In vandag se tyd is dit baie maklik om jouself in die kuberruimte te verloor. Elke vraag wat jou kwel, se antwoord dryf iewers op ’n webtuiste rond en is beskikbaar met die aanraking van ’n selfoonskerm. Daar is duisende, indien nie miljoene, artikels oor borsgesondheid en inligting wat deur nie-kenners geadverteer word en ’n mens moontlik kan mislei. Hierdie artikel gaan meer fokus op gesondheid rondom bors-prosedures, beide kosmeties en rekonstruktief.

Dit is altyd belangrik om deeglike navorsing te doen oor enige chirurgie wat jy moontlik wil ondergaan. Geen prosedure is ’n besluit wat ligtelik geneem moet word nie – dit is ’n proses, ’n pad wat jy saam met jou dokter moet stap.

Die eerste stap in hierdie proses is om ’n dokter te vind met wie jy gemaklik voel en by wie jy die vrymoedigheid sal hê om vrae te vra. Moenie skaam wees nie – jou dokter sal die prosedure aan jou verduidelik, asook vir jou ’n idee kan gee van die eindresultate en van enige komplikasies wat jy moontlik kan ondervind.

Die meeste van ons bors-prosedures vereis nie meer in vandag se tyd oornag-hospitaalverblyf nie. Ons gebruik vir amper al ons kosmetiese prosedures en sommige rekonstruktiewe prosedures die Cure Dagkliniek in Erasmuskloof. Sodoende spaar ons vir ons pasiënte geld, maar bied nog steeds uitmuntende sorg vir elke pasiënt.

Ek kry daagliks vrae oor borsgesondheid, veral oor prosteses en die verwagtinge sowel as die newe-effekte rondom die gebruik daarvan, en ek wil graag van hierdie punte bespreek.

1. Kan my prostese bars?
In ons praktyk gebruik ons meestal silikoon-gel prosteses. Hoewel daar in die verlede baie debat was rondom die gebruik van soutwater-prosteses teenoor silikoon, het silikoon-prosteses baie ver gekom in die moderne tyd. Vervaardigers doen aanhoudend studies en strestoetse om vir pasiënte die natuurlikste gevoel en sterkste produk op die mark te verskaf.

In die meeste gevalle waar wel lekkasies van die prostese plaasvind, is dit omrede daar moontlik ’n vou in die prostese-wand gevorm het en dit met tyd wandverswakking veroorsaak. Dit gebeur egter in die minderheid van gevalle. Moderne prosteses se lewensduur het verbeter teenoor die prosteses van 15 jaar gelede, en dit het ’n leeftyd van 30 jaar of langer.

Die silikoon-gel in vandag se prosteses is ook nie ’n vloeistof nie en het ’n meer soliede komposisie. Dus, as daar wel ’n breek (of skeur) in die prostese is, bly die silikoon ongeskonde en behou die bors sy vorm en voorkoms. Dit is wel steeds nodig om elke tien jaar ’n sonar van jou borste te laat doen na ’n borsvergroting.

2. Sal ek kan borsvoed?
Baie pasiënte het geen probleem met borsvoeding nie, al het hulle prostese of ’n vorm van ’n reduksie-prosedure gehad. Daar is egter altyd ’n persentasie van pasiënte wat moontlik ’n vermindering in melkproduksie kan ervaar.

Ek raai al my pasiënte wat ’n borsvergroting, lig of reduksie wil ondergaan en binnekort kinders wil hê, aan om eerder te wag. Hoewel dit die pasiënt se keuse bly, kan niemand waarborg dat die eindresultate van so ’n prosedure langdurig sal wees na ’n swangerskap nie. Die vroulike liggaam gaan deur veranderinge en die borste se vorm en grootte verander. ’n Swangerskap kan dus ’n ongewenste uitwerking hê op jou prosedure se resultate.

3. Moet ek die prosedure na ’n paar jaar herhaal?
Afhangende van ’n pasiënt se ouderdom en lewenstyl, varieer die langdurigheid van só ’n prosedure. Die meeste van ons jonger pasiënte kom na 10 tot 20 jaar weer in vir ’n hersiening van hul borste, wat die lig van borste en ’n volume-verandering insluit. Die rede hiervoor is dat tyd dinge verander, onder andere die elastisiteit van die vel. Mettertyd sal die bors weer sak.

Sommige pasiënte ondervind skaars enige veranderinge oor ’n tydperk van 15 jaar, terwyl ander ptose ervaar in ’n baie korter tydperk. In my 24 jaar het ek minder as tien gevalle gehad waar die pasiënt se borste in ’n kort tydperk baie uitsak. Hierdie gevalle was die uitsondering en die resultaat van lae natuurlike elastisiteit van die vel. Amper al ons pasiënte ervaar egter die gewenste resultate vir ’n baie lang tydperk.

4. Ek het borskanker. Moet ek eers ’n mastektomie kry en later ’n rekonstruksie?
Danksy heelwat vooruitgang in hedendaagse tegnieke is dit in die meeste gevalle nie nodig om na ’n mastektomie vir rekonstruksie te wag nie, mits ’n pasiënt onseker is of verkies om te wag. ’n Mastektomie kan direk opgevolg word met ’n rekonstruksie deur middel van hul eie weefsel, prostese-plasing of ’n kombinasie van die twee.

Indien ’n pasiënt weens mediese redes nie ’n direkte rekonstruksie kan verkry nie, kan ons ’n weefseluitrekker plaas en op ’n latere stadium, wanneer gepas, die weefseluitrekker verwyder en met prostese vervang. ’n Sekondêre rekonstruksie kan in baie gevalle op ’n dagkliniek-basis gedoen word. Die besluit vir onmiddellike rekonstruksie word deur ’n paneel dokters gedoen. Die paneel bestaan gewoonlik uit ’n algemene chirurg, plastiese chirurg en onkoloog.

5. Hoe lank moet ek wag na ’n kosmetiese prosedure voordat ek weer normaal kan funksioneer?
Met die meeste van ons kosmetiese prosedures word siekteverlof van tien dae toegestaan. In hierdie tien dae mag die pasiënt nie bestuur nie. Die pasiënt mag vir ongeveer ses weke nie oefen nie en moet vir solank as drie maande ’n post-chirurgiese bra dra. Die meeste van ons pasiënte ervaar in die week na die prosedure ongemak en pyn, maar dit is normaal.

Ons monitor die pasiënte en waarsku hulle om uit te kyk vir tekens van ’n abnormale swelling, kneusing en rooiheid. Ek moedig my pasiënte aan om ons te kontak of enige tyd ’n opvolgbesoek te reël indien hulle bekommerd is oor hul borste. Pasiënte kan steekpyne ervaar tot so lank as drie maande na die prosedure.

Hoewel baie inligting in die kuberruim beskikbaar is, is dit altyd belangriker om ’n spesialis te gaan sien en ’n volledige en ingeligte konsultasie met die dokter te hê. Spesialiste spandeer geweldig baie tyd daaraan om kenners in hul veld te word en om vir hul pasiënte die beste sorg te gee wat hulle kan. In vandag se tyd is hierdie tipe prosedures algemeen en het dit min komplikasies.

Vir navrae oor gekwalifiseerde plastiese, kosmetiese en rekonstruktiewe chirurge in u omgewing, kan u ons vereniging se webtuiste besoek by www.plasticsurgeons.co.za, of stuur ’n e-pos aan office@aprssa.co.za. Vir meer inligting oor Cure Dagkliniek, besoek gerus hul webtuiste by www.curedayclinics.co.za. U kan ons ook gerus kontak by die webtuiste www.drtienievanrooyen.co.za.

Artikel deur Dr Tienie van Rooyen
MBCHB(PRET) MMED(PLAS SURG)(PRET)