Is jy nuuskierig oor hoe die bekendes hul huweliksvure aan die brand hou? Lees en leer…

Promosie

Jenni en Clive Bruce (Sanger)
Baie dinge hou ons bymekaar, veral die volgende elemente: Konsiderasie en ruimte vir mekaar, geduld, vertroue, omgee, ons verstaan mekaar en waak daarteen om lelike goed vir mekaar te sê. Ons liefde is die element wat ons bind. Ons hou hande vas in die openbaar en tuis. Dis die klein dingetjies, soos liefdevolle aanraking, wat soveel beteken.

Esmaré en Desmond Wells (Sanger)
Daar is vir ons ’n klomp elemente wat in plek moet wees vir ’n langdurige, gelukkige huwelik. Ons glo die sleutel tot die sukses van ons huwelik is beslis die liefde, geduld en respek wat ons vir mekaar het. ’n Gelukkige huwelik kan nie net van een kant af kom nie en is ’n 50/50 transaksie, bedoelende jy en jou vrou moet albei jul kant bring, veral as daar kinders is, soos in ons geval. Wanneer ons stry, sorteer ons dit dadelik uit in plaas van om dae lank kwaad vir mekaar rond te loop. Wat ook ’n groot rol speel, is die feit dat ons van dieselfde goed hou en dinge saamdoen as ’n gesin, hetsy dit Sondagoggende se kerkdiens is of om die kinders parkie en see toe vat, ons doen dit saam.

Tanya (kunstenaar) en Paddy O’Conner
Daar is geen resep nie, want die bestanddele verander saam met elke dag se uitdagings wat die lewe gee. Die bottom line is, behandel my soos jy behandel wil word. In hierdie eenvoudige riglyn is respek, vertroue en soveel wat belangrik is vir ’n huwelik om nie net te werk nie, maar om ’n plesier en vir beide die man en vrou verrykend te wees.

Promosie

Colleen en Johan Stemmet (TV-aanbieder)
Gee mekaar die ruimte om te groei en respekteer die ander persoon vir wat hy of sy is, asook die persoon waarin hy of sy oor die jare ontwikkel het, want niemand bly die persoon wat hy of sy was toe julle ontmoet het nie.

Anna Emm (skrywer) en Stefan van der Vyver
Ons het allermins ’n huwelik sonder haakplekke, maar ons goue reël is om vir mekaar die vryheid te gun om te wees wie jy is. ’n Mens verloor nie jou identiteit en drome omdat jy deel van ’n span word nie. Daar moet in die huwelik steeds vir elkeen ruimte wees om homself eerlik te kan uitleef.

Naomi (skrywer) en Jan-Hendrik Meyer
Ons is vanjaar 15 jaar getroud en een van die geheime van ons langtermynverbintenis aan mekaar is ’n sin vir humor, soms veral galgehumor. Ons gee mekaar ook spasie en reageer nie onmiddellik wanneer ons kwaad is nie. As albei partye ’n paar minute tyd gegun is om af te koel, besef ’n mens jy was eintlik onnodig só ontsteld. Spasie is ’n belangrike komponent in ons huwelik. Hy wil tyd hê vir visvang, ek wil tyd hê vir skryf. En daardie paar ure wat ons nie saam deurbring nie, beteken ook dat ons tyd saam nog meer waardeer. Ons gryp geleenthede saam aan en besoek die teater, gaan na ’n kunsuitstalling of kyk saam na ’n TV-reeks. En ons praat oor die kinders – tussendeur, nie altyd formeel en by kerslig nie. Ons soek mekaar op. Ons het nie geheime vir mekaar nie. Ons weet ons albei het foute, ons byt vas en weet in tye wanneer ons vassit, ons verstaan mekaar, verdien mekaar en wil mekaar hê.

Michelle Roux en Jak de Priester (Sanger)
Die geheim sal altyd ’n geheim bly, maar ’n mens moet darem rêrig hou van die persoon met wie jy trou. Jy moet van sy/haar gees en persoonlikheid hou, en dit moet vir jou ’n travel partner deur die lewe wees. Dan het jy hopelik ’n kans.

Rina Hugo (Sanger) en Johan van Rensburg
Rina Hugo en Johan van Rensburg ken mekaar al vir 50 jaar. Hulle het ontmoet toe Rina 18 en Johan 23 was. “Ons is nou 46 jaar lank getroud,” sê Rina. Hulle het saam musiek studeer aan die Potchefstroomse Universiteit (nou die Noordwes-Universiteit).

“My hart het gepraat en ek was verlief,” lag Rina. Gedeelde belange, vriendskap en ’n goeie sin vir humor hou hulle bymekaar. “Ons is goeie maats en vul mekaar goed aan,” sê sy. “Ons verstaan mekaar se beroepe baie goed, krop nie gevoelens op nie en gun mekaar ruimte.”

Johan se rustige geaardheid is een van die redes hoekom hulle verhouding werk. “Johan kan baie rustig oor dinge dink en neem gewoonlik die regte besluite. Hy kan ook met enigiemand ’n gesprek voer en laat ander mense altyd belangrik voel. Hy is baie goed vir sy kinders en het ’n uitstekende sin vir humor.” As sy nou móét bieg, is daar dalk twee dinge van Johan wat haar nie werklik aanstaan nie: Hy kan net een ding op ’n slag doen en hy sê sy mag nie in die kar sing nie!