INTIEM tydskrif het vir die heel eerste keer in Desember 2006 as ‘n kwartaallikse uitgawe verskyn. Die idee het ontstaan ná Liezel van der Merwe ‘n behoefte raakgesien het onder getroude pare in Suid-Afrika. Dertien jaar gelede was mense skugter om oor seks te praat en met INTIEM wou sy getroude paartjies bemagtig deur ‘n betroubare bron oor huwelike (en intimiteit) vanuit ‘n Christelike perspektief aan te bied.

Kort-voor-lank het INTIEM twee-maandeliks begin verskyn en INTIEM se sosiale media, webtuiste, funksies en organisering van SA Marriage Week/SA Huweliksweek het landswyd groot impak gemaak. Die behoefte aan inligting was groot en mettertyd het mense begin besef dit is okay om oor seks te gesels en absoluut noodsaaklik! INTIEM het egter nie nét gesels oor wat tussen die lakens gebeur nie, maar ook al die taai onderwerpe wat huwelike laat sneuwel, prontuit gekonfronteer.

In 2017 is die besluit geneem om die tydskrif, in lyn met die tydsgees, ‘n digitale publikasie te maak. Vandag is INTIEM groter as ooit en steeds jou betroubare bron waar jy nuttige en noodsaaklike inligting met die kliek van ‘n knoppie kan bekom.

Ons glo in die huwelik as ‘n heilige instelling. Ons glo soveel egskeidings kan voorkom word mits paartjies bemagtig word met die regte inligting en raad. En ons glo dat elke huwelik kan baat vind by INTIEM. Of jy tien minute getroud is, of vyftig jaar, niemand weet álles van getroud-wees af nie.

Lees dus INTIEM om jou huwelik te versterk, te verbeter en om jouself te verlustig aan die vrugte wat jy en jou maat sal pluk. ‘n Gesonde huwelik is só die moeite werd!