Ek kom met swaar hart hulp vra asb. Ek en my man is nou al 15 jaar saam. 4 daarvan getroud. 3 kinders. So paar jaar terug toe moes hy weg werk en ek het gedink hy sien iemand anders, omdat hy nooit beskikbaar was as ek hom nodig gehad het nie. So ek het to geselsskap by iemand anders gaan soek. Lang storie kort. Geen seksuele dade was daar nie net gesprekke oor die foon en intieme fotos is heen en weer gestuur. Ek het ‘n vrou in my vetroue geneem en sodoende het sy alles wat ek gedoen het of met haar bespreek het van rekord gehou en dit vir my man gegee. Ons kon toe dinge uitwerk en aanbeweeg. Nou so paar weke terug kry my man in sy kop ek is besig met iets, maar ek is glad nie. Hy het alles van die verlede opgebring en die sere is weer rou. Ek het soveel keer jammer gesê, maar nou verdink hy my van iets. Ons intimiteit is drasties af. Hoe gaan ons, ons huwelik red?
Peter Edgar, huwelikskenner en -berader, antwoord:
Hoe maklik sou die lewe nie wees as ons sekere dele van die verlede kon oorhê of ongedaan kon maak nie, maar natuurlik is dit nie moontlik nie. Wat gebeur het, het gebeur, hoe dit ookal sy. Dit kan nie verander nie. Hierdie is net nog ‘n geval waar ‘n derde party probleme in ‘n huwelik veroorsaak deur vertroue te breek, en dikwels het so ‘n persoon ‘n verskuilde agenda.
Ek glo dat wat hier gebeur het, nie die eintlike kwessie is nie. Jy sê dat dinge lank gelede uitgesorteer was, jy om verskoning gevra het en julle by mekaar gebly het. Nou, jare later, steek die lelike ding weer sy kop uit. Maar hierdie was bloot ‘n sneller, en dit kon net sowel iets anders gewees het. Vanuit my ervaring is hierdie nie die ware probleem nie; net ‘n simptoom.
Kom ons begin by die bron – julle hele huweliksverhouding. Dit het begin met hierdie insident wat net ‘n klein deel daarvan was, maar julle het toegelaat dat dit deur julle hele verhouding versprei. Hoekom sê ek so? Want julle was nooit albei heeltemal tevrede met hoe die situasie hanteer is nie, en sodra enige iets anders gebeur, word daar op hierdie insident teruggeval en word jou eerlikheid oor die situasie bevraagteken.
Dit dui daarop dat daar ander probleme is wat julle nie as ‘n paartjie hanteer nie. Eerstens moet jy probeer om kommunikasie so gou as moontlik weer aan die gang te kry. Jy moet dringend tyd maak om met jou man te praat oor waar julle albei in die verhouding staan. Dit moet ‘n oop gesprek wees waar julle eerlik vir mekaar kan sê hoe julle oor elke kwessie voel. Hierdie is nie ‘n geleentheid om te baklei of mekaar aan te vat nie, maar een waar julle begin om julle huwelik te herbou.
‘n Goeie volgende stap is om weer “date nights” in te stel, dit weer te geniet om tyd saam te spandeer en weer verlief te raak. Laastens, stel doelwitte vir julle huwelik en dink aan haalbare planne vir elke area van julle verhouding, en geniet dit om saam daaraan te werk.
Kom in kontak met Peter Edgar vir huweliksberading en -ondersteuning. Kliek hier!