Ek was verloof vir ’n jaar en al in die vaste verhouding vir twee-en-’n-half jaar. Twee maande gelede het my verloofde en beste vriendin voor my gesit en gesê dat hulle al vir die afgelope ses maande ’n verhouding het en dat hulle lief is vir mekaar, en by mekaar wil wees. Hul verhouding het nie eers ’n week gehou nie – en toe is sy terug na haar man en kind toe.

Ek en my maat was so goed soos getroud. Ons het al saam in ’n huis gebly vir meer as ’n jaar en ek het alles gelos en agter hom aan getrek. Ek het vir hom my alles gegee en gedoen. Ná hulle uitmekaar is, het hy weer met my gepraat en gesê dat hy steeds lief is vir my. Ek was selfs bereid om hom te vergewe en terug te vat, maar nou lyk dit tog of die ander vrou nog deel is van sy prentjie. En ek was bereid om wéér my alles te gee . . .

Hy was my droomman, die liefde van my lewe. Ek het nooit geweet dat ek iemand só lief kan hê soos vir hom nie, en nou die ontnugtering en die seer. Die pyn is regtig só erg dat dit voel of jou hart uit jou bors wil klim. Ek wil dankie sê vir die artikel. Ek moet nou die keuse maak en op my herstelpad kom. Ek kon al berading doen, maar ek moet myself en hom en haar vryspreek.

Ek het darem ’n antwoord om mee te werk, wat sy nie gehad het nie, maar dit maak nie minder seer nie. Ek het al lus gevoel om tou op te gooi, maar ek weet dat dit nie is wat God vir my bestem het nie. Ek kan opstaan en heel word. En ek glo dit sal met tyd gebeur. So baie dankie dat ek weet ek is nie alleen nie. En dat ’n mens werklik kan gesond word.

Kobus en Linda Pauw antwoord:

Dit is ’n baie seer en slegte proses waardeur jy gegaan het en nog steeds besig is om deur te beweeg, maar soos jy aangedui het, lê die eerste stap in vergifnis. Moenie toelaat dat die verlede of die persone wat jou in die verlede seergemaak het, jou vashou en al jou vreugde steel en ook jou toekomstige geluk daarmee saam nie. Indien jy dit sou toelaat, sal jy gou begin agterkom dat bitterheid in jou lewe wortel geskiet het. Roei dit sommer met wortel en tak uit. Bitterheid is daar om jou lewensvreugde en identiteit te vat. Identifiseer dit, bely dit, vergewe en stap aan.

Ons is van mening dat jy jouself heeltemal moet losmaak van hierdie verhouding en daarmee saam ook jou drome en gedagtes wat jy rondom hierdie persoon gebou het. Die ware kleure van die persoon is alreeds gewys en die kans dat hy jou later weer sal seermaak, is redelik groot. Stap weg van alles af, vergewe en laat die Here toe om jou fokus te rig op die horison en die nuwe geleenthede wat die lewe oor jou pad gaan bring.