Liefste INTIEM-lesers, “New beginnings are often disguised as painful endings,” het ’n man met die naam van Lao Tzu gesê. En dit was met gekneusde harte wat ons hierdie uitgawe sorgsaam vir julle aanmekaar gesit het.

Promosie

Sien, dié is ons laaste uitgawe van INTIEM, soos julle haar die afgelope 11 jaar leer ken het. Die laaste keer wat ons, soos julle nou, haar blaaie kan omblaai en haar kan lees soos die nuanse en lyftaal van ’n vriendin met wie ons meer as ’n dekade lank ’n intieme reis gedeel het. . . en hoewel dit met ’n wonderlike nuwe begin gepaard gaan (wat ons nou-nou met julle sal deel), kan ons nie ons hartseer ontken nie.

Ons onthou die heel eerste redaksionele beplanningsvergaderings, ontmoetinge met seksuoloë en terugvoer vanaf julle – ons getroue lesers. Ons onthou ’n tyd toe baie Afrikaanse vroue gebloos het om dié tydskrif in hul inkopiewaentjies te laai en hoe ván hulle ook hul afkeur aan ons bekend gemaak het.

Maar ons onthou ook hoe wonderlik dit was om deel te wees van ’n transformasie. . . ’n mens kan dit amper ’n klein seksuele rewolusie noem. Hoe meer INTIEM bereid was om te gesels oor intimiteit in sy geheel (sonder om doekies om te draai sover dit fisieke intimiteit aangaan), en hoe meer julle hierdie inligting geabsorbeer en gedeel het, hoe minder taboe het seks geword. Skielik het ander publikasies, wat voorheen te skugter was om dit te doen, óók daaroor begin praat.

Promosie

Ons het ervaar hoe paartjies mettertyd makliker met mekaar en met hul vriende oor hul huwelike kon gesels en hoe ons kon bydra (selfs net in ’n klein mate) tot God se plan met huwelike in Suid-Afrika – die aanvanklike mandaat waaronder INTIEM gebore is.

Om vir ’n tydskrif te werk is allermins soortgelyk aan hoe reekse soos So Cosmo en flieks soos The Devil Wears Prada dit uitbeeld. Nee, daar is nie ontwerpersklerekaste waaruit ons kan aantrek, assistente wat Starbucks bestellings aandra en bottels vol parfuum en lipstiffies wat daagliks by die kantoor afgelewer word nie. Maar daar is ook nie bitsige opmerkings wat heen-en-weer geslinger word nie. . .

Die afgelope 11 jaar was ons ’n hegte groepie vroue wat mekaar met respek aangevul het. Daar is báie gelag, soms ’n bietjie gesweet (gedurende moeilike sperdatums en uitlegweke) en definitief ook gehuil. Veral die laaste tyd met die lees van die inhoudlêer, die aanmekaarsit van die laaste (mooie!) voorblad en die skryf van hierdie brief aan julle – ons lojale lesers wat die afgelope 11 jaar so na aan ons harte gegroei het.

Dit was dus voorwaar nie maklik nie, maar saam met die bitter kom ook ’n heerlike soet! So, saam met die groet, stel ons julle ook met groot opgewondenheid bekend aan die nuwe, dinamiese, digitale INTIEM. Sy bly steeds die vriendin wat jy ken, maar sy kry ’n make-over, waarvan ons weet jy sommer baie gaan hou!

Ons wêrelde het die afgelope paar jaar dramaties verander met tegnologie om die onmoontlike moontlik te maak. Vandag is ons selfone deel van ons elke-dag-doen. Dis ons kameras, ons kommunikasie, ons vinnige hallo-sê, ons weermanne, ons resepteboeke, ons wekkers, ons musiek en sommer ook ons persoonlike assistente. Ons vra Google nou al enigiets en kry ons padkaarte op Maps of Waze. Dis ’n vinnige manier om gou na e-posse te kyk en dit word ’n wonderlike bron van inspirasie en vermaak. Sonder dat ons dit besef het dit ’n groot deel van ons lewe geword.

By INTIEM het ons gesien en gehoor hoe julle gesels en die artikels lees. Meer en meer mense het artikels deur ons Facebookblad begin lees en met hul vriende gedeel. Ons visie en missie by INTIEM is om julle te inspireer en positief te beïnvloed na ’n gesonde huwelik en sodoende ’n gesonde gesin. Wáár en hoe julle die inligting lees, is nie so belangrik soos watter inligting dit is nie.

Daarom het ons by INTIEM ’n baie dapper en moedige besluit geneem om te herposisioneer en só die toekoms met mag en mening aan te pak.

INTIEM se inhoud sal voortaan gratis, in digitale formaat, op ons aanlyn platforms beskikbaar wees. Sy sal (op jou tablet, selfoon of rekenaar) 24 uur, sewe dae per week, vir jou toeganklik wees en jy kan haarlees waar en wanneer jy tyd kry. Jy kan onmiddellik op die artikels inskakel, en hoef nie die gedrukte formaat iewers in jou naaste supermark te gaan soek nie. As jy klaar gelees het, kan jy die gratis artikels, planne, wenke en idees met die kliek van ’n knoppie deel, maar ook gesels met ander wat soos jy dink.

Ons is vol planne vir 2018! In die nuwe INTIEM sal daar meer video’s, interaksie en gesels tussen INTIEM en haar lesers wees. Ons is opgewonde oor die 12 vars maandtemas wat jou reg deur die jaar sal inspireer – in ’n eko-vriendelike formaat! Maak ’n groot kring rondom 1 Februarie want dis die amptelike bekendstelling van die nuwe INTIEM! (In hierdie uitgawe van INTIEM is daar ’n gratis 2018 kalender vir jou yskas waar ons reeds vir jou ’n sneak preview van ons temas gee!)

Dankie aan jou, liewe INTIEM-vriend en -vriendin! Dankie dat ons kon en steeds kan insae lewer in jou huwelik. Ons hoop dat ons ’n stempel van hoop en liefde op jou en jou lewensmaat se lewens kon en steeds kan los. So ook die oortuiging dat dit áltyd die moeite werd is om op te staan vir jou huwelik. Ons sluit met trots hierdie hoofstuk af en sien uit na die amptelike bekendstelling van die nuwe digitale INTIEM op 1 Februarie 2018. Maak seker jy teken nou al op ons Facebook bladsye en webtuiste (www.intiem.co.za) aan. Ons glo vas dat die Skepper van alles – ook huwelike – nog groot planne vir INTIEM het.

“If nothing ever changed, there’d be no butterflies. . .”

* Aandag intekenaars: Skakel vir Sarie Daniel op 012 347 7530 oor terugbetaal reëlings. As jy INTIEM as geskenk ontvang het, laat weet jou skenker om ons te kontak.