Wonder jy soms wat het jou besiel om te trou? Veral wanneer manlief stelling inneem agter jou seun se Playstation (vir die hele naweek). Of wanneer jy benoud luister hoe vroulief jul tienerdogter leer dat níks gehalte ewenaar wanneer dit kom by ware leer, diamante en internasionale ontwerpers nie …

As jy ’n Afrikaanssprekende Christenvrou is, is die kans byna seker dat jy vandag getroud is met die brombeer in jou sitkamer omdat jy wóú. Omdat jy hom liefgehad het en gekies het om jou lewe met hom te deel. En dankie tog – nie omdat jou pa jou verkoop het in ruil vir vrugbare grond langs die rivier en vyftig kamele nie!

Ná sowat tien jaar se rusies is dit maklik om te vra: “Hoekom nou weer?” Jy het dalk vergeet, maar ons kan jou baie gou herinner. Wanneer ’n mens ’n lys saamstel van goeie redes om getroud te wees, is dit soos ’n towenaar se hoed. Jy hou aan en aan met redes uitryg! En afgesien van hierdie 33 wat ons jou nou gee, is daar beslis nóg ’n hele paar.

Daarom nooi ons jou uit om jou eie redes by te voeg wanneer jy die artikel klaar gelees het, sodat jy 40 redes het om vir jou lewensmaat te wys. Dit is nie altemit nie: Lank lewe die huwelik!

1. Jy hoef nie meer te wonder nie! Verby is die dae toe onsekerheid jou bestaan oorheers het. Daardie dae toe jy gewonder het of jou rokkie té uitlokkend, té preuts, té swart of té ywerig lyk. Toe jy gewonder het wat sy “hmm” beteken en of daardie diamantring ooit op die kaarte sou wees. Vandag is daardie diamantring aan jou vierde vinger en jy wéét: Hy is joune.

2. Jy is nie meer alleen nie. Ja, jy smag soms na 24 uur se stilte in jou huis. Maar as jy dit kry en daardie 24 uur is verstreke, is dit nie meer so lekker nie. Dit wás lekker om soms vir drie ure lank in die bad te lê met ’n glas wyn en ’n goeie boek. Maar moenie vergeet van daardie lang nagte wanneer jy verdrietig na Celine Dion se All by Myself geluister het nie …

3. Jou selfbeeld is gesond. Toe jou vyfde verhouding in drie jaar op die rotse geloop het, kon jy nie anders nie as om in die spieël te kyk nie. Is ek te baasspelerig, te vervelig, te vaal, te lelik … ? het jy gevra. Nou is daardie dae verby, want daar is een ou wat gedink het jy is die mooiste en briljantste wese wat bestaan – en jy slaap elke liewe aand langs hom!

4. Afsonderlike kamers is vergete. Die dae van wakker lê in jou kêrel se ma se huis onder die foto van sy agter-oumagrootjie wie se oë jy seker was jou gevolg het, is vergete. Deesdae slaap julle saam in sy ou slaapkamer en vang allerhande dinge onder sy ou duvet aan. En of jy nou jou Evasgewaad of jou flennie pajamas met jou dik wolsokkies aan het … wie sal weet?

5. Jy het iemand om mee te praat. “Ons almal het iemand in ons lewe nodig om voor liefde te gee en om van liefde te ontvang. Iemand om ons te bemoedig en iemand met wie ons kan kommunikeer – selfs al is dit net deur ’n woordelose teenwoordigheid,” skryf Floris Knouwds in sy boek “Liefde met Oorgawe”.

6. Jy het ’n lisensie! Jippie. Jy hoef nie meer die kat in die donker te knyp of te wéns jy kan die kat in die donker knyp nie. En as jy dit doen, hoef jy nie elke maand in vrees en bewing op jou maandstonde te wag nie. As daar twee blou strepies op ’n stokkie verskyn, is dit nie die einde van jou wêreld nie, maar die begin. Jou ma gaan nie ween terwyl jou pa jou met teleurgestelde oë aanstaar nie. Inteendeel.

7. Jy het foto’s van jouself in die merengue. En jy kon uiteindelik jou strooimeisie terugkry vir daardie tutu wat jy op háár troue moes dra. Jy kon vir ’n paar maande ’n wafferse Bridezilla wees en jou troudag was net so spesiaal soos jy nog altyd gedroom het dit sou wees.

8. Jy gaan (hopelik) nie op jou oudag eensaam wees nie. Ja, jou ongetroude vriendin is dalk nou die warmste ding sedert gesnyde brood en sy dartel soos ’n vlinder van blom tot blom, maar wat gaan gebeur wanneer sy op haar oudag saans haar tande moet uithaal en haar borste nie meer so ferm is soos nou nie? Die huwelik is ’n belegging in jou toekoms. ’n Belegging in een persoon vir ’n leeftyd.

9. Jy is onweerstaanbaar. Al ooit gewonder waarom die aantreklike ou van die vierde vloer skielik ná jou troue met jou flankeer terwyl hy jou nooit voorheen raakgesien het nie? Wel, die getroude lewe maak jou aantrekliker, meen kenners. Geniet die aandag (en niks meer nie!).

10. Jy hou hom op hok! Die huwelik verhoog seksuele getrouheid. Verrassing? Ja, werklik! ’n Man wat met ’n vrou saambly (ongetroud), is vier keer so geneig om sy maat te verkul as getroude mans. En vroue wat saambly, is agt keer so geneig om hul lewensmaats te verkul as getroude vroue. Net een uit tien paartjies wat saambly, is ná vyf jaar nog saam. Hoewel die egskeidingsyfer skokkend is, is dit darem beter as dít.

11. Jy kan maar foute maak. Manlief was tot laat uit en het kaalbas in die straat af gehol. Jy het toe sy kar met jou sleutel gekrap voordat jy hom uit die huis gesluit het. Maar jy kan gaan slaap, al voel jy sleg. En hy ook (al is dit op die voorstoep). Wetende dat julle mekaar dalk sal uitkryt vir psigopate, maar weer sal vrede maak. Julle mág maar foute maak, want julle is saam in dié ding – for better or for worse.

12. Jy loop nie meer snags met jou haardroër rond nie. Daardie dae van iets hoor in die kombuis en self moet opstaan om seker te maak dit is nie ’n reeksmoordenaar nie, is verby. Deesdae is ’n elmboog in die rug genoeg. Jóú elmboog in sý rug. Dit stop ook sommer die gesnorkery.

13. Jy word geestelik volwasse. Jy weet nou wat toewyding beteken. Dit is eers wanneer ’n mens jou lewe met iemand deel, dat jy die begrip werklik verstaan. En “dit is eers wanneer ’n mens verstaan dat eksklusiwiteit en permanensie kernelemente van God se meesterplan vir die huwelik is, dat jy die belangrike rol kan verstaan wat toewyding (commitment) in die huwelik speel,” meen Floris.

14. Dodelike afsprake is iets van die verlede. Destyds het jou getroude vriendin vir jou ’n afspraak gereël met die woorde: “Julle gaan só goed bymekaar pas” en die enigste rede hiervoor in haar kop was dat jý enkellopend is en dat hý enkellopend is. Die feit dat jy ’n adrenalien-junkie met vier katte is en hy ’n skaakkampioen met ’n allergie vir enigiets viervoetigs is, het blykbaar nie by haar opgekom nie.

15. Jy hoef nie meer te impress nie. Vergete is die dae toe jy die goudprys slaafs gevolg het om jou aanstaande se pa te beïndruk. En na vier probeerslae ’n gekoopte melktert in een van jou eie tertbakke geskep het om sy ma se guns te wen. Deesdae weet jou skoonpa jy lees veel eerder ’n skindertydskrif vóór Time Magazine en wanneer jou skoonouers kom kuier, is dit uiteet of take-aways.

16. Alles is goedkoper. Jy hoef nie meer self jou eie kar, woonstel en elektrisiteitsrekening (en so meer) te betaal nie. Getroude mense maak nie net meer geld nie, hulle bestuur ook hul inkomste beter. Hoe langer julle getroud bly, hoe meer bates maak julle bymekaar. Die huwelik beteken ’n beter huis, beter kar, meer vakansies en so meer.

17. Jy gaan langer leef. Daar is bewys dat enkellopende persone heelwat meer gereeld siekverlof neem en nie so lank leef soos getroudes nie. Dít ten spyte van al die bredies en die springmielies voor die televisie. Getroudes ly ook minder aan depressie. Die wonderkrag van die huwelik is veral later in die middeljare sigbaar. Daar word beweer dat nege uit tien getroude ouens wat steeds op die ouderdom van 48 leef, tot op 65 sal leef. Dít teenoor net ses uit tien enkellopende ouens. Nege uit tien vroue wat op 48-jarige ouderdom nog leef, sal senior burgers word, teenoor agt uit tien geskeide of enkellopende vroue.

18. Jy hoef nie meer “in te klok” nie. Verby is die dae wat jou ouers van jou kan verwag om hulle te laat weet sodra jy veilig by jou woonstel is en jou ma vir jou kan sê jy lyk moeg. Ja, sy gaan dit tien teen een nog doen, maar jy steur jou bloot net minder daaraan. Jy hoef ook nie meer oor jou hele naweek te rapporteer nie en deesdae pop hulle nie meer by jou in sonder om te bel nie!

19. Jy hoef nie meer jou nosey tannie te ontduik nie. Wanneer jy haar noodgedwonge raakloop by familiegeleenthede, hoef jy nie meer agter die tuindwerg weg te kruip om weg te kom of haar teistering te ontduik nie. Geen meer: “Wanneer trou jy nou?” nie. Jy kan fokus op die moesie langs haar neus en jou verlekker in haar tekort aan woorde noudat jou huwelikstatus nie meer sensasie aan haar lewe verleen nie.

20. Julle verhouding rus onder God se seën. Hoe lekker om te weet dat julle huwelik ’n heilige instelling van God is. Dat Hy julle bymekaar gevoeg het met die idee om een te word. Dit laat ’n mens nogal spesiaal voel. En uitverkore.

21. Dit is romanties. Om jou storieboek liefde te vind, is só romanties. En ja, min dinge is so romanties soos ’n troue, maar die romantiek van ’n lewenslange verhouding strek veel verder as dit. “Die respek en toewyding wat saam met ’n formele huwelik kom, kan die romantiese waarde van ’n paartjie se verhouding verhoog,” meen essortment.com. Dit is lekker om elke dag langs iemand wakker te word wat gekíés het om hul lewe met jou te deel.

22. Daar is nie skuldgevoelens nie. Ja, ons leef in die 21ste eeu en ja, tye het verander. Maar ten spyte hiervan is daar soveel paartjies wat saambly en skuldig daaroor voel. As jy getroud is, lewe jy skuldvry en rus in die wete dat dít is hoe God dinge wil hê. Dat jy die instelling eer wat eeue lank al met ons is en waarbinne jy veilig kan voel.

23. Jy verloor nie jou onafhanklikheid nie. Daar was die dae toe jy jouself as’t ware opgeoffer het die dag toe jy getroud is. Jy het jou vryheid prysgegee en skielik was jy iemand se “besitting”. Vandag het jy al die voordele van getroud wees en steeds die vryheid om te wees wie jy wil wees en jou drome uit te leef.

24. Jy het iemand wat jy met jou lewe kan vertrou. Dit is iemand wat dáár gaan wees vir jou, in goeie tye en in slegte tye (of iemand wat minstens beloof het om dit te doen). Dit is iemand by wie jy sonder grimering kan rondloop, met wie jy jou stormagtige verlede kan deel en kan rus in die wete dat daar geen oordeel is nie. Dit is iemand wat jy kan vertrou om die leer vir jou vas te hou.

25. Jy is veiliger. Op city-journal.org skryf Maggie Gallaghar in haar artikel “Why marriage is good for you” dat die huwelik ’n man en vrou se kans om slagoffers van geweld te word, verlaag. ’n 1994-studie bewys dat enkellopende en geskeide vroue vier tot vyf keer meer geneig is om slagoffers van geweld te wees as getroude vroue.

26. Jy het ’n helper. Dankie tog ons leef nie meer in die era van tradisionele rolverdeling nie. Wanneer jy jou dagtaak voltooi het, weet jy jy kan terugkeer huis toe na ’n man wat dalk ’n bondel wasgoed in die wasmasjien gesit het, onthou het om melk te koop of selfs net vir jou ’n bad getap het. Jy het iemand wat jou nuwe laptop vir jou kan installeer en jou kan leer hoe ’n mens vloerlyste vassit. En jy help hom weer om sy admin uit te sorteer of jy leer hom hoe om ’n ordentlike skaapbredie te maak.

27. Jy is gesonder. Hartversaking kan ’n man se lewensverwagting met amper ses jaar verkort, terwyl enkellopendheid amper tien jaar van ’n man se lewe steel! Siek mense wat getroud is, leef ook langer as hul ongetroude eweknieë. Wetenskaplikes het boonop bewys dat gelukkig getroude paartjies beter funksionerende immuunstelsels het. ’n 2006-studie deur die Universiteit van Kalifornië het bevind dat enkellopende mans vyf keer meer geneig is om aan aansteeklike siektes te sterf en amper 40% meer geneig is om te sterf aan hartversaking.

28. Hy hou jou by jou sinne. Ja, glo dit! Die huwelik is goed vir jou geestesgesondheid (al glo jy dit kwalik!). Getroude mans en vroue is minder depressief en angstig as enkellopende vroue of weduwees, het ’n Amerikaanse studie getoon. Egskeiding verlaag mans en vroue se geestesgesondheid en selfbeeld.

29. Dit maak jou gelukkig! Altesaam 40 persent van getroude mense, teenoor ’n kwart enkellopendes of mense wat saambly, sê hulle is “baie gelukkig” met die lewe in die algemeen. Getroude mense is ook die helfte so geneig as ongetroudes om te sê hulle is ongelukkig met hul lewens. ’n Onlangse studie deur ’n Australiese universiteit toon dat getroude mans gelukkiger is as ongetroude mans. Om die waarheid te sê, getroude mans is 135% meer geneig om ’n hoë gelukkigheidsyfer te rapporteer as enkellopende mans.

30. Getroudwees beteken meer seks! Televisiereekse soos Sex in the City wil aan enkellopendes voorhou dat lewe sonder bande die “lekker lewe” is, maar getroude mans en vroue het verklaar dat hulle ’n baie meer bevredigende sekslewe het as enkellopendes of paartjies wat saamwoon. Boonop is getroude mense meer geneig om ’n sekslewe te hê!

31. En beter seks! Hmm, in die flieks lyk one night stands miskien aanloklik, want dit is opwindend en impulsief, maar in die werklike lewe is ongetroude seks maar saai. Twee mense probeer mekaar op ’n lomp manier gelukkig maak en sukkel om mekaar se volgende stappe te antisipeer. Getroude mense, daarenteen, ken mekaar, hulle het ’n aanvoeling vir mekaar se lywe en ken mekaar se fantasieë. Gevolglik is getroude seks dus veel beter as ongetroude seks!

32. Jy het iemand om jou kinders mee saam groot te maak. Die meeste mense is dit eens: Die werk van ’n enkelouer is die moeilikste op aarde! Dit is geen grap om alleen in die nag op te staan wanneer hulle siek is, hulle alleen vir die eerste keer by die kleuterskool af te laai of genoeg geld bymekaar te kry vir ’n universiteitsloopbaan nie. Boonop het kinders manlike en vroulike invloed nodig. Soveel enkelouers kry dit reg om alleen kinders groot te maak, maar dit is soveel makliker as ’n pa en ma kan saamwerk.

33. Jou hartseer verminder. En jou blydskap vermeerder! Om ’n maat te hê wat jou ondersteun, met wie jy kan praat en dinge deel, is iets waarna almal van ons streef – selfs dié wat meen hulle kan daarsonder klaarkom. Selfs jou seerste seer is makliker om te dra as jy iemand langs jou het wat vir jou omgee. En om wonderlike nuus met jou maat te deel? Dit is onoortreflik!

Daar het jy dit! Natuurlik is daar ook talle argumente téén die huwelik en is daar talle mense wat beweer dat die huwelik net ’n stuk papier is. Moet jou nie laat flous nie. “Iets aan die huwelik as ’n sosiale instelling, ’n gedeelde strewe en ’n openbare, wettige belofte, gee die huwelik die mag om individue se lewens te verander,” skryf Maggie.

Dit gee jou die selfvertroue om te glo jy kan alles vermag. Soos Maggie inderdaad sê, getroude huishoudings het dubbel die talent, dubbel die tyd en dubbel die werkskapasiteit as enkellopendes. Boonop gee dit aan jou ’n gevoel van betekenis en ’n doel in die lewe. En die motivering om harder te werk gedurende dié tye wat die huwelik nie só lekker is nie. Dit verander die manier waarop mense na mekaar, die toekoms en hul rol in die gemeenskap kyk.

Natuurlik is daar mense wat nie soveel voordele van die huwelik kan opnoem nie. Natuurlik is daar mense wat vasgevang word in ’n ongelukkige huwelik. Maar kyk net wat kan ’n huwelik vir jou inhou as dit gelukkig is. As dit nie 33 redes is om aan jou huwelik te werk nie, dan weet ons nie! Twee is inderdaad beter as een.

***
Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!