Sukkel jy om ’n gesonde gewig te handhaaf? Raak jy pal siek? Lees hier . . .

Naas die voedingstowwe wat jy vir jou liggaam moet gee, is dit ook belangrik om jou lyf se hongerskaal en gesonde eet gewoontes te leer ken.

Leer ken jou hongerskaal
As iemand vir jou sê: “Eet wanneer jy honger is en stop as jy versadig is”, klink dit dalk vir jou vreemd en verwarrend. Dié metode is ’n manier wat jou sal help om weer in voeling met jou liggaam te kom. Dit word die hongerskaal genoem. Jou motor se brandstoftenk is ’n goeie vergelyking met dié skaal.

Hierdie skaal sal jou in staat stel om fisiese honger te erken. Dit loop vanaf -10, wat beteken dat jy rasend honger is, tot by +10, wanneer jy trommeldik is. Nul is neutraal – jy is dus nie honger nie, maar ook nie versadig nie. Jy het nodig om na hierdie skaal te verwys op dieselfde manier as wat jy sal kyk na jou motor se brandstoftenk.

Sodra jou liggaam -2 bereik, is dit tyd om iets te eet, maar sodra jy +2 bereik, hou jy op met eet, al is dit in die middel van ’n maaltyd. Dit is verbasend hoe min kos ons nodig het sonder om fisies honger te ly. Moenie jou liggaam bevraagteken nie, leer dit net ken. Jy sal die tekens ervaar in jou lyf en tevrede voel sonder om oorversadig te wees. As jy hierdie belangrike riglyn kan volg, sal jy nooit weer oorgewig in jou lewe wees nie!

Dis nie altyd maklik aan die begin nie, want as jy op +2 stop, sal jou negatiewe gedagtes en emosies van die verlede dreig om die oorhand te kry. Om op +2 te stop, is die eerste mylpaal tot sukses. Jy respekteer jou liggaam en jy en jou lyf is aan dieselfde kant. Só sal julle saamwerk om die vetjies af te skud. Solank jy en jou liggaam in ’n oorlog teen mekaar gewikkel is, sal jy nooit die geveg wen nie.

Die struktuur van die hongerskaal
• Eet ses klein maaltye per dag minstens elke drie uur uit mekaar. (Twee van hierdie maaltye kan iets soos ’n hoë proteïen-stafie of ’n skommel wees).
• Eet ’n porsie komplekse koolhidrate en ’n porsie proteïen met elke maaltyd.
• Sluit ten minste een porsie groente in by drie van jou maaltye.
• ’n Porsie is die grootte van jou handpalm of vuis – die werklike grootte van jou maag.
• Drink ses tot agt glase water elke dag, dis goed vir jou!

Leer waar jou honger vandaan kom
Hoe tref ons die onderskeid tussen die sensasie van honger en ’n honger gevoel? Die sensasie van honger is biologies en fisies, en word veroorsaak wanneer jou lyf se tenk leeg raak. Net jy kan die konneksie maak oor waar jou lyf staan op die hongerskaal. Emosionele honger kan baie dieselfde as fisiese honger voel, maar die gevoel lê eerder in jou hart. Dit is baie belangrik om die twee van mekaar te onderskei. Emosionele eet om die leemte te vul, vererger die honger in ons harte.

Die vier tipes eetgewoontes wat ons kry
Sodra jy ’n beter verhouding met jouself het en die hongerskaal kan toepas, sal jy agterkom dat jy soms wil eet as jy nie honger is nie. Dit kan gebeur as jou weerstandsvlakke laag is en jy iets wil eet om beter te voel, of as iemand kos voor jou neersit en die versoeking raak groot. Moenie dat dit jou ontmoedig nie. Dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie. Daaruit leer jy oor jou eetpatrone, wat weer insig tot jou emosionele lewe sal gee.

Deur jou eetgewoontes in kategorieë te kan plaas, kan jy evalueer en verstaan wanneer jy nie eet volgens jou liggaam se hongerseine nie. Dit gee ook ’n goeie aanduiding van wat jy eet. Daar is vier verskillende kategorieë: Eet vir energie, eet vir plesier, onbewuste eet en storm-eet. Elke happie wat jy eet, val in een van dié kategorieë.

1. Eet vir energie: 90% van die tyd
Ons het nodig om te eet vir optimale energie. Energie-kos is ryk aan voedingswaarde en voedingstowwe. Maaltyd-aanvullings is baie gewild. Hoë proteïen-stafies, skommels en vitamienaanvullings is ontwikkel om ’n gebalanseerde eetplan te komplementeer. Dit is gerieflik om ’n stafie in jou handsak te hou vir ’n noodgeval. Geprosesseerde- en kitskos kan vergelyk word met ’n lui, onbekwame werker wat jy in diens geneem het en jou skade aandoen.

Reëls
• Iets wat jy graag wil eet en wat jou liggaam nodig het.
• Begin eet by -2 en stop by +2 op die hongerskaal.
• Eet 90% van die energie-kossoorte.

2. Eet vir plesier: 10% van die tyd
Eet vir die lekker – dit gaan niks doen vir jou lyf nie, maar proe fenomenaal. Koek, lekkers, roomys en southappies val in dié kategorie. ’n Mens het nodig on nou en dan net vir die plesier daarvan te eet, want dit is een van die redes hoekom ’n kitsdieet met sy beperkings nie volhoubaar is nie. Op ’n verjaardag-partytjie deel jy in ander se vreugde deur ’n stukkie koek saam met hulle te eet.

Reëls
• Eet vir die lekker 10% van die tyd.
• Beplan vir iets waarvoor jy regtig lus is.
• Geniet elke happie en hou op met eet sodra jy dit nie meer geniet nie.
• Nadat jy plesierkos geëet het, gaan terug na energie-kos wanneer jy honger is.

3. Onbewuste eet
Dit is die springmielies wat jy in die fliek verorber, die skyfies voor die televisie en die “proe” terwyl jy besig is om te kook. Jy geniet dit nie, want jy kom skaars agter dat jy eet. Dis soos om agter jou eie rug te eet. Dit is nie pret nie en dra glad nie by tot jou liggaam se welstand nie. As jy eet – wees bewus daarvan.

4. Storm-eet
Dit is soos ’n storm – jy voel totaal buite beheer. Jy weet jy ooreet, maar kan nie stop nie (binge). ’n Storm begin en eindig ook gelukkig. Dit kan gebeur omdat jy jouself ontneem van sekere kosse en dit ervaar as ’n skaarste, of dit kan ’n aanduiding wees van emosies en gevoelens dat dinge buite beheer is. Die belangrikste ding om te onthou as dit gebeur, is om jouself nie te veroordeel nie. Dit gee jou kans om uit te vind hoekom dit gebeur.

Om gesond te wees gaan oor meer as net wat jy eet.
Gesonde eet gewoontes is noodsaaklik, maar hoe jou liggaam die kos wat jy eet verwerk is net so belangrik. As jou derms geïrriteerd is, voel jy dalk opgeswel en ongemaklik en jy ervaar konstipasie of diarree en die voedingstowwe wat jy inneem kan nie op ’n gesonde wyse geabsorbeer word nie. Sunpharma se Bowel Balance kan hierdie simptome verlig en jou daaglikse roetine regstel sodat jy daarop kan fokus om die gesondste jy te wees.

Kos en ’n maer lyf hoef nie jou lewe te beheer nie. Om die gesondste jy te wees beteken om fisies, emosioneel en geestelik gesond te wees. ’n Gesonde liggaam en eetplan is slegs een belangrike aspek van werklik gesond wees. Jjou liggaam en gees dui vir jou die pad aan.

Bron: Castillo B. If I am so smart, why can’t I lose weight: Tools to get it done. BookSurge, 2007.

Artikel deur Annelize Steyn en Melissa Janse van Rensburg