Ons smag so dikwels daarna om weer sorgvry soos kinders te wees. Sonder die bekommernisse oor huislenings, motorpaaiemente en die nimmereindigende styging van brandstofpryse. Hier is ’n paar lawwe idees wat julle saam kan doen wat julle weer soos sproetgesigte met haasbekke sal laat voel.

Promosie
  1. Brul vir ’n leeu

Wanneer laas was julle by die naaste dieretuin of wildpark? Koop roomys terwyl julle stadig en romanties drentel, op soek na die koning van die diere en prettige apies. Julle kan selfs vir die (skoon)familie by die sjimpansee-hok gaan kuier. Julle kan ook piekniek hou en net die rustigheid van die natuurskoon geniet. Die vars lug kan die libido net goed doen. Dink aan die liedjie: “You and me baby, ain’t nothing but mammals … ”

  1. Gaan speel games

Tussen al die jong kinders by die speletjiesarkade gaan julle dalk stokoud voel, maar moenie dat dit julle onderkry nie. Daag mekaar uit vir iets lekkers soos air hockey. Julle kan selfs ’n rondte pool speel. Sorg net dat julle darem nie nét op die kamma-motorfietse ry nie, maar ook darem van die girly-speletjies speel, soos om balle in ’n nar se mond te gooi. As jy vir haar ’n soft toy wen, sal sy darem baie beïndruk wees!

  1. Vind weer vir Nemo

Moenie die animasieflieks kyk wat julle al honderde kere saam met die kinders moes kyk en al van agter-tot-voor kan opsê nie. Neem ’n animasiefliek uit wat julle nog nie ken nie, of kry ’n ou classic soos The Lion King. Lag weer ’n slag uit jul maag vir die manewales van die karakters.

Promosie
  1. Boooooe!

Min dinge is so prettig soos spookasem en slush puppies! As julle dié lekkernye kan kombineer met ’n besoek aan die naaste pretpark, is dit dubbel so lekker. By die pretpark sal vroulief ten minste ’n verskoning hê om styf onder jou blad in te kruip, of jou hand verbete vas te klou om die vrees te verdryf.

  1. Wie het die moord gepleeg?

Stof weer die ou bordspeletjies soos Monopoly, 30 Seconds en Cluedo af. Daar is min dinge wat ’n mens so lekker kan laat lag as wanneer vroulief vir jou ’n rugbyspeler se naam probeer verduidelik, terwyl dit eintlik ’n krieketspeler is. As julle so gelukkig is om ’n vingerbord te besit, kan julle mekaar vir ’n potjie uitdaag.

  1. Speel huis-huis

Bou vir julle ’n tent in die sitkamer. Span komberse oor stoele en maak vir julle ’n lieflike nessie waar julle kan lê en springmielies eet, melkskommels drink en lekker gesels. Julle kan ook jul selfgemaakte tent in die agterplaas opstel. Sorg dat julle vir julle ’n opening laat om na die sterre te kan kyk. Braai ’n paar malvalekkers by kerslig ook.

  1. Voel weer tien

Bestel vir julle ’n nar-roomys van die kinderspyskaart af (in dié geval kan hulle maar die inkleurprent en kryte hou). Dit gaan dalk mooipraat kos om die kelner te oortuig, maar dit sal beslis die moeite werd wees.

  1. Gekleurde skuim en kryte

Bad met tipiese kinderbadgoed soos gekleurde skuim, blinker-lyfwasmiddel en badkryte. Skryf vir mekaar allerlei oulike boodskappe teen die badkamer muur. Laat jou vrou raai wat jy met die kryte op haar rug skryf.

  1. Gaan ry stampkarre of go-carts

Jy gaan waarskynlik dié uitstappie meer as jou vrou geniet, maar as sy ’n bok vir sports is, sal sy jou uitdaag. En miskien, net miskien, kan jy sorg dat sy darem ook ’n rondte wen …

  1. Laat die wiele sing

Julle hoef nie professionele fietsryers te wees vir hierdie lekker speletjie nie. Gaan na ’n park waar julle met jul fietse wegkruipertjie kan speel. Al is julle nie fiks nie, kan dit hope pret wees. ’n Mens ervaar soveel meer van die omgewing wanneer jy dit op die saal van ’n fiets beleef.

Daar is min dinge wat ’n mens van jou stres kan laat vergeet soos kwaliteittyd saam met jou maat. Groot pret lê dikwels in eenvoudige aktiwiteite en plekke. ’n Mens moet net soms diep gaan soek na die kind wat steeds iewers binne jou skuil. Gaan trek sommer nou (liggies) jou vrou se hare!

Artikel deur Lize Groenewald

***Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!