Jou huwelik is ‘n kosbare kleinood. Dink daaraan as ‘n bate wat jy te alle koste moet probeer beskerm en tree vanjaar pro-aktief op deur ‘n muur om jou huwelik te bou waardeur geen vyand kan dring nie.

Besoek jy ouwêreldse Europese stede, kan ‘n mens vandag nog ruïnes van ou stadsmure sien. Baie van die stede se eeue-oue mure bestaan nog! In antieke tye is mure rondom gemeenskappe gebou om die inwoners teen oorlog en indringing te beskerm. Dit het gedien as ‘n voorsorgmaatreël teen potensiële oorname. En sóú die moeilikheid kom, was hierdie dorpe voorbereid.

Dink nou aan jou huwelik. Dit gebeur dikwels dat paartjies net oorleef, in plaas van leef. Dit is ‘n dag-tot-dag stryd om aan die gang te bly, kinders gesond en by die skool te kry, ‘n voldagwerk te behou en tussendeur ook by almal en alles uit te kom soos dit van jou verwag word. Ons is so besig met krisis-bestuur, dat ons nie tyd neem om onsself te pantser teen ‘n moontlike ramp nie.

Daarom dat INTIEM besluit het om vanjaar se tema te maak: ‘Bou ‘n muur om jou huwelik’. Ons wil paartjies toerus met die nodige kennis om voorsorg te tref. Om hul huwelike met ‘n beskermende muur te omring sodat geen vyand dié kosbare eenheid kan verwoes nie.
Onderneem dus vandeesmaand, met ons ‘Pro-aktief’ tema om 2019 jul jaar van beskerming te maak. Om ‘n sterk muur rondom jul huwelike te bou! Dit is in elke paartjie se vermoë om emosionele, fisieke, finansiële en geestelike voorsorg te tref. Ons gaan julle maand tot maand help om dit te doen deur aksies! Wees elke maand só ingestel en jul huwelik sal van krag tot krag gaan.

Januarie: Wees pro-aktief. Maak jul goeie oeste bymekaar vir die maer jare, ook in jul huwelik. Pro-aktiwiteit is ‘n bewustelike aksie. Deur pro-aktief op te tree, tref jy voorsorg om jou huwelik gesond te hou. Dit is soos ‘n inenting, en ja, soms is die voorsorg nie so lekker nie en verg dit harde werk, maar kom die moeilike tye sal julle dankbaar wees vir die planne wat julle vooraf beraam het. Pro-aktiwiteit dui ook ‘n futuristiese ingesteldheid aan. Jy beplan vir jou huwelik se toekoms.

Februarie: Wees kreatief. Oe, dit is lekker om kreatief te wees! Dink aan buite-die-boks planne, idees en allerlei lekker pret-dinge om jou huwelik lekker te hou. Kreatiwiteit gaan dikwels gepaard met aangename verrassings en ‘n magical uitkoms! Roetine kan maklik vervelig raak en kreatiwiteit is die teenvoeter hiervoor. Dink op jul voete dié maand en beraam allerlei planne om jul huwelik verhouding oorspronklik en epies te maak en te hou!

Maart: Wees God-gesentreerd. In Maart-maand, net voor Paastyd, wil ons julle herinner aan dít wat die belangrikste fokuspunt van jul huwelik behoort te wees. Die enigste derde party wat ooit deel van jul huwelik mag (en móét) wees. Gedurende dié maand wil ons julle help om jul huwelik God-gesentreerd en koersvas te hou. Dis ‘n tyd waarin julle moet werk daaraan om die vrugte van die gees deel van jul huwelik te maak. Behou begrip vir mekaar, vergewe mekaar en onthou bo alles hoe geseënd julle is om mekaar te hê.

April: Wees kommunikasie-konings. Die maand wil ons julle aanmoedig om kommunikasie-konings te word. Met doeltreffende kommunikasie kan ‘n huwelik net vooruit gaan. Is daar egter ‘n tekort aan kommunikasie, bring dit allerlei probleme te weeg. Bly nuuskierig oor mekaar en sorg dat daaglikse gesprekke (oor interessante onderwerpe) deel is van jul huwelik. Bly nuuskierig oor mekaar en luister met aandag na alles wat jou maat sê. Deur helder en deursigtig te wees met jul boodskappe aan mekaar (verbaal en nie-verbaal) kan julle mekaar beter leer ken en verstaan en kan julle kommunikasie-konings word wat nie skroom om enige konfliksituasie soos meesters deur te werk nie!

Mei: Wees vreugdevol. Die lewe is lekker en die liefde is ‘n fees. Ons vergeet dit soms wanneer ons stoei om kop bo water te hou, maar vóél die maand die lekkerte van jou maat se lyf langs jou in die bed, die warmte van sy asem in jou nek, die sekuriteit wat sy hande om joune vir jou bied en die wete dat julle sáám alles kan trotseer. Ons is maklik ontevrede met wat ons het, want die mens is ‘n gulsige wese wat altyd smag na beter en na meer… Ja, strewe daarna om jou huwelik sterker en lekkerder te maak, maar wees ook content met wat jy op hierdie oomblik het. Wys jou maat dié maand dat jy bly is om getroud te wees.

Junie: Wees slaggereed. Om slaggereed te wees, beteken dat jy en jou maat reg is vir enigiets wat die lewe na julle kant toe mag gooi. Julle is ingelig en bewus van die gevare daar buite (soos verveling, emosionele diskonneksie, slaapkamerprobleme, verleiding en swak konflikhantering) en sou so iets oor jul pad kom, sal julle dit kan hanteer. Dié maand wil ons julle help om slaggereed te wees en ‘n verhouding van vertroue en konsekwentheid te kweek sodat niks jul kan onderkry nie.

Julie: Wees merkwaardig. Elkeen wil merkwaardig wees. Elkeen wil onthou word. Maak van jul huwelik ‘n voorbeeld-huwelik, een wat uitstaan en as ‘n voorbeeld dien vir die paartjies wat julle ken. ‘n Merkwaardige huwelik is uitsonderlik, buitengewoon, beeldskoon… Ja, geen huwelik is perfek en foutloos nie, maar as jy en jou maat doelbewus werk aan die gesondheid van julle s’n, sál julle ‘n beeld na buite uitstraal wat ander paartjies inspireer om dieselfde te doen.

Augustus: Wees vol omgee vir mekaar. In Engels is daar ‘n uitdrukking wat sê: “Be kind”. In Afrikaans wil ons aan daardie ‘kind’ woord dink as ‘n omgee, diep uit jou hart. Om onselfsugtig lief te hê, met jou maat simpatie en empatie te hê, om vriendelike en sag teenoor jou maat op te tree, mooi met jou maat te werk en om jou maat altyd die voordeel van die twyfel te gee. Dit sluit ook begrippe soos lojaliteit en warmte in. Sorg emosioneel vir jou maat sodat hy/sy die vryheid het om die beste weergawe moontlik van hulself te wees.

September: Wees opwindend. Hou jou huwelik vol avontuur, awemrowend en lewendig! Dit beteken om soms dinge te doen wat buite jul gemaksone val, in die naam van opwinding! Slaan jou maat se asem weg, en verras jou maat soms in die slaapkamer. Opwinding is nie beperk tot die slaapkamer nie, maar kom dit by opwinding in die kooi, kan jy ver kom! Doen lekker dinge, waag kanse en laat jou maat se hart dié maand ‘n bietjie vinniger klop as normaalweg!

Oktober: Wees vol bewondering. Elkeen wil bewonder word en begeerlik voel. Wanneer die passie taan, flikker die rooi lig vir ‘n verhouding. Bewonder jou maat vir wie hy/sy is, vir wat hulle doen en vir die wonderbaarlike manier waarop hulle geskape is. En moenie jou bewondering vir jouself hou nie. Wees jou maat se grootste bewonderaar en wys hom/haar dat, hoewel julle liefde dieper gegroei het en jy hom/haar in geheel innig lief het, dat julle steeds dolverlief op mekaar is en dat hy/sy steeds jou nommer een is. Die woord bewondering gaan gepaard met waardering. Wys dit dié maand.

November: Wees dapper. Wat ‘n wonderlike mikpunt vir jou huwelik: Om dapper te wees! ‘n Dapper of brawe huwelik neem nie die maklike uitweg nie, maar neem die pad wat soms vol duwwels gesaai is omdat die bestemming eindelik die moeite werd sal wees. Soms is dit die (uitmergelende) lang pad en nie die kort wandeling nie. Soms is dit die moeiliker besluit wat geneem moet word ter wille van ‘n positiewe uitkoms. Die geluk is dat julle ‘n eenheid is en sáám deur die soms verswelgende skrikwekkendhede moet gaan. Saam is julle sterker, so wees saam dapper en pluk die vrugte van ‘n gesonde, langdurige huwelik.

Desember: Wees speels. Somer, son, seks en skinny dip! Watter maand is lekkerder as Desembermaand? Trek voordeel uit die vakansie-atmosfeer, feestyd en lekker weer en pomp jou huwelik vol pret! Wees speels saam met jou maat. Gaan spartel saam in die branders, lag rondom ‘n bordspeletjie, daag mekaar uit om iets lafs te doen… Desember is die perfekte maand om die erns van die jaar agter julle te los en te baai in die lekkertes wat jou huwelik bied. Vier die lewe!

Ons hoop julle sien saam met ons uit na 2019 se bou-werk. Mag julle teen die einde van die jaar terugkyk en weet die muur om jul huwelik is sterker as enigiets van buite, want julle staan saam, langs mekaar en met jul oë op God gevestig.