Assosieer jy tatoeëermerke met motorfietsryers wat soos Vikings lyk? Dink weer. ’n Tatoeëermerk op ’n strategiese plek aan jou lyf kan dinge in die slaapkamer opwakker. Jy hoef nie te sweet in ’n donker tattoo parlour nie (om die waarheid te sê, jy móénie!). Daar is allerlei verskillende maniere om nie-permanente tattoos op baie interessante plekke op jou lyf aan te bring.

Angelina Jolie, Pink, Lady Gaga, noem maar op – van die sexyste film- en musieksterre se lywe is spieëlbeelde van hulle mislukte verhoudings, liefdeswoorde, uitbeeldings van tiere, diere of mense en slagspreuke waarin hulle glo.

Om ’n geliefde se naam op jou lyf te tattoo kan slegte nagevolge hê. Veral as dié liefde nie hou nie. Daar is niks erger as om die naam “Mike” op jou boud getatoeëer te hê as jou man se naam “Dirk” is nie. Baie mense glo ook sodra jy jou geliefde se naam op jou lyf getatoeëer het, is die verhouding verdoem. Jy hoef egter nie só ver te gaan om jou liefde aan manlief te bewys nie.

Nie-permanente tatoes is egter ’n lekker prettige manier om vir manlief te wys jy is nie net soetkoekies en strooisuiker nie!

Wat is ’n nie-permanente tatoeëermerk?

Daar bestaan verskeie soorte wat jy self kan aanwend. Al waaroor jy moet besluit, is oor wáár en hoe. Die meeste nie-permanente tatoes was binne drie tot vyf dae self af of kan met ’n spesiale oplossing afgewas word. Sommige hiervan verg dalk bietjie oefening, maar as jy eers die kuns bemeester het, kan jy die een week met ’n hartjie spog en die volgende week met ’n skoenlapper!

Só doen jy dit!

• Kry vir jou ’n aanvryf- of aanplak-tatoeëermerk by ’n winkel. Jy kan dit ook op die Internet bestel. Met nie-permanente tatoes wat maklik afwas, kan jy spelfoute vermy asook ’n tatoeëerkunstenaar wie se hand gebewe het. En dan natuurlik ook die bokkie op die bors wat oor twintig jaar soos ’n kameelperd lyk!

• Sommige webtuistes spesialiseer in stoute tatoes wat bedoel is vir die privaat dele van jou lyf. Só kan jy ’n tattoo aanbring op jou pubislyn, jou boud, jou borste of enige ander plek waar die plakker ’n dag of twee sal hou (wrywing teen die klere laat die plakkers vinniger afval – so raak kreatief en gewaagd met die aanwending vir ’n tattoo wat langer hou!).

• Koop verskillende letters en spel manlief se naam op jou lyf uit. Jy kan ook ’n boodskappie vir hom “skryf” met ’n stoute opdrag oor wat jy wil hê hy met dié spesifieke liggaamsdeel moet aanvang. Dink byvoorbeeld aan ’n uitlokkende boodskap op jou lae rug wat manlief kan lees wanneer jy buk om iets uit die vrieskas te haal. Of die punt van ’n sexy tattoo wat tussen jou borste uitsteek.

• ’n Aanspuit-tatoe kan tussen een en tien dae hou, afhangende van waar jy dit aanspuit. Dit verg bietjie meer oefening om dié tegniek te bemeester, so kry liefs ’n goeie vriendin om jou te help. ’n Aanspuit-tatoe is veilig om te gebruik en hou gewoonlik langer op droë as olierige velle. Met dié tegniek gebruik jy stensils om die tattoo met ink aan te spuit. Dit lyk soos die ware Jakob en kan nie omkrulhoekies kry, soos wat die gevaar is met die aanplak-tatoes nie. Aanspuit-tatoes is dalk ’n beter roep vir die meer strategiese plekke op jou lyf. Jy kan selfs ’n aanspuit-tatoe in jou lies sit.

• Skryf vir jou man ’n uitlokkende sms wat hom ’n aanduiding gee oor waar om vanaand te kyk vir jou nuwe tatoe. Jy kan ’n lyf-skattejag ontwerp, met boodskappe of clues oral op jou lyf wat hom na die eerste prys tussen jou bene toe lei. As jy baie braaf is, kan jy vir ’n vol Brasiliaanse waks gaan en ’n tattoo dáár aanbring. Dink hoe verras sal jou man wees!
• Henna-tatoes is baie gewild en kan enigiets van 10 dae tot drie weke hou. Die Henna-tatoe staan bekend as die kuns van lyfverf en het oorspronklik in Indië ontstaan. Die ontwerpe vir ’n Henna-tatoe is eindeloos. Dit is onskadelik en lyk natuurlik. Jy kan dit deur iemand professioneel laat doen of dit self doen as jy kunstig genoeg is. Jy moet fyn kan werk met ’n verfkwas. Die voordeel van Henna-tatoes is dat jy letterlik op enige plek op jou lyf kan “teken”. Dit word veral gebruik om eksotiese en etniese ontwerpe op jou lyf te verf. Henna-tatoes word meestal op vroue se voete, hande en arms geverf, maar kan op enige plek op jou lyf aangebring word. Dié tatoes kan baie mooi lyk as ’n bykomstigheid vir ’n aand uit. As jy byvoorbeeld ’n mooi patroon op jou hande laat verf en ’n bypassende rok aantrek, kan dit jou man twee keer laat kyk. Jy kan dan op ’n meer intieme plek ’n spesiale tattoo slegs vir hom aanbring en hom heelaand daaroor laat wonder.

• Tepelplakkers val nie onder tatoes nie, maar is ’n baie sexy manier om jou borste vir manlief te versier. Dié plakkers is beskikbaar in verskillende ontwerpe wat jy reg rondom jou tepel plak. Dit kom ook met ’n bypassende juweeltjie wat jy op ’n ander plek op jou lyf kan plak. Die plakkers kan as ’n baie sexy en waaghalsige bikinitop gedra word. Dink net hoe jou man gaan reageer as hy jou met twee see-anemone oor jou tepels soos ’n model langs die swembad sien lê! (Maak net seker dis wettig om net die areola van jou tepels toe te maak as jy dit op die strand wil dra.) Dit kan ook onder deurskynende onderklere gedra word. As jy al ooit ’n ontkleesessie vir jou man wou hou, maar nie seker was hoe om dit op te spice nie, is tepelplakkers die perfekte manier om die ontkleedanseres in jou uit te bring.

• ‘n Semi-permanente tattoo hou vir jare in plaas van dae. Dit is baie meer permanent as plakkers, verf of aanspuit-tatoes, so jy moet mooi dink voor jy ’n semi-permanente nommertjie op jou lyf aanbring. Dit word gedoen met die gebruik van ’n tatoegeweer wat kleurpigmente onder jou vel aanbring en jy ondervind wel ’n bietjie pyn met dié metode. Dié tatoes is veronderstel om oor die jare te bleik tot daar later glad nie meer ’n merk is nie. Die ink word nader aan die oppervlak van die vel aangewend of ink wat met die verloop van tyd bleik word gebruik. Daar is wel ’n kans dat dié tatoes nie heeltemal bleik nie, so wees voorbereid daarop dat jy dalk nie daarvan ontslae kanraak nie.

Besluit watter een van dié opsies vir jou gaan werk, besluit op ’n patroon en drink ’n glas wyn! Manlief gaan beslis verras wees en as dit vir hom werk, kan jy elke nou en dan met ’n nuwe tattoo spog.

Besoek die volgende webtuistes vir jou eie tattoo:

www.matildas.co.za; www.bluemoontattoos.co.za; www.temporarytattoo.co.za; www.hennatattoos.co.za; www.scenic-heart.co.za

Addisionele bronne: justfortonight.com, esensuality.com, pastease.com, hennaweb.com.

Artikel deur JANA ENGELBRECHT