie- kroos as elemente verwys nie, maar geen vrou kan volkome van haar inhibisies ontslae raak met die wete dat die pantoffel langsaan nog ’n R5 in ruil vir ’n tand moet kry nie. Reël dat jou kinders uitslaap vir die aand.
• Jou vuil sokkies op die vloer is wel ongewensde elemente. As dít en jou nat handdoek op die vloer lê, gaan sy nie eers jou Tarzan-spiere raaksien nie.
• Gee haar die aand ’af’ deur vir ete te sorg. As sy heeltyd weet sy moet nog jou maag ook vol kry, of heel aand bestee het om dit te doen, gaan sy nie vreeslik romanties voel nie. Dit is daarom ’n slim plan om ’n bottel rooiwyn, kerse en pizza gereed te hê. Op die manier kan jy die bokse in die asblik gooi en voila! Geen vuil skottelgoed nie.
4 ’n Heerser is gladdebek
Gebruik voortdurende dubbelsinnige taal en uitlokkende woorde. Hoe meer sulke suggesties jy laat val, hoe meer sal julle van die seksuele spanning tussen julle ontslae wil raak. Locker meen ook: “Baie mense is bekommerd dat hulle nie sexy is nie of dat hulle nie sex appeal het nie. In werklikheid is al wat jy regtig nodig het om te doen, om opgewonde te wees oor die feit dat jy hoop om later seks te hê. Jou opgewondenheid sal vir seker jou maat se belangstelling prikkel en jy sal sexy voorkom.”
5 Laat die komplimente neer reën
Vleitaal … sal jou wel êrens bring – en net waar jy wil wees! Onthou, ’n vrou kan nooit genoeg gekomplimenteer word nie. Maar terselfdertyd moet jy ook nie jou vrou se intelligensie onderskat nie – sy gaan weet wanneer jy nie ’n kompliment bedoel nie. As jy jou woorde fyn kies, sal jou vrou ’n goed gekose kompliment waardeer: Iets soos: “Daardie highlights helder jou gesig so mooi op. Jou hare lyk regtig vir my sexy.” As jy egter nie so slim is met woorde nie, speel veilig, anders kan jy meer skade doen as goed. Sê iets soos: “Jy ruik lekker vanaand.”
6 Moenie aanraking onderskat nie
Fisieke aanraking buite die slaapkamer lei dikwels tot ’n treffende seksuele ervaring in die slaapkamer. Wanneer julle byvoorbeeld in die dorp loop, sit jou arm om haar lyf en beweeg vir ’n oomblik na haar heupe voor jy weer terugkeer na haar middel. In ’n restaurant, plaas jou hand vir ’n paar oomblikke op haar bobeen. As julle fliek, hou hande vas en as julle langs mekaar op die bank sit, raak aan haar gesig of haar hare.
EN BINNE IN DIE PALEIS…
Het jy geweet dat, volgens navorsing deur Dr. Alfred Kinsey en Masters & Johnson, meer as 92% van vroue ’n orgasme gedurende ’n seksuele ervaring kry wanneer hul maats 21 minute of meer op voorspel bestee het? Dit is egter nie wys om dié sessie op jou horlosie te time nie en die vraag oor hoe lank voorspel behoort te duur, hang af van hoe lank jou vrou neem om ten volle opgewek te raak. Dit kan 15 minute wees, maar dit kan ook ’n uur neem. Moet dit daarom nie as jou plig beskou wat afgehandel moet word nie. Geniet dit!
1 Om ’n koning te word, neem tyd
Behalwe vir julle om mekaar in die regte bui te kry vir seks (terwyl jy dit self regtig geniet!) het voorspel ook ’n ander doel – dit leer jou hoe om agter te kom waarvan jou vrou hou. Dit kan jou alles leer aangaande klere uittrek, soen, ’warm vry’ en orale seks, maar voorspel kan regtig enigiets insluit. Deur dit wat jy doen, kan jy jou maat dophou en vasstel wat sy geniet en waarvan sy meer/minder wil hê.
2 Fokus op die rit en nie op die bestemming nie
Ervaar elke reuk, aanraking, klank en smaak van haar lyf intens. Leef in die oomblik sonder om te wonder oor later. Dink by jouself: Ek kan dit letterlik heeldag doen – en vertel haar dit! Sy sal jou wys wanneer sy gereed is om aan te beweeg.
3 Vergeet van ’n tegniese plan
Jou beste strategie, is om geen strategie te hê nie. As jy in die bed klim met ’n stap vir stap plan van: ’Doen dit’ en ’lek daar’ gaan jou wilde aand soos ’n wetenskaps-eksperiment voel. Kyk wat vir haar lekker is, en onthou dit vir volgende keer.
4 Ondersoek jou landskap
Werk voorspelbaarheid tee. Wanneer jy besig is om met haar nek af te beweeg en die volgende logiese stap is om aan haar borste te raak, keer jouself en beweeg met jou hand na haar oor. (Ondersoek jou erotiese geografie. Los jou gewoontes in die See van Genitalieë en die Baai van Borste en geniet die ontdekkingsreis.)
5 Gebruik jou mees erotiese liggaamsdeel – jou hande.
Seksterapeut Carol Queen, ook ’n raadgewende skrywer in Good Vibrations tydskrif, sê jou hande is die slimste en mees sensuele deel van jou liggaam. Belê in jou sekslewe en lees na oor erotiese massering. Dit kan ’n ongelooflike hupstoot vir julle slaapkamerlewe gee. (Kelly Garret, Mens Fitness, Oktober 2003)
6 Die sensasie van ’n stomende soen
’n Soen is ’n perfekte manier om te begin. As jou vrou met haar rug na jou toe lê, kan jy veerligte soene al met haar ruggraat langs plant. Wanneer sy na jou toe omdraai, neem haar gesig in jou hande en kyk vir haar – dit wys vir haar jy bewonder haar. Gebruik jou tong om haar lippe liggies van mekaar te laat wegbeweeg. Speel met jou tong, maar moet dit nie in haar keel afdruk nie. Baie vroue kla dat hul mans nie lank genoeg soen nie, so neem jou tyd. As jy regtig fokus op dit wat jy besig is om te doen, sal jy sukkel om op te hou.
7 Raak haar aan en trek haar uit
Soen en aanraking loop saam. Beweeg jou hande op en af met haar ruggraat. Streel haar nek, ore, arms en polse en beweeg met jou hande af aan die buitekant van haar bobene. Vermy kontak met haar borste en genitalieë! In hierdie stadium moet jou aanrakings meer sensueel as seksueel van aard wees. Probeer haar optel en bed toe dra. Lê haar neer en verbreek kontak terwyl jy waarderend na haar kyk. Begin nou om haar klere stuk vir stuk uit te trek. Onthou, hoe langer jy gaan neem hiermee, hoe meer gaan jy haar laat wens jy is haastiger. Begin deur byvoorbeeld haar horlosie af te haal en haar pols te soen. Trek dan haar skoene uit en soen haar voete. Laat haar toppie se bandjie van haar skouers afgly en soen haar nek en skouers voor jy dit weer optel. En dán … kan jy na haar borste toe beweeg.
8 Baanbrekerswerk vir haarboesems
Onthou dat, hoewel alle borste dieselfde hoeveelheid senuwee-eindpunte het, verskil vroue as dit by sensitiwiteit kom. Om ’n vrou se borste te oorstimuleer voor sy gereed is daarvoor, kan vir haar gevoelloos word, en selfs pynlik – veral gedurende sekere tye van die maand. Begin met die ’minder is meer’ benadering deur haar borste liggies te soen en aan te raak en dan effens terug te tree voor jy aangaan. Moenie slegs op haar tepels fokus nie, maar bly by indirekte stimulasie tot dié deel van haar borste verhard (’n teken dat sy seksueel opgewek is). Selfs al dwing sy jou mond of hande soontoe, moenie onmiddellik toegee nie. Terg haar en wees bewus van haar reaksie soos wat jou aanraking meer intens raak.
9 Jou klere waai só
Tien teen een het vroulief reeds begin om jou klere te verwyder. Miskien het sy jou hemp oopgeknoop en jou belt losgemaak. Dit lyk na die logiese stap om nou jou broek uit te trek, maar moenie. Hou jouself vir so lank moontlik toe. En onthou, voor jy jou broek uittrek, moet jou sokkies eerste gaan!
10 Daar waar die vuur brand
Dit is nou eers tyd om haar genitalieë te betrek, maar moet nog nie dink aan penetrasie nie. In hierdie stadium kan jy jou hande gebruik om haar klitoris mee te stimuleer. Moet egter nie net daarop fokus nie en gebruik jou vingers, jou handpalms en jou mond om haar skaamlippe, dye en skaamhare aan te raak. Terg haar tot sy dit nie meer kan uithou nie. Jy kan ook in hierdie stadium met orale seks begin. Onthou egter net altyd dat droë seks vir haar pynlik kan wees en wanneer jy vermoed die rede het niks met opwekking te doen nie, trek die smeermiddel nader.
Onthou
Onthou, voorspel is nie ’n plig nie – dit is jou septer, jou geleentheid om die passie-vuur te laat aanhou brand. Om mekaar in die regte bui te kry, kan enige seksdaad 100% meer opwindend maak, aangesien intimiteit eindelik die sleutel tot goeie seks is.