‘Beproef alles en behou die goeie.’ Die meeste dinge het ’n ‘goeie’, maar daardie goeie is soms moeiliker om raak te sien as ander tye. Mense uit vorige dekades het, volgens vandag se standaarde vreemde idees oor seks gehad, maar soos met alle dinge, is daar ook ’n paar waarhede wat ons vandag kan toepas. En ’n paar wat jy definitief maan toe kan stuur. Kyk wat hierdie vyf dekades jou kan leer!

 Die 1940’s

In 1949 is 2 000 mense in ’n studie ondervra vir resultate wat in die koerant gepubliseer is. Die man op straat, en mense in professionele beroepe, is genader en dít wat uit die studie na vore gekom het, weerspreek die persepsie van daardie tyd as ’n ‘prim en proper’-samelewing. Hmm, ouma was toe nou nie so kuis as wat sy wou voorgee nie!

’n BBC-film is na aanleiding van die studie vervaardig en die vervaardiger en regisseur van Little Kinsey, Steve Humphries, sê hy was “baie verbaas oor die reguit antwoorde van getroude vroue, van wie baie niks van seks gehou het nie, of daardeur gewalg is.” Volgens Alfred C. Kindsley, het volwas­senes in die 1940’s wel orale seks gehad (hoewel nie almal nie). Orale seks is, en was, ook ’n vorm van voorbehoeding. ’n Ander studie het getoon dat meer as nege uit tien Amerikaners voorhuwelikse seks in die 1940’s gehad het.

Promosie

IN DIE SNIPPERMANDJIE: Al die losbandigheid! En natuurlik ook die vroue se houding oor seks . . . wie het hulle probeer flous? Of was die manne só swak in die slaap­kamer dat daar geen rede was om fees te vier nie?

IN DIE STOORKAMER: Sien, orale seks is toe nou nie so ’n ‘vloek van die moderne tyd’ nie, en jy kan maar voluit daarvoor gaan – en erken dat dit vir jou toonkrullekker is!

Die 1950’s

In die 1950’s is ’n huishoudkundehand­boek, The Good Wife’s Guide, gepubliseer waarin die seksuele gees van die tyd in die volgende raad saamgevat is: “Hoewel vroulike higiëne bitter belangrik is, wil jou moeë man nie vir die badkamer wag soos vir sy trein nie, maar onthou om op jou beste te lyk as jy bed toe gaan. Probeer ’n voorkoms skep wat verwelkomend is, sonder om voor-die-hand-liggend te wees. As jy gesigroom of haarrollers moet gebruik, wag tot hy slaap, aangesien dit laataand vir ’n man skokkend kan wees.

“Sover dit intieme kwessies aangaan, is dit belangrik om jou huweliksbeloftes te onthou en veral jou toewyding om hom te gehoorsaam. As hy voel dat hy nie onmiddellik wil slaap nie, dan is dit so. Sou jou man seks voorstel, aanvaar dit nederig, en hou in gedagte dat ’n man se bevrediging belangriker as ’n vrou s’n is. As hy sy oomblik van vervulling bereik, is ’n klein steungeluid van jou goeie aanmoediging vir hom, en voldoende om aan te dui dat jy genot gehad het.

Sou jou man enige van die meer ongewone praktyke voorstel, wees gehoorsaam, sonder om te kla, maar betoon jou gevoel deur stil te bly. Jou man sal dan waar­skynlik dadelik aan die slaap raak, so trek jou klere reg, verfris jouself en wend jou nagroom en haarprodukte aan. Jy kan dan die alarm stel om sy vroegoggendtee gereed te hê.” Regtig!

In die 1950’s het baie min vroue en selfs minder mans geweet wat ’n klitoris is, en die enigste mense wat van ’n penis gepraat het, was dokters. Om ’n orgasme te kry, was so ongehoord as om sonder ’n sakdoek in die hand te nies. Vroue het baie sosiale druk ervaar om ’n ring aan die vinger te kry. Om direk ná skool of universiteit te trou, was die norm. ’n Man was veel belangriker as ’n graad.

IN DIE SNIPPEMANDJIE: . . . ehh, die meeste! Al daardie lawwigheid oor onderdanigheid en gehoorsaamheid in die slaapkamer en ’n “klein steungeluidjie”! Natuurlik is die tee-scenario bloot lagwekkend!

IN DIE STOORKAMER: Daar lê egter waarde in die aanmoediging om op jou beste te lyk as jy bed toe gaan! En haarrollers en nagroom (vandag is dit eerder gesig­masker) ís werklik nou nie juis ’n turn-on vir Manlief nie. Maar dit weet jy hopelik! 

Die 1960’s

Die sestigerjare het oor die ontdekking van die waarheid, en die uitleef van daardie waarheid gegaan. Daar is na geluk gesoek in ’n poging om perfeksie en regverdigheid vir almal op die planeet te vind. Vir die eerste keer het ’n massakultuur homself as gekonnekteer met alle ander mense gesien, en die benadering was globaal, eerder as plaaslik.

Baie mense sê vandag dat die blommekinders net ’n rede gesoek het vir Peace, sista! En gedink het daar is nogal baie prettige maniere om daar uit te kom! Soos? Liefde, vryheid, spiritualiteit, musiek en aksie. “Ons het vryheid geëis wat lank taboe was – om seks te hê wanneer ons wil, om dwelms te gebruik, en ons het aktief probeer om die establishment deur regte, geїnspireerde aksie te verander,” sê die skrywer.

Die sestigs het mans se kreatiewe en feministiese sy ook omhels en vryheid het formaliteit vervang. So baie mense was naak dat mans ware vroue se liggame begin aanvaar het, in plaas daarvan om op Playboy-fantasieë te konsen­treer. “Mans en vroue het beter vriende geword. In plaas daarvan dat die mans saam gekuier het, vuil grappe gemaak het en vroue geteister het, het ’n nuwe situasie na vore getree: Mans en vroue het sáám gekuier, dagga gerook, seks gehad en na rock & roll geluister.

“’n Gemeenskaplike ervaring is gebore. Mans het begin kook en kinders versorg, terwyl vroue van rock & roll begin hou het.” Die seksuele rewolusie het hoofsaaklik in Amerika plaasgevind. Vroue het beheer oor hul seksualiteit geneem en het kort mini’s sonder sykouse begin dra. Meer uitdagende halslyne was aan die orde van die dag. Homoseksuele mense het uit die kas geklim, en losbandige seks het toegeneem. Dit was nie vreemd om twee mense in ’n openbare plek ‘uit te vang’ nie. En natuurlik is die eerste geboortebeperkingspil in die 60’s aan die publiek beskikbaar gestel.

IN DIE SNIPPERMANDJIE: Dié dekade se losbandigheid. Jy kan vir vrede veg, musiek luister en jou kreatiewe sy omhels, sonder om jouself beskikbaar te stel as ‘die vrou met die maklik verwyderbaarste broekie onder die son!’ En sonder om boom te rook!

IN DIE STOORKAMER: Hmm, ons hou daarvan dat vroue sexy begin aantrek het. En ’n “Ja!’’ vir die blommekinders se arbeid om die vrou se natuurlike lyf te laat triomfeer! 

Die 1970’s

Die televisie het ’n groot invloed op seksu­aliteit in die sewentigerjare gehad. Daar was antiverkragtingsbewegings, die popularisering van seksliteratuur en die aanneming van die geboortebeperkingspil, wat vroueseksualiteit ’n onderwerp van bespreking gemaak het. Die 1970’s was ’n era van ontdekking. Seks het prettiger as ooit tevore geword en feministe het vroue geleer hoe om orgasmes te kry en te masturbeer. Vroue het vryer gevoel om dit te doen. Mans en vroue het meer raad begin kry oor wat hulle seksueel reg en verkeerd doen.

Die seksuele rewolusie was anders vir mans as vir vroue en dit is asof die mans, vir elke tree wat die vroue gegee het, een tree terug beweeg het. Prominensie van Playboy-tydskrifte en die ‘playboy’-beeld het ’n fanta­siewêreld geskep, ’n moontlikheid om adolessente te wees wat vir maklike aksie soek.” Teen die einde van die 70’s was maagdelikheid nie meer ’n eerbare ding nie en vroue wou daarvan ontslae raak. Aborsie en die Pil was steeds warm onderwerpe van bespreking!

IN DIE SNIPPERMANDJIE: Al weer ’n “nee” vir die mans wat in fantasieë glo. Ons is al vier dekades vorentoe en daar is steeds mans wat nie kan onderskei tussen die ware Jakob en silikoon nie . . . en die bunnies het tot onlangs toe steeds saam met Hugh rondgehop!

IN DIE STOORKAMER: Die Pil het wondere vir vrou­like seksualiteit gedoen, so ook die feit dat daar openlik oor seksualiteit gepraat en gelees is. En die aanmoediging van vroue om hul seksualiteit te verken? Die feministe kry hier ’n high five van seksuoloë en van INTIEM! 

Die 1980’s

In die 1980’s het vigs na vore getree. Tot op die been herken die feministiese denkrigting seksualiteit as ’n bron van vroulike onder­drukking. Wat om daaromtrent te doen? Die tydperk vanaf 1980 tot 1990 word gekenmerk as ’n tyd van intense debattering en ’n oorlog tussen proseks-en antisekskragte, met argumente oor hoe om die kwessie van seksuele geweld en onderdrukking te beperk en terselfdertyd aandag aan vroulike seksuele genot en outonomiteit te gee.

Dit was ’n komplekse kwessie. Kommersiële seks en pornografie was simboliese teikens vir feministe en daar is met mening geprotesteer teen pornografie, prostitusie en sado-masochisme (S&M). Merendeels is feministe as an­ti-seks gedefinieer, maar dinge is nie so eenvoudig nie en kulturele feministe, soos Adrienne Rich, het geglo dat sy met haar outentieke, vroulike self kon herkonnekteer en intieme verhoudings, gebaseer op wedersydse gelykheid en toewyding, kon geniet.

IN DIE SNIPPERMANDJIE: Ai tog, dit voel vreemd dat die feministe toe weer moes veg teen vroulike onderdrukking. En dat kwessies soos seksuele geweld, pornografie, prostitusie en sado-masochisme so sterk na vore getree het.

IN DIE STOORKAMER: Hierdie debatte het waarskyn­lik daartoe bygedra dat baie vroue op daardie punt kon kom waar Adrienne Rich reeds was – dat ’n vrou wel sterk én seksueel bevry kon wees.

Natuurlik is die bogenoemde net deur ’n klein loergaatjie beskou en is dit ’n klein gedeeltetjie van die oorkoepelende gees van elke era. Soos wat daar mense is wat steeds in die vyftigs vashaak, was daar tien teen een mense uit dié era wat toe al begin dink het soos ons vandag oor seks dink.

Was dit slegter daardie jare? Ons het beslis op seksuele gebied vordering gemaak, maar sou dit nie wonderlik gewees het as ’n mens vandag se kennis en toentertyd se moraliteit kon versoen nie . . .?

Deur – Annelize Steyn

 Addidionele Bronne: Sussex.ac.uk; Goaskalice.columbia.edu; Hereticl.com; Frostcloud.com; Loti.com; Glbtq.com