Hoewel ek deesdae veel eerder kyk hoe amateur-kokke kulinêre uitdagings oorleef om die titel van meesterlike koskunstenaar te verwerf, was die realiteitsreeks Survivor in ’n stadium my “skuldige plesiertjie”. Dit is immers heerlik om aan springmielies te kou terwyl die arme goed op die eiland smul aan goggas wat aan húlle probeer smul.
Op ’n sagte bank, onder ’n duvet, is dit heerlik om effens jaloers te wees op die blou water en die palmbome . . . totdat die skuiling deur ’n donderstorm uitmekaar geruk word en die bedremmelde deelnemers weer deurweek moet wag vir sonsopkoms.
Daardie dae is verby, maar so nou en dan loer ek skuins wanneer my man Extreme Survival kyk. Nou kyk, Bear Grylls sal MacGyver, James Bond én Chuck Norris laat les opsê. Ek sal redelik vas kan slaap met ene Bear as ’n permanente inwoner onder my dak (wat nie sal lek nie – hy sal dit regmaak).
Dié ou word immers beskou as die ultimate survivor. Ja, ek hoor jou. Hy sal natuurlik handiger te pas kom die dag wanneer ek ’n staptog deur die Amasone moet aandurf, maar vir eers glo ek hy is nie te versmaai in ’n land waar ons moet koes vir misdaad nie.
Tussen die uilgeluide en die jakkalse se getjank behoort hy te kan aflei wanneer daar onwelkome beweging in ons tuin is. En dan, danksy sy opleiding in gevegskuns en drie jaar se ervaring as ’n soldaat in die Britse Spesiale Mag, sal hy presies weet wat om aan die saak te doen!
Ja-nee, Bear Grylls, kom kuier by my en die naaste wat jy aan rou vleis sal hoef te kom, is biltong.
Maar afgesien van sy bodyguard-pligte (en ja, dis hier waar hy die fynskrif sal moet lees), sal hy natuurlik ook ’n oog oor ons huwelik moet hou. Oorlewingsvaardighede soos syne is handig in enige tipe huwelik/wildernis (dis een en dieselfde ding).
Want ’n huwelik is maar ’n subtropiese paradys met voëlgesang en eksotiese blomme op goeie dae. En op minder goeie dae ietwat nat, muwwerig en vol grillerige, gevaarlike goeters . . .
Natuurlik sal Bear sy biltong moet verdien deur in te tree as dit kom by my en manlief se konflikhantering. Soos olifantmis op ’n afstand, sal hy kan ruik wanneer die drama broei in die Steyn-huis en uit ’n oorlewingsperspektief die situasie kan beredder.
In ’n huwelik hoor ’n mens mos die takke kraak – al die tekens is daar – maar omdat ons ’n bietjie Bear Gryll-ness kortkom, stoom ons voort terwyl hý weet wanneer om stil te staan (en die skoonheid te waardeer), stil te bly (báie belangrik in die huwelik) en stil te sit vir asemskep.
O ja, ek het vergeet: Bear is ook ’n groot fiksheidsfanatikus. Jy kan immers nie iewers in Afrika afgelaai word met net die klere aan jou lyf en dan, by die tweede kremetartboom, al hyg na jou asem nie. Jy moet vir ’n seekoei kan weghol en soos Tarzan aan takke kan swaai.
Jy moet fiks wees – en voorbereid, met ’n paar riglyne en planne in plek. ’n Kaart is handig, maar jy moet . . . eh . . . ook natuurlik weet watter kant is bo. Ek sal hom dus ’n bietjie “leen” vir die pasgetroudes in ons familie – wanneer ons klaar is met hom.
Só lees ek vandeesmaand, net voor die boek drukkers toe gaan, weer deur ons redaksielys. Die een na die ander artikel lees soos ’n item in ’n survival kit. Hoe om sy eks te oorleef, hoe om verveling te systap, hoe om ko-afhanklikheid te vermy, hoe om ’n U-draai te maak vóór daar ’n vurk in die pad kom, voorspeltegnieke, DIY-idees en natuurlik twee baie belangrike planne – hoe om julle roeping as paartjie te ontdek en ’n sakeplan vir jul huwelik te skep.
Mag jy ’n wonderlik herfs beleef sonder die woede wat jou slange wil laat vang, maar met ’n liefde wat jou goggas vir jou maat sal laat eet – as dit régtig moet.