Die kinders van vandag is definitief nie meer die kinders van toeka nie. Waar jóú ma haar oor jou pampoentjies en ’n nerfaf knie gekwel het, flikker die kwellinge van vandag se ouers daagliks in die meeste huisgesinne se woonkamers.

Vriende van julle kuier vir die naweek en almal sit voor die televisie na The Voice en kyk. Gesinsvermaak. Tot klein Sarah onskuldig oor die leather clad jongeling opmerk: “Mamma, hoekom is daar so ’n knop in daardie ene se broek?” en die seuntjies uitbars van die lag. Jy voel hoe die blos oor jou gesig kom skuif, terwyl sy op jou antwoord wag, maar woorde ontglip jou. “Want hy is ’n seuntjie,” verduidelik jy lomp. Waarna sy vra: “Maar Janko s’n lyk nie so nie. En hoekom het hy dan swart cutex en ooggoeters aan?”

Om ’n kind groot te maak, is vervullend. En taai. Dit was nooit maklik nie, maar vandat tegnologie soos die televisie, internet en selfone hul verskyning gemaak het, bied dit net soveel meer uitdagings. Waar is die dae van The Cosby Show en Who’s the Boss? Deesdae raak die rokkies op die kassie al hoe korter, die tatoeëermerke al hoe meer en die soene al hoe warmer.

Hier is ’n paar dinge om oor na te dink: Amerikaanse kinders bestee meer as 38 ure per week aan die gebruik van media (dit sluit televisie, video’s, musiek, rekenaars en videospeletjies in). Een studie toon dat altesaam 75% van alle musiekvideo’s seksuele beelde insluit (meer as die helfte toon geweld teenoor vroue) en die gemiddelde tiener sal bykans 14 000 seksuele verwysings per jaar in die media aanskou. Hmm, wie deins nou terug?

Brandstapel toe met die televisie?

Miskien het jou dominee destyds ook aan jou ma gesê dat die televisie ’n euwel is, reguit uit die hel en dat hulle generasie hul televisiestelle, in plaas van bra’s, moes verbrand. Wel, ons het darem nou al intussen geleer dat die televisie ook oulike, funksionele en opvoedkundige kykstof kan bied. En al weet ons jy mag nou nie die kassie soos ou Jak se groen mamba inspan om die kleingoed tot ruste te bring nie, kan Barney of Paw Patrol soms ’n paar minute lafenis vir ’n ma se moeë voete bied!

Ongelukkig kan die televisie kinders ook leer wat ouers nie wil hê hulle geleer moet word nie, soos dat daar kindertjies in die wêreld is wat op hul ouers skreeu en daarmee wegkom! En dat Amerikaanse 13-jariges grimering dra en weet hoe om te flirt. Televisie kan die gesondheid, gedrag en gesinslewe van ’n kind in ’n groot mate negatief beïnvloed. Sommige peuters word voor die ouderdom van twee reeds aan televisie blootgestel, en daar is selfs nou televisieprogramme vir babas! Hoewel daar nog nie navorsing gedoen is om die effek op sulke jong kinders vas te stel nie, weet kenners dat televisie interaksie met versorgers en ander kinders vervang. Jy doen dus jou jong kind ’n onreg aan om hom voor die kassie neer te plak, omdat jy nie bereid is om hom nou een-tot-een aandag te gee nie.

Ongelukkig speel televisie ’n te groot rol in vandag se kinders se lewens. In 63% van huishoudings is die televisie gewoonlik gedurende etenstyd aangeskakel. In 51% van huishoudings is die televisie die meeste van die tyd aangeskakel. Kinders met ’n televisie in die slaapkamer bestee gemiddeld een en ’n half uur per dag meer tyd voor die televisie as kinders daarsonder. En glo dit of nie, daar is ouers wat hul kleuters aanspoor om televisie te kyk! As ’n mens kyk hoe ’n groot bemarkings-instrument seks deesdae in die media is, is die statistiek kommerwekkend. So ook die feit dat baie ouers hul taak as seksualiteit-opvoeders aan die televisie oorlaat …

Is die kassie jou seks-opvoeder?

Aangesien soveel ouers steeds van die tema wegskram en die meeste skole nie volledige seksopvoedingsprogramme aanbied nie, kry kinders hul inligting oor seks van die televisie af. Dit is natuurlik nie altyd goeie inligting met ’n positiewe, morele boodskap nie. Moet ook nie jouself flous deur te dink dat seksuele inhoud slegs vir laataand-programme gereserveer word nie. Sepies, musiekvideo’s en advertensies bevat seksuele inhoud, en die hoeveelheid sekstonele op televisie het amper verdubbel sedert 1998.

Altesaam 70% van die top 20 gewildste tienerprogramme bevat sekstonele. Die programme wat wel seksuele inhoud bevat, toon ’n gemiddeld van vyf sekstonele per uur!

In twee 2004-studies wat deur RAND Health- gedragswetenskaplike, Rebecca Collins, gelei is en waarin die impak van televisisieseks op tieners se seksuele oortuigings en aktiwiteite nagevors is, is die volgende bevind: Tieners wat aan baie seks op televisie blootgestel word, is meer geneig om seks in die daaropvolgende jaar te inisieer. Televisiebeeldmateriaal waarin openlik oor seks gepraat word, beïnvloed tieners net soveel as tonele met seksuele aktiwiteite. En ’n brokkie goeie nuus: Programme wat die risiko’s van seks uitbeeld, kan positief tot tieners se seksualiteits-opvoeding bydra.

So, hoe pak jy dié bul by die horings?

Studies toon dat kinders wat voel hulle kan met hul ouers oor seks praat, omdat dié openlik daaroor is en met aandag na hulle luister, minder geneig is tot hoë risiko gedrag as tieners wat voel hulle ouers is nie toeganklik nie. As jou kinders dus iets op die televisie raaksien en jy ongemaklik voel om oor die onderwerp te praat, lees boeke en bespreek jou gevoelens met ’n vriendin, familielid of seksuoloog. Hoe meer jy oor die onderwerp nalees, hoe gemakliker gaan jy daarmee raak. En as jy ongemaklik voel, erken aan jou kinders: “Dit is vir my moeilik om hieroor te praat, omdat my eie ouers nie eintlik met my oor seks gesels het nie, maar kom asseblief na my toe as jy enige vrae het. As ek nie weet nie, sal ek vir jou uitvind”.

1. Begin vroeg reeds met seksualiteitsopvoeding. Dit beteken nie ’n “pienk boekie” op haar sestiende verjaardag nie, maar ’n konstante leer-stroom van vroeg af. Leer jou kleuter oor sy lyfie en sê: “Dit is jou penis” wanneer hy daaraan raak. Soos wat jou kleintjie ouer word, kan jy met die opvoeding voortgaan en meer materiaal byvoeg, totdat hy die onderwerp goed verstaan.

2. Gebruik geleenthede op televisie. As jou kind nie vrae vra nie, soek na ’n gulde geleentheid om die onderwerp aan te raak. As daar ’n swanger vrou op televisie verskyn, vertel: “Kyk hoe groot is daardie tannie se maag. Sy dra ’n baba daar binne rond. Weet jy hoe die baba daar beland het?” Dit is ook goed en wel om die biologiese feite met jou kind te deel, maar ewe belangrik is ’n begrip van die emosionele sy daarvan, en die wete dat seksuele verhoudings omgee, sorg, verantwoordelikheid en liefde behels. Deur van vroeg af die emosionele sy van seks met jou kind te bespreek, sal hy of sy later ingeligte keuses kan maak om groepsdruk te weerstaan.

3. Kyk ’n bietjie na die boodskappe wat flieks oordra. ’n (Bogemiddelde mooi) man en (bogemiddelde mooi) vrou ontmoet mekaar, raak verlief op mekaar, gaan op een of twee afsprake, soen, en gevolglik loop die soen op seks uit. Dit is hoe dit in Hollywood werk, maar beslis nie hoe dit in die werklikheid behoort te werk nie. Leer jou kind dat dit nie die realiteit is nie en dat die televisie dinge soms om ’n sekere rede so uitbeeld. Vertel hom/haar ook hoekom dit nie reg is nie en dat die ideaal is om iemand eers goed te leer ken, voordat jy hulle in jou lewe toelaat, en beslis voor jy seks toelaat! Ook dat daar baie fases van romantiese ontwikkeling tussen vriendskap en seks is, en dat dit in God se wil vir ’n paartjie is om eers saam te slaap as hulle verseker van mekaar se ewige liefde is. Let egter goed op na die terme wat jy gebruik. Wanneer jy byvoorbeeld van ‘saam slaap’ praat, kan ’n jong kind aanneem dat dit letterlik beteken dat om saam met iemand te slaap, ’n swangerskap tot gevolg kan hê.

4. Gee aan jou kinders akkurate inligting, gepas vir hul ouderdom. Natuurlik is die belangrikheid van verantwoordelike en veilige seks (verkieslik in die huwelik), ’n gegewe. Kenners beveel ook aan dat jy nie net met jou kind oor die fase moet praat waarin sy haar nou bevind nie, maar dat jy die volgende fase en sy eise moet antisipeer. ’n Agtjarige meisie is byvoorbeeld oud genoeg om van menstruasie te leer. Vertel haar wat ’n sanitêre doekie is as jy byvoorbeeld ’n advertensie daarvan op televisie sien.

5. Sorg dat jou kinders jou waardes oor seks begryp. Hoewel jy nie jou eie waardes op jou kinders kan afdwing nie, is dit belangrik dat hulle besef wat jou waardes daaromtrent is, en hoekom jy daardie waardes het. Dit sal jou seun help om sy eie identiteit te ontwikkel as hy ’n raamwerk het waarbinne hy sy eie grense kan vasstel. Dit is dalk vir jou ongemaklik om met jou seuns oor seks te praat, en jou man vind dit dalk ewe uitdagend om hieroor met jul meisiekind te gesels. Moet egter nie dat dit ’n oop kommunikasiekanaal tussen julle belemmer nie. Daar is nie ’n reël wat se dat jy slegs seks-opvoeding met ’n kind van jou geslag hoef te doen nie.

Hier is ’n paar wenke ten opsigte van televisie en seks
Weet wat jou kinders kyk. Besluit watter programme vir hul ouderdomme en persoonlikhede geskik is en bly by jou reëls.
• Vertel jou kind van jou en jou man se waardes betreffende seks wanneer julle ’n sekstoneel of -beeld op televisie sien. Help jou kind om onvanpaste beelde te identifiseer.
• Luister na hoe hy of sy oor die beelde voel wat deur die media uitgedra word.
• Leer jou kind hoe om goeie programme te kies.
• Stel tydsbeperkinge vas en stel reëls daar oor programme en musiek.
• Vra jou pediater of seksuoloog vir raad hoe om oor seks met jou kind te praat.
• Laat jou kind verstaan dat hy/sy na jou toe kan kom vir inligting, en wees bereid om dit te herhaal tot jou kind dit verstaan. Wees bewus van wat hy/sy reeds weet en hou jou antwoorde eenvoudig sodat jou kind jou kan verstaan.
• Weet dat dit okay is om te sê: “Ek weet nie” en dan saam met jou kind na te lees.
• Ontspan. Jy wil hê jou kind moet begryp dat seksualiteit ’n waardevolle deel van menslike ontwikkeling en ervaring is.
• Onthou dat baie klein kindertjies meer absorbeer as wat jy dink. Kleuters lyk dalk asof hulle nie aandag gee aan wat op televisie aangaan nie, maar hulle merk dinge op, selfs al speel hulle net daar naby.
• Moenie jou sin vir humor vergeet nie – dit kan ’n prettige leerervaring vir jou en jou kind wees!
• Kies animasie-programme versigtig. Die feit dat ’n program strokies-karakters bevat, beteken definitief nie noodwendig dat dit vir kinders se oë bedoel is nie.
• Kyk saam met jou kind en moet hom/haar nie sonder toesig laat televisie kyk nie. Op hierdie manier kan jy onvanpaste beeldmateriaal dadelik hanteer as dit verskyn.
• Maak seker dat daar goeie toesig oor jou kinders is wanneer hulle by maatjies kuier. Jy kan nie beheer wat jou kind buite die huis doen nie, maar jy kan ander ouers laat verstaan wat julle huis se televisie-reëls is en hulle vra om dit te respekteer.
• Hou die televisie uit jou kind se slaapkamer. Dit is dan baie makliker om dit waarna hy kyk, te monitor.
• Praat oor seks en herhaal wat jy sê. Weer en weer en weer …

Bronne: www.childrennow.org; www.med.umich.edu; www.pediatrics.aapublicstions.org; www.extension.missouri.edu; www.ehow.com/how

***

Wil jy seker maak dat jou huwelik hou? Wil jy vir jou kinders ‘n goeie voorbeeld wees van ‘n gelukkige en gesonde huwelik?

Is jy gereed om in jou huwelik te belê?

Is jou moeg vir ‘n lou-warm huwelik?

Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

Maak 2019 JOU jaar! ‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!