Februarie is sinoniem met Valentynsdag. As jy vanjaar ’n kreatiewe droogte beleef, het ons ’n paar idees vir hoe om jou maat te bederf.

Vir sommige mense is dit tweede natuur om hul mans of vroue (gereeld) van kop tot tone te bederf. Ander wil in sak en as gaan sit as Februarie sy kop uitsteek met Valentynsdag wat voorlê, want dit beteken dat dit tyd vir nuwe planne en idees is. Party vergeet eenvoudig van dié dag en ander voel weer dat dit ’n dag is waaruit nét Hallmark geld maak.
Hoewel INTIEM glo dat élke dag Valentynsdag moet wees, gee ons ’n paar bederf-idees vir Manlief en Vroulief. Jy hoef dit natuurlik nie nét op Valentynsdag te gebruik nie, en daar is ook ’n paar opsies vir dié wat nie daarvan hou om Valentynsdag te vier nie.

Idees vir jou:

1. Reël met sy baas dat hy hom na ’n ‘konferensie’ toe stuur by ’n sekere gastehuis (naweek of nie). Bespreek dan ’n kamer by dié gastehuis en sorg dat daar roosblare op die bed en sjampanje op ys is – en natuurlik wag jy in jou geboortepakkie op die bed. As hy die deur van die kamer oopmaak: verrassing! Bring die dag saam deur – julle hoef natuurlik nie jul neuse by die deur uit te steek nie en die sjampanje kan ’n lafenis na ’n uitputtende liefdespel wees.

2. As jy met min moeite ’n groot impak wil maak, maak ’n lys van 15 dinge waarom jy vir jou man lief is, of waarom hy wonderlik is. Skryf dit dan neer op afsonderlike papiertjies en los dit vir hom op verskillende plekke: By sy tandepasta, in sy beursie, in sy kar, onder sy kussing . . .

3. Valentynsdag is dalk nie spesiaal op Manlief se kalender gemerk nie, maar jy sien vreeslik daarna uit. Hoe nou gemaak? Probeer iets onkonvensioneel wat vir julle albei ure se lekkerkry kan verskaf. Sê vir Manlief hy hoef oor niks bekommerd te wees nie, want jy is in beheer, hy moet net sorg dat hy teen 19:00 by die huis is. (Stuur hom om te gaan gholf speel as dit naweek is). Gooi ’n matras met ’n sysagte laken op die vloer, maak ’n goeie bottel rooiwyn oop, kry ’n paar peuselgoedjies reg (julle mag dalk honger word), en die belangrikste van alles, maak seker dat julle ’n pak kaarte het – vanaand gaan julle strip poker speel! Lê verleidelik vir hom en wag op die matras en begin die kaarte deel as hy by die deur instap. Julle maak self die reëls oor wie trek wat wanneer uit!

4. As Manlief van Valentynsdag vergeet het, gaan bederf jouself by La Senza en skaf ’n sexy, onweerstaanbare kantnommertjie aan. Só ’n bederf sal jou sommer baie beter laat voel. Vanaand, wanneer Manlief niksvermoedend in die bed klim, glip jy gou in die badkamer in en trek dit aan. Spring dan in die bed en verlei hom soos net jy kan! Hoekom sal jy dit wou doen as hy jou afskeep? Wel, jy wil tog seker maak dat hy nie wéér ’n Valentynsdag vergeet nie! Twee vlieë met een klap!

5. Kry ’n veerpyltjiebord en plak ’n kaart van jul dorp of omgewing daarop. Blinddoek hom en laat hy ’n veerpyltjie gooi. Waar die pyltjie land, daarheen gaan julle. Dit kan ’n daguitstappie wees, of julle kan daar oornag. Om dit meer opwindend te maak, huur ’n luukse motor, pak ’n piekniekmandjie en rooiwyn. Stop dan langs die pad en hou piekniek, of bespreek by ’n luukse oord en bederf julself met ’n romantiese ete en ’n massering vir albei.

Idees vir Manlief

Al is Valentynsdag vir jou ’n klomp onsin, onthou, dit gaan nie net oor jou nie. Offer een aand op om Vroulief te bederf – Valentynsdag gaan immers daaroor om jou maat te bederf. Hier is ’n wenresep wat min moeite vereis, maar wat wonderlike resultate sal oplewer.

1. Koop ’n geskenksakkie en pak die volgende daarin: haar gunsteling sjokolade, die nuutste chick flick (mits sy dit nog nie gesien het nie), ’n brief waarin jy haar vertel hoe jy oor haar voel, ’n nuwe nagrokkie (maak seker jy koop die regte grootte) en badskuim. Kyk saam met haar die fliek en voer haar die sjokolade. Tap daarna ’n lekker warm bad vol badskuim en bad saam. Laat sy haar nagrokkie aantrek en lei haar bed toe – ons het nie gesê dat jy nie ook bederf gaan word nie! Die brief kan sy bêre om dié aand vir altyd te onthou!

2. Vroulief smeek al hoe lank om vir danslesse te gaan, of na ’n klub toe waar julle kan tango en salsa tot die son opkom, maar jy skop altyd teen dié idee vas. Nou is jou kans om haar te beïndruk! Bespreek ’n dansklas vir julle en los vir haar ’n nota om te sê dat sy teen 18:00 ’n sexy rok met hakskoene moet aanhê, want jy het ’n verrassing vir haar . . . Jy kan haar ook vir ’n romantiese ete uitneem en daarna by ’n klub gaan tango as jy nie vir ’n ‘formele dansles’ kans sien nie.

3. As Vroulief groen vingers het, neem haar vir ontbyt by ’n kwekery (die meeste kwekerye het deesdae koffiewinkels) en gaan koop saam ’n boom of ’n paar plantjies. Gaan berei saam met haar ’n spesiale plekkie in die tuin voor en plant dit wat julle gekoop het. Die plekkie kan dan jul ‘liefdestuin’ wees en julle kan deur die jaar die plantjies dophou wat groei soos wat jul liefde vir mekaar groei. Plant nog ’n plant op die volgende Valentynsdag, totdat jul liefdestuin eendag so groot soos jul liefde vir mekaar is.

4. Skryf al die dinge wat sy graag wil doen, of waarvan sy hou, op afsonderlike papiertjies. Gooi dit in ’n houer en vra vir haar om een te trek. Doen die aktiwiteit dan saam – al beteken dit dat jy dalk die hele dag in klerewinkels gaan deurbring!

5. As jy ’n tipiese man is en eers teen middagete onthou het dat dit Valentynsdag is, bel of stuur ’n sms , of ’n e-posboodskap aan haar gunsteling radiostasie, met ’n versoek om haar/jul gunsteling liedjie te speel. Dit kan jou dálk net red, so maak seker dat dit die radiostasie en ’n program is waarna sy luister!

Valentynsdag is ’n wonderlike dag om jul liefde vir mekaar te vier, maar onthou, élke dag moet Valentynsdag wees! Dra mekaar altyd op die hande en wees goed vir mekaar. Niks keer jou om van hierdie idees ook gedurende die jaar te gebruik om jou man of vrou te bederf en ekstra spesiaal te laat voel nie.

As julle dalk voel dat Valentynsdag ’n Hallmark-geldmaakdag is, doen iets saam wat meer betekenis het: skenk bloed, gaan help by ’n kinderhuis, of gee ’n donasie aan ’n welsynsorganisasie – laat jul liefde vir mekaar na ander in nood oorvloei en maak ’n punt daarvan om dit elke jaar te doen. Valentynsdag is dan maar net ’n maklike manier om julle hieraan te herinner.

Addisionele bronne: www.ehow.com; http://hubpages.com
Artikel deur Hesca Joubert