Almal weet teen dié tyd van die vyf liefdestale wat deur Gary Chapman bekend gemaak is. As jy besef watter impak dit op jou huwelik kan hê, het jy teen dié tyd al vasgestel wat jou eie en jou maat se liefdestaal is. Maar weet jy hoe om sy taal in die slaapkamer te praat?
LIEFDESTAAL #1: WOORDE VAN BEMOEDIGING
Is dit sy taal? As woorde van bemoediging jou maat se liefdestaal is, beteken jou komplimente vir hom die wêreld.
Buite die slaapkamer: Wanneer jy met jou maat praat, onthou om hom aan te moedig deur iets te sê soos: “Ek wéét jy gaan hierdie race kafdraf. Jy het hard geoefen en jy het deursettingsvermoë.” Bevestig jou liefde vir hom deur gereeld op verskillende maniere vir hom te sê hoe lief jy hom het. Vertel hom ook hoe jy hom waardeer en toon empatie as hy deur ’n moeilike tyd gaan. Skryf vir hom liefdesbriewe. Lees vir hom voor uit mooi boeke of digbundels. Stuur deur die dag vir hom WhatsApps met ’n oulike boodskap. En wanneer hy verjaar, moenie die kaartjie vergeet nie – vir hom is dit belangriker as die geskenk self! As dit jou maat se liefdestaal is, gee hom een kompliment vir elke dag van die maand.
Binne–in die bed: Dirty talk is ’n vaardigheid wat jy kan aanleer en waaruit jou huwelik kan voordeel trek! Onthou, daar is grade van bedpraatjies. Jy hoef nie grafiese detail te gebruik nie – iets so eenvoudigs soos “Wow! Jy is goed met jou vingers” terwyl julle besig is met die daad, kan wondere verrig. Laat hom verstaan hoe begeerlik jy hom vind en dat jy waardeer wat ’n bedagsame lover hy is!
LIEFDESTAAL #2: FISIEKE AANRAKING
Is dit sy taal? As fisieke aanraking sy liefdestaal is, ervaar hy drukkies, ’n aanraking op die skouer, hande vashou en aanraking op sy gesig as maniere waarop jy wys jy is opgewonde, bekommerd, jy gee om en jy het hom lief.
Buite die slaapkamer: Behou altyd fisieke kontak met hom, selfs al is julle besig met ander dinge. Laat jou voet aan hom raak terwyl julle televisie kyk of slaap. Hou sy hand vas in die openbaar en maak seker jy deel genoeg soene uit. Jou fisieke teenwoordigheid is vir hom baie belangrik. Hy voel veilig in jou aanraking.
Binne-in die bed: As jy dink dat seks op sigself genoeg is vir iemand wie se liefdestaal fisieke aanraking is, maak jy ’n fout. Jou maat smag nie net na wham-bam-thank-you-ma’am seks nie en jy kan hom wys hoe lief jy hom het deur tyd aan voorspel te spandeer. Bou afwagting deur sexy teen hom te skuur deur die dag, maar raak ook liefdevol aan hom. Gryp speels sy agterstewe en wanneer die tyd vir seks aanbreek, begin die aand met ’n erotiese massering…
LIEFDESTAAL #3: GESKENKE
Is dit sy taal? As geskenke sy liefdestaal is, beteken dit nie dat hy materialisties is nie – die persoon wat van geskenke hou, waardeer en floreer op die bedagsaamheid en moeite wat in die kies van die geskenk gegaan het.
Buite die slaapkamer: Klein gebare wat wys dat jy omgee en simbole wat jou liefde vir hom simboliseer, is dít waarin hy liefde lees. Onthou ook om baie dankbaar te wees vir elke geskenk wat jy ontvang. Gee vir hom klein geskenkies… in die vorm van ’n lipstiffie-soen op sy badkamerspieël, ’n blom saam met ontbyt, ’n sjokolade met ’n mooi boodskap in sy kosblik. Wanneer dit by verjaardae en Kersfees kom, dink aan geskenke wat iets beteken. Simboliese geskenke is altyd ’n wenner. Om mense met dié liefdestaal gelukkig te hou, moet jy nogal romanties dink!
Binne-in die bed: Bederf jou maat met sexy geskenke! Wat van nuwe smeermiddel, ’n stoute erotiese boek of selfs onderklere vir jouself? Draai jou geskenk toe in mooi papier en skryf ’n betekenisvolle nota daarby. Jy kan natuurlik ook jouself in ’n lint of in bubble wrap toedraai vir ’n báie bedagsame geskenk waarmee hy ure lank kan speel!
LIEFDESTAAL #4: GEHALTETYD
Is dit sy taal? Hy lees jou liefde in onverdeelde aandag en as gehaltetyd sy liefdestaal is, wil hy graag jou volle aandag hê.
Hoe om te kommunikeer: Gaan stap saam met jou maat, gaan eet uit en skakel jou selfoon af. Gehalte-gesprekke is hoog op sy prioriteitslys, so deel jou gevoelens en gedagtes. Vra jou maat om jou te help om date nights te beplan. Naweek-afsprake is ook baie belangrik (by ’n bestemming sonder ’n televisie). Gee ook jou onverdeelde aandag wanneer jy tyd saam met hom deurbring, deur oogkontak te behou, sy lyftaal te lees en hom nooit in die rede te val nie.
In die bed: Wys jou maat jy verstaan sy liefdestaal deur tyd te maak vir seks. ’n Quickie op sy tyd is welkom, maar maak seker hy voel nie asof seks altyd ’n afgerammelde scenario is nie. Sorg ook dat die televisie nie aangeskakel is nie, julle selfone af is en dat jy oogkontak maak. Stadige, smeulende, uitgerekte seks behoort iemand met dié liefdestaal te laat tick!
LIEFDESTAAL #5: DIENSBAARHEID
Is dit sy taal? Hy lees jou liefde in dít wat jy vir hom doen om die lewe makliker en draagliker te maak. Dít wat hy die graagste wil hoor, is: “Laat ek dit vir jou doen.”
Buite die slaapkamer: Jy wys vir hom jou liefde deur vir hom dade van diensbaarheid te doen. As jy hom help om die programmatuur op sy nuwe rekenaar te installeer, sy kar vat vir ’n diens en mooi tafel dek, kommunikeer jy sy liefdestaal. Neem sy hond vir ’n staptog buite, sorteer die rekeninge uit, help hom om die garage reg te pak! Bied aan om hom te help met waarmee hy ook al besig is. Om met iemand in sy liefdestaal van diensbaarheid te kommunikeer, verg aandag, beplanning en energie. As jy dit met ’n positiewe gesindheid doen, is dit inderdaad uitdrukkings van liefde. As jy dit egter uit skuldgevoel doen, word jy ’n deurmatjie.
In die bed: As jy jou maat se liefdestaal in die bed wil praat, wees onselfsugtig. Bederf hom van tyd tot tyd met orale seks sonder om iets terug te verwag. Wy ’n hele aand aand aan sý plesier. Of doen iets wat hom wys julle sekslewe is vir jou ’n prioriteit – soos om ’n baba-oppasser te huur!
WEET JY WAT JOU LIEFDESTALE IS?
As hierdie artikel vir jou geen sin maak nie omdat jy en jou maat nog nooit vasgestel het watter taal van die liefde julle praat nie, laai gerus LiefdestaleToets af om die Gary Chapman toets te doen. (Met dank aan huweliksberaders en sprekers Gustav en Elna Muller van https://www.healthyrelationships.co.za/)
Deur Annelize Steyn