Speel saam met jou maat! Jy is dit aan jou huwelik verskuldig. En wie wil nou nié ‘n verskoning hê om te kan speel nie? Selfs wanneer jy dit met ‘n kierie en ‘n stel vals tande moet doen!
Hoe het jul huwelik se dinamika in 2020 gelyk? Gewoonlik begin ons die jaar vuur-en-vlam, met hoop, vooruitsig en breë glimlagte. Maar soos die dae verbygaan, raak die emosionele vrag op ons skouers net swaarder en swaarder … só dat Desember aanbreek met ons skouers én ons mondhoeke wat afwaarts hang. Die lewe is swaar en ons is érnstig!
Wel, dis Desember. Hiep-hiep Hoera!
Tyd om af te skakel en te reset. Is daar ‘n beter manier om dit te doen as om te spéél? Couples that play together, stay together. Dit maak nie saak hóé oud en hóé sinies jy is nie, elke liewe mens hou daarvan om te speel. As grootmense gebruik ons net ander woorde om dit te beskryf.
Deur die jare het kenners navorsing gedoen om vas te stel hoe saamspeel jou huwelik kan bevoordeel en hulle het die volgende bevind: Dit kán jou huwelik hernu, dit kan kommunikasie tussen julle bevorder, dit kan ‘n beter vriendskap tussen jou en jou maat bewerkstellig en dit kan die kern van jou huwelik verstewig.
Saam speel is ‘n teenvoeter vir verveling. En om aan interessante en opwekkende aktiwiteite deel te neem, sal jou lekkerder laat voel. ‘n Gelukkiger persoon is gelyk aan ‘n gelukkiger lewensmaat en daardie emosies sál oorvloei na jou huwelik en jou maat.
Hier is ons voorstelle!
- Plakker-rakkers. Gaan eendag uit in die openbaar en wees plakker-rakkers. Die uitdaging is om soveel moontlik plakkers op vreemdelinge te plak (sonder dat hulle dit agterkom, natuurlik). Dit is opwindend en ‘n bietjie vreesaanjaend! Want as jy uitgevang word, sal jy ‘n rede vir jou bisarre optrede moet aanvoer! Jy en jou maat moet ‘n plek kies (soos ‘n supermark) en ‘n tydsduur daar stel (soos 15minute). Die een wat die meeste plakkers kan plak (sonder dat die vreemdelinge dit agterkom) is die wenner! Die wenner kan sy/haar prys opeis.
- Klank-raaisels. As julle hou van die media, is dié speletjie perfek vir julle. Dit behels dat julle verskeie klanke en geluide en liedjies op jul selfone opneem. Jy stuur dan elke nou en dan vir jou maat ‘n klank met ‘n whatsapp en hy het 10 minute om te raai wat dit is. As hy dus nie op sy hoede is en jou whatsapp betyds kry nie, verbeur hy sy beurt. Die wenner kan sy/haar prys opeis.
- Krabbel-en-babbel. Ken jy die baie ou speletjie Krabbel of Scrabble? In dié bordspeletjie kry elke speler sewe letters en moet daar woorde gebou word met jou beperkte letters rondom dít wat reeds op die bord is. In dié weergawe maak julle ‘n addisionele reel. Vir elke woord wat jou maat op die bord plaas, moet hy/sy eers ‘n romantiese sin maak om sy puntetelling te verdubbel. Dit kan ‘n uitdaging wees, baie romanties wees of baie snaaks wees! Die een wat eerste ‘n puntetelling va 50 kry, moet al sy/haar klere uittrek voor julle verder speel. As die tweede party van al hul klere ontslae geraak het, kan julle besluit of julle wil aanhou speel!
- Stukkend-staar. Onthou jy die speletjie wat julle as kinders gespeel het? Wel, dis iets wat julle enige plek kan doen. As julle in die voorportaal wag vir jul afspraak met die boekhouer, as julle in die tou staan om fliekkaartjies te koop, of in die bad! Kyk mekaar in die oë sonder om weg te kyk of jou oë te knip (maak dit ekstra uitdagend deur vir mekaar gesigte te trek). Die een wie se oë die eerste keer dwaal, is die verloorder.
- Kindu. Kindu is ‘n gratis toep vir jou foon wat julle kan gebruik wanneer julle nie by mekaar is nie. Met dié toep kan julle jul rekeninge koppel en dan ‘ja’, ‘nee’, of ‘miskien’ begin antwoord op ‘n reeks vrae of afspraak-idees en romantiese aktiwiteite wat julle sou oorweeg. Jy sien slegs die antwoorde waaroor jy en jou maat ooreenstem. Terselftertyd kry jy kreatiewe en oorspronklike idees om dinge in die slaapkamer mee op te kikker!
- Sticky-note-resies. Kyk of julle mekaar kan klop deur liefdesnotas deur die huis te plant. Besluit op ‘n tyd om te begin en ‘n tyd om te eindig. Dit kan ure duur – of maande! Skryf ‘n liefdesnota vir jou maat neer en plaas dit iewers op ‘n onopvallende plek. Jy mag slegs ‘n nuwe nota vir jou maat plant wanneer jy een van jou maat s’n ontdek het. Wanneer jul tyd verby is, kyk hoeveel notas jy gevind het. Die een met die meeste notas wen!
- Happy Couple – love quiz. Dié gratis speletjie, wat versoenbaar is met Android én Apple, help jou en jou maat om meer oor mekaar te ontdek! Elke dag maak jy en jou maat die toep oop. As jy ‘n aantal vrae korrek geantwoord het kry jy punte wat jou toelaat om verskeie interessante geslote uitdagings oop te sluit. Die toep se ontwikkelaar, Dr Lonnie Barbach, ‘n sielkundige en outeur van topverkopers oor seks en verhouding, sê dat haar doel hiermee is om ‘n groter gehoor te bereik wat nié terapie kan bekostig nie en so nuwe gesprekke tussen lewensmaats te inspireer.
- Sing Song Ping-Pong. Hou julle van sing? Of hou julle daarvan om vir mekaar te lag terwyl julle sing? Een maat kies ‘n liedjie en begin deur die eerste reël te sing. Die ander maat moet kreatief genoeg wees om die liedjie te voltooi met die laaste woord en ‘n ander liedjie met die laaste woord te begin. So maak julle beurte. Die een wat nie die liedjie kan voltooi nie, is die verloorder!
Lekker speel. Die sleutel van ‘n goeie speletjie is dat albei dit moet geniet. As dit boonop gesonde kompetisie tussen julle kan aanwakker, wat die adrenalien laat pomp, behoort julle allerlei handige voordele hieruit te put!
Addidisionele bronne: www.pandagossips.com/www.marriage.com/ www.dating.lovetoknow.com
Artikel deur Annelize Steyn
***
Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?
Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!