In the summertime, when the weather is fine … Somertyd beteken julle kan ophou hiberneer en weer ’n bietjie uitgaan. Wanneer laas was jy en jou mooier helfte op ’n proper date?

Jy hoor dalk reeds ’n ka-tjieng in jou agterkop, omdat jy dink dat ’n date noodwendig die prys van ’n wildsplaas moet kos, maar met ’n bietjie moeite en kreatiwiteit kan ka-tjieng dalk eerder beteken dat die punte wat jý hiermee aanteken, vir jou ’n doel of twee gaan beteken …

  1. I scream, you scream

Gaan eet ’n lekker groot bederf-roomys! Dit kan een van daardie hemelhoë draairoomyse met ’n suikerhorinkie en dik flake wees of ’n deftige gelato of peperduur Duitse roomys. Dit is die uitstappie wat saakmaak. Julle kan mekaar rondjaag met die roomys – of mekaar voer (hê pret hiermee!)

  1. Splish-splash

Somertyd is sinoniem met swem. As julle nie naby die see bly of naby ’n oord met lekker swembaddens nie en julle ook nie julle eie swembad besit nie, sal een van daardie piepklein opblaasswembadjies ook die trick doen. Onthou die hele date lê nie net in die swem self nie, maar in die mengeldrankies en eetgoed wat jy vir julle organiseer. Voeg bubble bath by die water en kyk hoeveel borrels julle kan maak!

Promosie
  1. Baby, kom ons gaan bioskoop toe

As jy jou vrou fliek toe gaan neem, beteken dit nie dat jy vir ’n slag die nuutste skop-skiet-en-dinges fliek kan gaan kyk nie. Ook nie die een met die vinnige motors nie, tensy jou vrou régtig daarvan hou. Neem haar vir iets waarvan sý hou, al is dit ’n tranetrekker, musiekblyspel of regte girlie-fliek. Julle kan ook inry toe gaan of selfs in jul agterplaas fliek met ’n projektor. Moenie die springmielies en sjokolade vergeet nie! En vry op die agtersitplekke!

  1. Die bederf-date

Doen iets wat vir jou vrou spesiaal is. Jy ken haar waarskynlik beter as enigiemand, jy sal weet of sy hou van ’n spa-bederf, ’n bosveld-wegbreek of selfs ’n inkopie-bederf. Maar onthou: Dit beteken nie jy kan haar alleen stuur, terwyl jy na die rugby kyk nie. Die idee is dat julle sáám gaan!

  1. Die eerste-date reünie

Delf ’n bietjie in jul geheue. Wat was jul eerste date? Russians en chips in jou Volla? ’n Coke-float en hamburger by Manny se roadhouse? Gaan herleef weer daardie skoenlapper-gevoel van destyds! En sorg dat dit saamloop met ‘n lekker lang sopnat French Kiss!

  1. Een-twee-drie

As jou vrou van dans hou, kan jy haar gerus uitneem daarvoor. As jy nou régtig punte wil score, gaan saam met haar vir dansklasse. Maar as dit té ver uit jou comfort zone is dat ‘n vreemde man jou die cha-cha leer, neem haar net uit vir die aand. Baie vroue dans graag, terwyl jy dit dalk nie ewe veel geniet nie. Geniet dit om sommer net laf te wees en dalk weer jou Grease-passies uit te haal.

  1. Die oggendstond het goud in die mond

Wie het gesê ’n date kan nie in die oggend wees nie? Gaan eet lekker saam ontbyt of deel sommer net ’n melkskommel, met twee strooitjies.

  1. Die black-tie date

Jy en vroulief het dalk nog laas met jul matriekafskeid deftig aangetrek. Skep vir julle ’n geleentheid om mooi aan te trek. Geen verskonings nie! Trek jou pak aan en bederf haar met iets moois en gaan eet by ’n swierige plek waar die vurke en messe aan tafel meer is as wat julle besit. As jul dorp of stad nie so ’n deftige plek het nie, trek nogtans mooi aan en laat almal maar wonder wat dié spesiale geleentheid is.

***

Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!