Ek en my vriend (onderskeidelik 22 en 23) bly saam, maar dit dra glad nie my ma se goedkeuring weg nie. Sy voel ek maak my oop vir probleme en sê dit strook nie met haar beginsels nie. Die probleem is: My ma is geskei en bly die afgelope drie jaar self saam met iemand van die teenoorgestelde geslag!

Sy sê sy sal nooit weer die fout maak om te trou nie. Hulle is al die rype ouderdom van 67 en my ma sê hulle is bloot maats en geselskap vir mekaar, en dat dieselfde reëls glad nie vir my geld as vir haar nie. Sy sê sy wil sien dat ek ’n regverdige kans op ’n gelukkige huwelik het. Nou wil ek graag hoor: Is ons situasies werklik verskillend? Ek wil haar nie teengaan nie, maar ek voel sy behoort te vertrou dat ek die regte keuses sal maak.

Kobus en Linda Pauw, verhoudingsafrigters, antwoord:

Die wêreld van vandag het baie verander en mense sien dikwels dinge deur verskillende brille, en hierdie verskille lei tot konflik en frustrasie by paartjies.

Die vraag is nie noodwendig wat jy of jou ma sê nie, maar wat die Woord van die Here in hierdie geval sê. Dit is wel so dat die Woord nie spesifiek praat oor saamwoon voordat paartjies trou nie, want dit was nie van toepassing in daardie tyd nie. Wat die Woord wel sê, is dat ons seksueel rein moet bly en dat die seksuele wel daar is om te geniet, maar binne die grense van ’n huwelik. Daar rus seën op só ’n huweliksverhouding omdat die Here die verbond tussen die paartjie raaksien en die verbond seën.

Die Woord dui verder aan dat ons onsself nie in plekke moet sit waar daar versoeking is nie en dat ons van hierdie versoekings en plekke moet wegvlug. Moet dus nie ’n plek skep waar daar vastrapplek vir die duiwel kan wees nie. As mense só ’n plek skep, skop hy sy hakke in en begin hy daardie persoon se lewe direk en indirek aanraak. Die Woord waarsku ons hierteen.

Verder dui die Woord aan dat ons ’n lewe moet lei wat getuig van God. Ons lewens is dikwels die enigste Bybel wat baie mense lees. Die vraag ontstaan dus wat mense lees as hulle na die situasie kyk van beide julle verhouding, sowel as jou ma se verhouding.

Ons glo dat tye kan verander, en dat mense se uitkyke en filosofieë kan verander, maar dat die Woord van die Here bly staan, of dit nou vir ons in ons moderne denke pas of nie, dit maak nie saak nie. Die Woord van die Here bly staan en is gister, vandag en môre dieselfde. Die Here pas nie by tye en giere aan nie, Sy Woord staan.

Só ons antwoord is dat ons nie dink dat jy of jou ma die regte ding doen soos wat die Here vir ons in die Woord vra nie. As julle dan wil saamwoon, trou. Pasop dat die wêreld se manier van dinge doen en ons behoefte aan aanvaarding nie daartoe lei dat ons kompromieë aangaan waaroor ons later spyt gaan wees nie.