Sukkel jy soms om jou maat se optrede te verstaan? Staan jy stom oor reaksies in sommige situasies? Wens jy dat jy iets kon doen om julle beter te laat jel? Dan kan jou huwelik beslis baat vind by ‘n omvattende temperament-toets. 
Ons weet jy (en dalk jou maat) het moontlik alreeds uitgevind of jy ‘n Lake, ‘n Ocean, ‘n Fountain of ‘n Snow is deur ons gratis (basiese) LOFS toetsie te doen… Maar onthou, jy het ook ‘n sekondêre en ‘n kombinasie temperament… En dit help veel as jy weet wat jou temperament is, maar jy weet nie “Wat Nou Verder”? nie…

Promosie

Die vakansie is om die draai en jy het besluit om ‘n fantastiese road trip vir jul gesin te beplan. Ná ure se internet-navorsing, deurlees van resensies en in diepte ondersoeke van padkaarte het jy ‘n wonderlike reis deur die Kaapse binneland uitgelê, maar manlief het jou dokumentasie een kyk gegee en sy misnoë te kenne gegee. “Dink jy regtig dis haalbaar? Ons gaan die hele dag lank ry…” Jy antwoord dat dit eintlik nie so ver is tussen jul bestemmings nie, maar hy bly nors. “Dis nie my idee van vakansie nie.” Jy verloor jou humeur en sommer ook jou lus vir dié projek wat jou maande geneem het om saam te stel. Hier broei ‘n argument wat gaan groei en ‘n reuse-uitval tot gevolg gaan hê. Wie is hierdie knorpot met wie jy getrou het? En hoekom kan hy nie verstáán dat jy ongelukkig is nie – hierdie vakansie is presíés wat julle nodig het…

Dit is maklik vir ‘n ouer om ‘n kind se temperament te verstaan en ouers groepeer hul kinders dikwels in spesifieke kategorieë: “O my suster, Dian was ‘n happy-go-lucky droomkind, maar Sita? Sy was ‘n koliekbaba en ‘n móéilike tiener!” ‘n Temperament is ‘n aanduider van ‘n individu se emosionele intensiteit en dit kan sommer kort ná geboorte vasgestel word. Hoewel baie kenners meen dit is ‘n vroeë teken van persoonlikheid, is dit temperament gekombineerd met ervaringe wat eindelik langtermyn karakter-eienskappe vorm. Was dit maar so maklik soos om jou skoonma te vra watter tipe baba jou man was en hom daarvolgens te hanteer! Dis egter nie so eenvoudig nie, want teen die tyd wat jy jou lewensmaat ontmoet het, het invloed ‘n groot rol gespeel, en natuurlik het sy haar bloedjie uit háár perspektief geklassifiseer (wat nie noodwendig met joune sal ooreenstem nie).

Promosie

Jou temperament word oorgeërf en beïnvloed deur ses mense – jou ouers en jou vier grootouers, meen die huweliksplatform, Marriage Capsule. Jou temperament is die oorspronklike weergawe van wie jy eintlik is (vóór jy opgevoed, onderrig en verander is deur gebeurtenisse in jou lewe). Gewoontes en geleerde gedrag vorm karakter en die gesig wat jy vir die wêreld wys. Maar om jou temperament te verstaan, kan jou bemagtig en jou bevry – dit is tog eintlik hoe jy in wese geskep is! Jy hoef nie voor te gee, jouself met jou Facebook- en Insta-vriende te vergelyk of te wees wie jy dink jou maat wil hê jy moet wees nie. Elke liewe mens is uniek, met sy eie temperament. En elke temperament het sy eie sterk eienskappe en swakker eienskappe.

Jou temperament het die sterkste invloed op jou gedrag. Ja, jou agtergrond, jou grootword-jare, jou omgewing, jou opvoeding en die kultuur waarin jy grootword het, het alles ‘n groot invloed op jou persoonlikheid en gewoontes, maar jou temperament sal jou aksies, jou reaksies en jou motivering voortbring.

Wat behels ‘n temperament-toets vir ‘n paartjie?

Dit beteken dat jy en jou maat ‘n lekker, prettige invul-toets doen wat jul onderskeie temperamente vir julself en vir mekaar kan uitlê. Dit stel jou bloot en daarom moet ‘n paartjie mekaar kan vertrou met hierdie inligting. Jy mag nie jou maat se swakhede teen hom/haar gebruik nie. Die voorwaarde (vóór julle hierdie toets neem) moet wees dat julle mekaar emosionele beskerming bied en mekaar nie sal veroordeel vir jul foute nie.

Natuurlik is geen temperament-toets volmaak nie, maar dit gee jou wel antwoorde oor jou geaardheid en jul verhoudings-dinamiek sodat julle mekaar beter kan verstaan en ‘n sterker huwelik daaruit kan ontwikkel.

REDE #1: Dit help julle om mekaar beter te verstaan

Wil jy weet wáár jou maat aan al sy energie kom? Want terwyl jy ontspan met ‘n boek, gaan ry hy ‘n fietsmarathon en kom terug soos Superman! Sy bui word gestabiliseer deur aksie en joune deur stilte. Jy gaan ook meer leer oor jou maat se ritme en eindelik verstaan hoekom hy sewe-uur moet eet en tienuur moet gaan slaap, terwyl jy Rice Krispies eet drieuur in die oggend en sommer op die ingewing van die oomblik Drakensberge toe ry.

‘n Temperament-toets kan jou meer leer van benadering en vermydingaanpassing en impulsiwiteit. En jy kan eindelik verstaan hoekom ‘Die gezoem van die bye’ herhaaldelik in die kar jou eie kop laat zoem, terwyl dit lyk asof jou maat met sy eie gedagtes besig is en die kinders hul gate uit geniet. En jou maat kan verstaan hoekom jy soos ‘n kruidjie-roer-my-nie is, nadat kleinboet die hele dag aan jou been gehang het (leidraad: Dit het alles met stimuli-bewustheid van klank, reuk, sig, smaak of aanraking te doen).

Hoekom droom jou man terwyl jy ernstige sake bespreek? Hoekom sukkel jy met deursettingsvermoë? Die temperament-toets kan duidelikheid bring in sóveel opsigte! Dit kan jou help om jou maat beter te verstaan en só kan jy beter voorbereid wees op sy/haar reaksie.

REDE #2: Dit help julle as paartjie om konflik te minimaliseer

Jullle trou en dit voel of die wittebrood vir ewig gaan voortduur. Dan, elf maande later word jy een oggend wakker en kan nie verstaan hoekom hy so lui-lui deur die dag kan drentel, terwyl daar sóveel is om te doen nie! Pure frustrasie. Goed, kom ons vertel jou ‘n ding: Temperament-botsings in ‘n huwelik is onvermydelik. Dit tree gewoonlik na vore na ongeveer tien maande se saamwoon en bereik ‘n krisispunt in die tweede jaar (Jy kán nie verstaan hoekom hy die terme en voorwaardes tíén keer moet deurlees, terwyl jy net daardeur vluglees nie – dit dryf jou tot raserny!)

Volgens Art en Larraine Bennet, skrywers van die boek The Temperament God gave your Spouse, is die probleem nie dat ons moeg word vir ons maats se andersheid nie, maar eerder dat ons begin bekommerd raak dat ons maat nie dít wat vir ons belangrik is, óók as belangrik beskou nie en dat ons emosionele behoeftes daarom nie vervul sal word nie. As julle ‘n oulike paartjie is wat weet hoe om deernis met mekaar se temperament te hê en dit te waardeer, sal julle groei in die proses. So sal die Lake persoon leer hoe om vakansie-planne te inisieer, en die Ocean mens sal tot tien tel voor hy op die kar se hooter blaas. Julle kán die konflik oorkom, maar sonder ingryping kan dit sowat tien tot twintig jaar neem. As julle vóór dan soos spanmaats wil begin saamwerk, doen ‘n temperament-toets.

REDE #3: Dit gee julle duidelikheid oor jul dinamika

 “Haai, ek het nie geweet dat jy óók hou van jou persoonlike ruimte nie?” laat jy verbaas hoor. Jy het altyd gedink dat, omdat manlief joviaal is, hy nie juis erg daarin het nie, maar sy temperament-toets wys die teenoorgestelde. En dís hoekom julle dit moet doen! Julle kan ontdek dat julle eintlik baie dieselfde is. Of dalk dat jul temperamente baie verskil, maar mekaar komplementeer.

As julle baie ooreenstem ten opsigte van temperament, is dit maklik vir jou om op ‘n empatiese manier jouself in jou maat se skoene te plaas en dit kan baie konflik uitskakel. Maar as julle verskil, kan julle mekaar ook uitbalanseer en aanvul. Jy spring in die dam – manlief gooi eers ‘n lyn met ‘n gewiggie in om die diepte te meet… en eintlik is julle die perfekte kombinasie, want daar heers ‘n balans tussen julle twee. As jy egter nie wéét dat julle totaal en al verskillend voel oor sekere aspekte en verskillend bedraad is nie, kan julle moeilikheid optel.

Julle moet dalk ekstra hard werk om te jel, so doen ‘n temperament-toets! Só leer julle waar julle harder moet werk en waar nie.

REDE #4: Dit kan jul kommunikasie verbeter

Hy sê sy koffie is koud. Jy hoor: “My koffie is koud, want jy draai altyd onnodiglik.” Een van die grootste sinkers van huwelike, is kommunikasieprobleme. Deur jou maat se temperament te ken, kan julle kommunikasie-tegnieke verbeter. Op Above and Beyond Christian Councilling se webtuiste, aandbcouncilling.com skryf Don Ibbitson dat ‘n temperament-toets baie kan wys oor hóé julle kommunikeer. Dit kan die volgende aspekte duideliker maak:

  • Wanneer is ‘n goeie tye om ‘n gesprek te inisieer? Liefie het ‘n afkoelperiode nodig na ‘n werksdag. Hy wil eers ‘n whisky hê en daarná kan jy jou stories uitryg. Jy kan nie wag nie, want jy wag al die hele dag en jy wil dinge nóú bespreek. As julle mekaar se temperamente in dié opsig verstaan, kan julle ‘n beter strategie ontwikkel.
  •  Kom ons praat oor die moolah! Party temperamente is geneig tot vrees vir ekonomiese mislukking, terwyl dit vir ander nie so belangrik is nie. Jy dink dalk jou maat is bloot ‘n suinige vrek omdat hy nie daardie oorsese reis wil onderneem nie. Hy weer dink jy is ‘n big spender omdat jy nie dink aan more nie. As dit bekend klink, kan ‘n temperament-toets ‘n groot verskil in jou huwelik maak.
  •  Jy ken die tekens… sy bolip word wit en die are in sy kop bult, maar hy sê nie ‘n woord nie. Jy weer, laat die woorde val sonder om hulle te tel! Sekere temperamente druk nie hul woede maklik uit in gewone situasies of argumente nie, maar onopgeloste woede wat binne gehou word, eindig dikwels in ‘n ontploffing. Leer ken jou maat se manier om woede te hanteer.
  •  Watter woorde moet liefs nié gebruik word nie? Sommige temperamente reageer beter met feite en logika (“Ek het sewe jaar gelede gesê dat as ons situasie nie met dertig persent verbeter nie, gaan dinge nie uitwerk nie”), terwyl ander diep delf in gevoelens en emosies (“Daardie tyd toe jy teenoor my gebieg het en jou hart uitgestort het, het ek jou benoudheid gelees en dit het my baie bang gemaak”). As jy konflik wil oplos en met jou maat konnekteer, leer jou maat se temperament ken.
  • Hoeveel praat jou maat? Is hy ‘n chatterbox en jy het net ‘n handvol woorde? Jou maat se temperament het ook ‘n effek op die hoeveelheid woorde wat hy/sy gebruik. Dis goed om te weet wanneer jy jou maat moet aanmoedig om te gesels en wanneer dit nodig is om iets te doen om ‘n woord in te kry.

REDE #5: Dit kan jou wys wat jou maat nodig het

Een van jou prioriteite as ‘n lewensmaat is om jou maat só te help groei sodat hy/sy die beste weergawe van hulself kan wees. Jy wil dit tog hê! Maar hoe kan jy dit doen as jy nie weet wat jou maat se behoeftes is nie? Suksesvolle verhoudings kom neer op basiese behoeftes: Wat het jou maat nodig om gelukkig, vervul en emosioneel veilig te voel? Is jy bereid om hierdie behoeftes te vervul? Is jou maat bereid om joune te vervul? As albei partye nie gewillig is om mekaar se (redelike) behoeftes te vervul nie, kan die verhouding nie floreer nie.

‘n Temperament-analise is baie handig. As jy agterkom hoe belangrik alleentyd vir jou maat is, dat dit vir hom/haar ‘heilige tyd’ is om batterye te herlaai omdat sy/haar temperamenttipe maak dat hul ‘n lae behoefte aan sosialisering het, gaan jy twee keer dink voor jy weer drie partytjies oor ’n naweek skeduleer. As jy werklik verstaan hoe inherent dit tot hul persoonlikheid is, kan jy help om jou maat se batterye te herlaai, deur soms die deur agter jou toe te trek en die kinders te vra om buite te speel. Of jy kan slegs elke tweede sosiale uitnodiging aanvaar omdat jy weet dit verg inspanning van hom/haar om gereeld by vriende te kuier.

Don meen: “Temperament-analise is ‘n handige instrument om die God-gegewe verskille wat ons weet in ons bestaan as gevolg van unieke samestelling, te kwantifiseer. Dit is nie ‘n verskoning vir slegte gedrag nie, maar bied eerder handige insig tot ons uniekheid, wat voordelig kan wees in elke aspek van ons lewens – insluitende familie, werk, kerk en vriendskap.”

ONTHOU:

Sodra ons verhoudings stagnant raak en ophou groei, kom ons huwelike in gevaarDeur ag te slaan op die vyf redes waarom jy ‘n temperament-toets moet neem, sal jy groei in jou huwelik bewerkstellig. Die akroniem van LOFS staan vir Lake,  Ocean,  Fountain en Snow. Die toets is uniek omdat dit ‘n temperament toets vir paartjies is waar elk hul hoof- en tweede temperament, asook hul unieke kominasie bv LakeOcean sal ontdek. LOFS word deur honderde paartjies gebruik om sin te maak van hul unieke verhouding.